riviersonderend

‘n Nuwe Begin I

Dit mag sommige lesers dalk verras om te verneem dat George Maru nie regtig bestaan nie. Neem ‘n oomblik om dit te verteer as jy nou dalk effe geskok is.

Die naam is ‘n kombinasie van Van Morrison se liedjie Madame George en die roman, vanmorrisonastralweeksMaru, van die Suid-Afrikaans-gebore skrywer Bessie Head. Beide die liedjie en roman spreek temas van bevooroordeeldheid en oordeel aan. Madame George is van die album Astral Weeks wat ek beskou as die beste kontemporêre musiek-album wat nog die lig gesien het – nie dat baie mense sal saamstem nie; die album het 33 jaar geneem om goud te bereik! Ek vermoed my siening is later verder versterk en bevestig toe ek Lester Bangs se resensie van die album raakgegoogle het – dit is seker een van die mooiste en aangrypendste resensies wat ooit geskryf is, oordat hy oor baie meer skryf as net die musiek. Oor Madame George skryf hy:

“Madame George” is the album’s whirlpool. Possibly one of the most compassionate pieces of music ever made, it asks us, no, arranges that we see the plight of what I’ll be brutal and call a lovelorn drag queen with such intense empathy that when the singer hurts him, we do too.

bassie-head1Bessie Head is in 1937 in Pietermaritzburg gebore. Haar ma was ‘n Skot en haar pa ‘n Afrikaan. Haar ma was in ‘n inrigting en kon haar nie grootmaak nie, en sy word vir aanneming gegee. Die wit ouerpaar kom egter gou agter dat sy nie wit is nie, en gee haar terug. Sy word toe deur ‘n Kleuring-egpaar, Nellie en George Heathcote, grootgemaak en glo hulle is haar ouers. Totdat haar skool haar vertel haar ma was wit en het by ‘n “naturel” geslaap.

Na skool studeer sy om ‘n onderwyser te word en eksperimenteer met Hindoeïsme. Later word sy ‘n joernalis en trou. Haar huwelik hou nie en in 1964 raak sy desperaat om Suid-Afrika te verlaat weens die politieke klimaat. Sy kry ‘n pos as onderwyser in die destydse Bechuanaland, maar die Suid-Afrikaanse regering weier om haar ‘n paspoort te gee. Die enigste manier hoe sy Suid-Afrika kon verlaat om daar te gaan werk, was deur aansoek te doen vir ‘n eenrigting uitgangspermit. Dit sou beteken dat sy nie weer na Suid-Afrika mag terugkeer nie.

In Botswana maak Bessie en haar seun, Howard, kennis met ‘n nuwe vorm van rassisme en word links en regs beskinder. Aangesien sy nie meer ‘n paspoort het nie, kan sy ook nie aanbeweeg nie. Sy kry ‘n senu-ineenstorting en land in ‘n inrigting. Ironies genoeg, laat die mense haar toe met rus, omdat hulle dink sy is mal. Later gaan dit beter, en sy begin Maru skryf wat in 1971 gepubliseer word.

Ten spyte van haar sukses, sukkel Bessie steeds met depressie en die onsekerheid van haar bestaan. Aangesien sy nog amptelik as ‘n vlugteling beskou word, moet sy elke week aan die polisiestasie rapporteer. Sy kry eers in 1979 haar Botswana burgerskap.

Sy sterf 17 April 1986 in Serowe, Botswana. Sy het haar doodgedrink.

Maru ondersoek die klasverskille in Botswana en spesifiek die behandeling van Boesmans in die land. Maru wat bestem is om die hoof van sy stam te word, raak verlief op Margaret, ‘n Boesman. Maru moet die vooroordele van sy stam trotseer om met sy geliefde Margaret te kan trou. Margaret het Maru nie lief nie, maar sien sy liefde as ‘n geleentheid om deel te kan word van ‘n gemeenskap wat haar verstoot het.

Beide Van Morrison se Madame George en Bessie Head se Maru spreek vooroordele in die samelewing aan en in Maru se geval, ook sosiale geregtigheid en die soeke na vreedsame naasbestaan. Geen samelewing kan hom op medemenslikheid roem sonder dit nie.

Nou hoekom dan George Maru? Daar is tog seker ook ander soortgelyke gevalle wat ook oorweeg kon word in die samestelling van ‘n naam? Omdat Madame George en Maru persoonlike vooroordele aangespreek het.

Maar die fokus op die aftakeling van vooroordele en ‘n soeke na sosiale geregtigheid is nie al wat Madame George en Maru aan mekaar bind nie.

Beide is ook roerend mooi.

Advertisements

Written by George Maru

31 Maart 2009 at 23:53

Posted in sommer net

Tagged with , ,

%d bloggers like this: