riviersonderend

Bly of gly?

with 14 comments

Dit is weer sulke tyd. So af en toe dink ek aan die e-woord. Dan is ek weer van voor af begeesterd om verder te gaan waar ek laas opgehou het en die emigrasieproses aan die rol te sit. Dit is nou as ek op ‘n land kan besluit om heen uit te wyk.

Weens my persoonlike omstandighede sal Kanada die maklikste opsie wees, m.a.w. die minste papierwerk. Vancouver is mooi, naby die berge en die see. En so 3 ure van Vancouver af is daar ‘n wynstreek by Kelowna. Maar Kanada is koud, baie ver en ek ken niemand daar nie.

Nieu-Seeland is ook ‘n opsie, waarskynlik een van my gunstelinge, ook omdat dit so mooi is, daar berge is en die see nooit te ver nie. Daar is ook baie water. En Wellington is ‘n pragtige stad. Die Nieu-Seelanders wat ek al ontmoet het, is baie aangenaam. Definitief ‘n opsie.

Dan is daar Australië. Ek het my bedenkinge oor ‘n land wat vir John Howard gestem het. En nie net eenkeer nie. Tog is daar baie goeie redes om Australië te kies.

Ek kan seker ‘n klomp redes aanvoer hoekom ek wil uitwyk. Ag, al die gewone redes soos misdaad, dat ek op ‘n skoeter deur die strate wil jaag, sonder die vrees dat ‘n taxi my in die veertiende dimensie sal instamp. Dan is daar ook die vrae, soos of dit nie selfsugtig is nie, hardloop mens nie weg van jou rol hier nie?

As ek egter doodeerlik met myself moet wees, kan ek my redes in een woord saamvat: wanderlust.

Dalk is daar tog ‘n bietjie Afrikaner in my.

Written by George Maru

14 November 2007 at 20:02

Posted in sommer net

Tagged with

14 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. In my hart is ek ‘n Sigeuner, so ek verstaan van jou wanderlust. As ek kon kies, sou dit Nieu-Seeland wees; definitief.

    sonkind

    14 November 2007 at 21:17

  2. Bevredig jou wanderlust met ‘n vakansie! Ons weet mos almal hoekom die gras anderkant die draad so groen is.

    mykopop

    14 November 2007 at 21:36

  3. Jy gaan ons mis…?!

    johannes coetzee

    15 November 2007 at 12:08

  4. Ek verstaan wanderlust baie goed. Ek is net rustig as ek weet ek het ‘n vliegkaartjie na ‘n volgende destinasie in my paspoort. Moet ‘n mens noodwendig permanent emigreer om wanderlust te bevredig? Ek dink nie so nie. Inteendeel. In plaas van na die vreemde begin jy dan net weer te hunker na die bekende.

    idiwidi

    15 November 2007 at 12:14

  5. Ek sien jy noem nie die Ooste nie…is dit die kosse wat jou afsit? 😉

    Ek dink emigrasie is ‘n baie persoonlike besluit en daarom sien ek geen selfsug daarin nie. Die vraag wat jy moet vra, is of ‘n langer verblyf in SA ‘n verskil maak aan hoe dit in die land gaan. Ek verstaan ook die wanderlust. Persoonlik sou ek eers net werk en woon in ‘n ander land en dan na ‘n tyd besluit of ek werklik as sulks wil emigreer.

    Wat ek van SA mis is die mense wat ek liefhet en die onbevolkte natuurskoon (en Marmite!). Werklik niks anders nie.

    boerinballingskap

    15 November 2007 at 14:48

  6. sonkind, ek stem oor NZ, maar almal gaan Oz toe.

    MKOB, ek gaan presies dit Desember doen, maar ek dink nie dit gaan help nie.

    Johannes, maar die internet is mos orals?

    idiwidi, seker nie, en ja mens kan altyd terugkom na ‘n paar jaar. Maar ek sien dit ook as versekering. As dinge in SA nie uitwerk nie, dan het ‘n mens opsies.

    Boer, as ek aan Oosterse kos dink, sien ek weer daai foto op idiwidi se blog. Moes jy my nou herinner het? 🙂 Ek stem saam met jou oor vriende en familie. Dit maak dit moeiliker.

    George Maru

    16 November 2007 at 6:56

  7. Ek dink die vraag is of jy jouself kan losmaak van die dinge HIER, in SA!! Familie, vriende, sekere roetine’tjies, dinge wat eg is aan SA (soos Boertjie se marmite), die mense (?) ens ens.

    Ek dink die idee van in ‘n ander man se land woon, klink/lyk soms baie idilies, maar ek dink ook mens besef baie gou daar is ook maar baie onkruidjies in daardie land se groen grassies!

    (Ek het nog nie in ‘n ander land gewoon nie – dis maar ietsie wat ervaar het toe ek in Engeland was)

    René

    16 November 2007 at 8:54

  8. Miskien moet jy maar na ‘n ou eilandjie gaan.
    ‘n Eilandjie waar jy jou eie onkruidjies uittrek.
    ‘n Eilandjie waar jy jou eie goen grassies plant.
    ‘n Eilandjie waar jy jou eie ou roetine’tjies en familietjie het en geen problempies het nie…?
    ‘n Eiland waar jy geen naaste’tjies het en ook dan geen sonde met die bure’tjies het nie..?

    johannes coetzee

    16 November 2007 at 11:14

  9. Dit is in ons bloed om ons goed te wil pak en te trek na ‘n beter plek. Soos jy sê. Ons is immers almal die agterste kleinkinders van setlaars.

    Wat het die e-gedagtes weer aan die gang gesit? Was daar regtig ‘n taxi-insident?

    carien

    16 November 2007 at 15:02

  10. Ek dink die vreemde is nie “everybody’s cup of tea” nie. Mens moet nugter daaroor dink en besef dis nie net maanskyn en rose nie. Maar, weer eens, se ek dat dit ‘n baie persoonlike besluit is. Al wat ek kan aanbeveel: As jy baie lief is vir jou gemaksone en die bekende en nie veel erg het in uitdagings nie, bly waar jy is (al is dit ook Zimbabwe!). Maar as jy hou van die vreemde, vreemde mense en vreemde kulture…pak jou tas!

    boerinballingskap

    16 November 2007 at 15:05

  11. Wel ek het nog nie offisieel “getrek” nie, maar bly al sedert 1996 in Europa. Ek twyfel of ek sommer sal terug trek. Het so onlangs my “pampiere” ingehandig vir Kanada. Dit is nou vir langwag. 3-4 jaar. Ek hou van trek en nuwe dinge doen. Een nadeel. Mens raak nie ryk nie.

    Rustig

    16 November 2007 at 18:08

  12. Ek sou beslis ook Kanada gekies het. Die mense is wonderlik en dit is ongelooflik mooi. Al wat my terughou is dat ek effens bang is om eensaam te wees – ek ken maar min mense daar.

    Bertus!

    16 November 2007 at 20:42

  13. Bertus, as jy te eensaam raak en te koud kry, dan kom kuier jy vir my in Kalifornie!

    amanda

    17 November 2007 at 1:12

  14. kanadese is oulik, maar erg boring.
    (dis ‘n goeie ding my kanadese vriende verstaan nie afrikaans nie)

    idiwidi

    20 November 2007 at 9:04


Lewer kommentaar