riviersonderend

La Negra is oorlede

Vandag is ‘n onbeskryflik hartseerdag. Mercedes Sosa is oorlede. Sy was een van die grotes en ek kan haar met groot vrymoedigheid in die geselskap van ‘n Nina Simone noem.

Mercedes Sosa word gebore op 9 Julie 1935 in San Miguel de Tucumán, Argentinië. Op 15-jarige ouderdom wen sy ‘n musiekkompetisie en word instrumenteel in die 1960s in die nueva canción musiekbeweging. Sy reik haar eerste album, Canciones con Fundamento, uit.

Na die staatsgreep in 1976 word Sosa ‘n teiken van die militêre regering. In 1979 word sy op die verhoog tydens een van haar konserte gearresteer saam met die mense wat haar konsert bygewoon het. Die regering verbied haar om verdere musiekalbums te maak.

Sy gaan in ballingskap en verhuis na Parys en later Madrid. In 1982 keer sy terug na Argentinië net om die val van die militêre junta te aanskou.

Ek het al voorheen geskryf oor haar vertolking van die Missa Criolla wat ‘n uitsonderlike werk is en ‘n plek in elke musiekversameling verdien. Sy het soveel sielvolle songs dat dit moeilik is om ‘n gunsteling te kies. Daar is egter ‘n paar songs wat baie spesiaal is. In Honrar la vida, kan jy nie help om bewus te word van haar intense liefde vir die lewe en die stille eerbied daarvoor in haar musiek. In Todo cambia sing sy oor haar liefde vir haar land en haar mense, temas wat mens telkens in haar musiek opmerk. Die himniese Sólo le pido a Dios sleur jou telkens mee vir die intensiteit en gevoel waarmee sy uitdrukking gee aan haar geloof.

En dan is daar Gracias a la Vida, waaroor ek al geblog het. Ek plaas weer die woorde in Afrikaans, want dit vertel jou wie Mercedes Sosa was, beter as wat ek ooit kan hoop om te doen:

Gracias a la vida
Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my twee sterre vir oë gegee, as ek hulle oopmaak,
kan ek duidelik onderskei swart van wit,
en in die oneindige uitspansel sy sterreryk,
en in die skares die man wat ek liefhet.

Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my klanke en die alfabet gegee,
en daarmee saam woorde wat ek dink en sê,
moeder, vriend, broer, en die skynende lig
oor die pad van my geliefde se siel.

Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my krag vir my moeë voete gegee
waarmee ek stap deur stede en modderpoele,
strande en woestyne, berge en valleie,
en na my geliefde se huis, straat en stoep.

Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my ‘n hart gegee wat bewe in sy fondamente,
as ek die vrug van die menslike brein aanskou,
as ek sien hoe ver goed van kwaad is,
as ek in die dieptes van my liefde se helder oë staar.

Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my skaterlag en trane gegee,
waardeur ek vreugde en pyn leer ken het,
die twee elemente van my lied,
dit is my lied, en ook julle almal se lied.

¡Dankie Lewe!

Solo Le Pido A Dios:

Gracias A La Vida:

Advertisements

Written by George Maru

4 Oktober 2009 at 16:56

Posted in nuus

%d bloggers like this: