riviersonderend

Posts Tagged ‘Amerika

Gaan orkaan Sarah die VSA verwoes?

with 29 comments

Mense. Ek kan nie langer stilbly nie, ten spyte van die beste intensies. ‘n Mens behoort nie ‘n moordkuil van jou hart te maak nie. Dus. In die gevleuelde woorde van Uil (of was dit Trapsuutjies?): “Ek wil iets sê en ek gaan dit sê.”

Sarah Palin.

Ja, daai een.

Ek hou nie van haar nie. Ek laaik haar fokol.

Net toe mens gedink het dit is nie moontlik om meer regs en onnadenkend as Shrub te wees nie (ok, Pat Buchanan tel nie, want hy het 10 jaar terug al seniel geraak), toe ontwikkel tropiese storm Sarah in die noorde.

Ek verpes populisme en populiste. Daarom hou ek nie van Jacob Zuma of Hugo Chavez nie. Hulle sê net wat mense wil hoor, sonder om werklik erns te maak met oplossings vir probleme. Daarom hou ek nie van Sarah Palin nie.

Sarah Palin het haarself oor en oor bewys as ‘n populis vir die religious right van Amerika. Sy wou as burgermeester boeke uit die biblioteek laat verban en sal dreig om jou te ontslaan as jy haar teenstaan. Sy meen ysbere behoort nie as ‘n bedreigde spesie beskou te word. Daar is mos baie, ten spyte van navorsing wat dui op die ysbeer se twyfelagtige toekoms. Sy wil Alaska die speelveld van die wêreld se oliebaronne maak.

In die jaar 2000 was daar een dorp in Alaska waar slagoffers van verkragting moes betaal vir rape kits. Die dorp? Wasilla. Die burgemeester? Sarah Palin. Sy meen verder dat slagoffers van verkragting hul verkragter se baba nie mag arborteer nie. Sy roem haar op haar patriotisme, maar ken nie basiese feite van die Amerikaanse geskiedenis nie. Haar man het met die Alaska Onafhanklikheidsparty gesimpatiseer wat afskeiding voorstaan en baie onvleiende dinge te sê het oor Amerikaners.

Hoe meer mens oor die vrou lees, hoe banger behoort mens te raak. Ek weet nie of sy al ooit enige beleidsbesluit geneem het nie, nadat sy dit rasioneel goed deurdink het.

Oor haar privaatlewe wil ek nie eers praat nie. Sy was al wel op elke tabloid in Amerika se voorblad. Vi al die verkeerde redes. Interessant, as haar tienerdogter swanger raak, dan is dit ‘n privaat familie-aangeleentheid volgens haar ondersteuners. As Britney Spears se suster swanger raak, dan lê die fout by die ouers. Aldus die ondersteuners. O ja, Sarah meen die enigste seksvoorligting wat skoolkinders moet kry, is om hulle te vertel om nie seks te hê nie. As sy nie eers die boodskap by haar eie dogter kan tuisbring nie, watse kans het Amerika met hulle simpel “abstinence” programme? Hallo! Dit werk nie. Maar nou ja, dit is wat die ondersteuners wil hoor.

Die lys gaan egter aan – daar is ook die Troopergate skandaal. Lyk my Sarah is nogals iemand wat graag dreig om mense te ontslaan as hulle met haar verskil…

Hoe op dees aarde kan Sarah Palin ‘n moontlike vise-kandidaat wees vir die wêreld se magtigste land?

Something is rotten in the state of America.

Written by George Maru

10 September 2008 at 19:10

Posted in nuus

Tagged with ,

George W Bush is oopkop

with 5 comments

Sekere dinge kan net in Amerika gebeur. Ek sweer. Die Boston Globe berig dat die Amerikaanse president tydens sy State of the Union toespraak verby kongreslid Barney Frank geloop het. Frank was op die foon, toe Bush sê: “Sê ek sê hallo.” Net sodat die mense kan sien hoe gaaf hulle president is.

Frank het toe maar so gemaak. Maar sy boyfriend wou hom nie glo nie. Die boyfriend het gedog Frank maak ‘n grap.

Na die toespraak vertel Frank toe maar vir Bush dat hy op die foon met sy boyfriend was, waarop Bush geantwoord het:

“Wel, ek hoop jy het hom vertel hoe oopkop ek is.”

Written by George Maru

30 Januarie 2008 at 22:54

Posted in gay regte, nuus

Tagged with , ,

Perspektief

with 5 comments

Ek het besluit om nie kommentaar te lewer op die hele Deon Maas-debakel nie. (As jou hart warm klop oor wat die goeie Christen Afrikaners vermag het, kan ek belowe dat my opinie jou ook sal offend – maar dit daar gelaat.)

Weer het ek besef hoe verwyderd ek van my gemiddelde volksgenoot geraak het. Ons het werklik nie meer veel in gemeen nie, behalwe dat ons ‘n moedertaal deel. Ons lees nie dieselfde koerante nie. Ek wend nog so af en toe ‘n desperate poging aan om Die Burger te lees, maar ek vermoed die Afrikaanse pers het nog so 10 jaar nodig, voordat jy dit met jou brein aangeskakel daar naby kan waag. My en Rapport se paaie het jare gelede reeds geskei toe hulle Barend Strydom, die wit wolf wat ‘n klomp swart mense op Strydomplein doodgeskiet het, se storie op die voorblad uitgebasuin het. Om nie van die ander onsmaaklikhede wat met die hele besigheid gepaard gegaan het, te praat nie.

So, ek is toe so aan die dink hoe ek alweer uit die Afrikanerdóm gaan bedank, toe ek besef dit kon veel erger gewees het. Ek kon vandag in Bagdad se strate geloop het, met die rympie wat ek aan elke tweede persoon moes opsê:

“Oh, yes, yes. I am so sorry we destroyed your country, but you know it is like this. We have a retard for president. I know, yes, we did vote for him. Twice. I am so sorry. Please just don’t think we are stupid.”

Die Afrikaner se manewales mag dalk ‘n intellektuele verleentheid wees, maar ten minste is dit relatief skadeloos.

So hier sit ek steeds, met ‘n lidmaatskapkaartjie wat ek maar net nie opgeskeur kry nie.

Maar genoeg van sulke onsinnige praatjies. Ek het ‘n SMS-veldtog om te begin. Die Grand Prix-motors se lawaai pla my geweldig.

Sondagsport is uit die bose. Kom SMS saam met my vir Die Saak.

Boikot Supersport!

Written by George Maru

16 November 2007 at 20:54

Dot Dot Dot

with 2 comments

Time berig in die artikel Christianity’s image problem, dat die Barna Groep se nuutste meningsopname se bevindinge bekend gemaak is. In 1996 het 83% van Amerikaners na hulself as Christene verwys en minder as 20% van nie-Christene het ‘n negatiewe persepsie van Christene gehad.

Die jongste opname toon aan dat ongelowige jong mense (tussen 16 en 29 jaar) meer negatief begin raak in hulle siening van Christene – 38% het ‘n negatiewe persepsie van Christene. Wat presies is hiervoor verantwoordelik? 90% van dié respondente se persepsie is dat Christene anti-gay is. Dit word gevolg deur persepsies dat Christene skynheilig en veroordelend is.

Verder blyk dit ook dat die hoeveelheid nie-Christene meer word met elke geslag. 23% van Amerikaners ouer as 61, is nie-Christene, vergeleke met 27% in die ouderdomsgroep tussen 42 en 60 en 40% van die jong mense tussen 16 en 29.

Dit maak seker nie noodwendig saak vir Christene wat nie-Christene van hulle dink nie, maar die artikel wys op sekere gevaarligte. Jonger Christene begin meer saamstem met nie-Christene oor die kwessies wat nie-Christene van die Christendom afsit.

Ek kan dan nie help om te wonder of die pastore en dominees nie op die verkeerde plekke soek om die kerke te probeer volmaak nie. The New York Times berig dat pastore en dominees begin het om kinders kerk toe te lok met Halo 3, ‘n baie gewilde videospeletjie. Dit is ook uiters geweldadig. Dit gee hulle dan glo geleentheid om oor goed en kwaad te gesels oor koekies en tee nadat kinders hulle teenstanders moertoe geskiet het. Die pastore en dominees wil dit glo baie moeilik maak vir die kinders om hel toe te gaan hierdeur.

Mmm… klink vir my, soos die inbring van dromme en kitare in kerke, na ‘n effe oppervlakkige manier om dieperliggende kwessies aan te spreek en gedoem om te misluk.

Written by George Maru

8 Oktober 2007 at 19:33