riviersonderend

“Ken ek vir Jesus?” vra ‘n man op die stoep

with 39 comments

Opsoek na spiritualiteit, Deel I

“Kom saam met my die naweek,” het ek vir M gevra. “Hillbrow toe.”

M het deur ‘n moeilike tyd gegaan. Haar verhouding met K, haar eerste liefde, was verby. Sy het hom ontmoet toe sy nog op skool was.

Sy het ingestem en ek het haar Vrydag na klas opgelaai en ons is Hillbrow toe vir ‘n ontmoeting met Jesus in my metallic blou VW Beetle wat ook bekend was as die pregnant Porsche oor die vlerk op die stert.

Ons moes 18.00 by MES (1) aanmeld, maar het eers so 19.30 daar opgedaag en die hele praise and worship gemis. Ek was nog nooit in Hillbrow nie en het duidelik nie geweet waar dit was nie. Ek wou ook nie vir aanwysings stop nie, en genadiglik was M te besig met die post-mortem van haar nuutgevonde sekslose lewe om my aan te moedig om by elke petrolpomp te stop vir aanwysings. Ons sal daar kom as ek net die regte afdraai neem.

So leer ken ek vir Empireweg, Auckland Park, en Newtown, maar Smit-, Twist- en Quartzstraat ontwyk my. Totdat ek stop en vir aanwysings vra.

Die naweek was ‘n skok. Vir die eerste keer sien ek ‘n man wat in die straat lê en ‘n bloedstraaltjie wat van sy kop pad vind in ‘n sementgroefie van die sypaadjie. Niemand stop nie. Almal loop aan. Ek bevind myself in ‘n winkel en wonder of daai goed mens se sekslewe regtig beter sal maak. Alles is vuil. Jy mag nie alleen in die strate gaan loop nie. Ek hoor van ou mense wat hondekos eet. Orals is prostitute. Maar ek praat nie met hulle nie. Eers twee jaar later vertel ek een van Jesus in Riebeekstraat, Kaapstad. Sy vertel my sy is Maria, Jesus se moeder. Ek sê vir haar sy laster en ons praat nie meer nie.

Ek lees ‘n boekie wat verduidelik hoe geloof jou kan help om die mure wat jy om jou hart bou af te breek. Die skrywer praat van Jerigo se mure. Ek blaas ramshorings om my mure af te breek. Rooi in die gesig, vind ek uit dat ek nie kan nie. Wat sal gebeur as die muur wat ek wil afbreek veroorsaak dat jy ‘n muur hoër as Jerigo s’n gaan bou om dit dan die “skanse van jou geloof” te noem?

Die waarheid is dat godsdiens nie mure kan afbreek nie. Dogma bou mure rondom mense en gemeenskappe. Godsdiens is eksklusief, verdelend en vreesgedrewe.

Onlangs gebeur dit dat ek weer in die kerk land. (Solank mense doop, trou en doodgaan, sal mens seker nooit heeltemal ontslae wees van die kerk nie 😈 ) Nadat ek gaan sit het, val die gemeente se waardes op ‘n bord voor in die kerk, my dadelik op. Veral twee waardes staan uit: “verdraagsame omgee” en “waardeer diversiteit”. Dit laat my frons. Hoe kan ‘n kerk beweer dat dit verdraagsaamheid bevorder en diversiteit waardeer? Dit is waardes wat direk teenoor godsdiens staan. Dit is nie moontlik om vas te hou aan ‘n geloof se dogmatiese suiwerheid en waardes soos diversiteit te verkondig nie. Dit geld enige geloof, nie net die Christelike geloof nie.

Die sentrale vertrekpunt van die wêreld se groot teïstiese godsdienste is ‘n aanspraak op ‘n onbewysbare waarheid, uniek en eksklusief. Dit vra navolgers om sekere leerstellinge te aanvaar op grond van sogenaamde geopenbaarde waarhede. Om blindelings te glo word ‘n deug. ‘n Mens kan argumenteer dat dit seker nie problematies is nie, solank dit nie skadelik is vir jou medemens nie. Dit betwyfel ek. Godsdiens kan nie net sleg vir jou gesondheid wees nie, maar ook vir diegene rondom jou.

Mitroff  maak die opmerking: “To worship a particular form of God and in a particular way is, consciously or not, to reject others.” Wanneer iemand my vra of ek vir Jesus ken, dan vra hulle nie net om met my hul ervaring van die Groot Misterie te deel nie. Die vraag hoop implisiet dat ek oortuig sal word om “ja” te sê vir Jesus. Maar ‘n “ja” vir Jesus binne die konteks van godsdiens en geloof is ook ‘n “nee” vir Boeddha, Rumi, Krishna en Gandhi. Deur op hierdie eksklusiwiteit aan te dring, word daar onderskei tussen die uitverkore groep wat reg glo en die res wat verkeerd is, en noodwendig oortuig moet word van hul sogenaamde verlorenheid. Mense word gereduseer tot sendingobjekte.

Hierdie eksklusiwiteit lei tot verdeeldheid en die mentaliteit dat “ons reg is, al kan ons dit nie bewys nie, en andersdenkendes behoort soos ons te dink.” Geloof hou die hoop uit dat dit mure tussen mense sal afbreek. Maar hierdie hoop is, soos geloof en Goddelike liefde, voorwaardelik: slegs binne die geloofsgemeenskap kan mure afgebreek word, maar dan ook gedeeltelik. Die kunsmatige skanse wat tussen die “wêreld” en die geloofsgemeenskap opgerig word, word elke dag versterk. Dit verdeel mense en ontken ons gemeenskaplike menslikheid wat ‘n brandoffer word om God te behaag.

Hoekom mense tot sendingobjekte reduseer wat oortuig moet word van onbewysbare waarhede? Vrees.

Ek weet dat baie gelowiges dadelik vies word as mens beweer dat godsdiens vreesgedrewe is. Ek wil verder gaan dat dit ook ‘n bron van negatiwiteit in mense se lewens is. Daar word verskeie voorbeelde van God se liefde genoem as die beweegrede vir ‘n geloofsoorgawe. Ek hou vol dat die saad van vrees sentraal staan in baie gelowe (definitief die Christelike geloof). Reeds in die Apostoliese Geloofsbelydenis tref ons dit aan: “vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewendes en die dodes”.

Die God wat ons in die Bybel, Talmoed en Koran leer ken (2), verteenwoordig nie die beste waarop ons kan hoop en waarna ons moet streef nie. Hoe meer ek bewus word van die grootsheid en onpeilbaarheid van die heelal waarin ons leef, hoe meer primitief en kleinlik word die God van die die heilige boeke in sy optrede en uitsprake. Dink vir ‘n oomblik aan die volgende. Daar is ‘n 100 miljard sterre in die Melkweg. Daar is moontlik 125 miljard Melkweë in die heelal. Dit beteken dat daar meer as 10,000,000,000,000,000,000,000 sterre in die heelal is. Daar word gesê as elke persoon die geleentheid kry om sy deel van sterre in die heelal ‘n naam te gee en ‘n ster ‘n naam gee met elke hartklop, dit elke persoon op aarde 375 leeftye sal neem om sy sterre ‘n naam te gee.

Daar word beweer dat hierdie oneindig-fassinerende heelal deur ‘n Skepper gemaak is; ‘n Skepper wat hom elke dag ophou met mense en hul doen en late; wie met wie seks het; wie teen sy naam laster; wie wat dink oor Hom; wie op watter manier doop; wie nie doop nie; wie dink hy is een of drie; wie ‘n ketter is en wie nie; wie vir Jesus ken en wie nie. So kan mens aangaan. Die Skepper van 10,000,000,000,000,000,000,000 sterre? Om nie te praat van al die wonders op hierdie planeet van ons nie? En ons wil die sin van die lewe en die essensie van dit wat belangrik is, definieer in ons geloofsdogma? Ons wil ‘n God aanbid wat aanbidding eis as voorwaarde vir sy liefde en die onbeskryflikste straf uitdeel aan diegene wat nie inkoop op die homogene droom nie? En ons noem dit liefde. Get real.

Hoeveel mense vrees nie by hulle naderende dood dat hulle nie goed genoeg was vir God nie? Watter interne wroeging veroorsaak dit nie? Hoeveel mense kan nie die mure tussen hulle en medegelowiges afbreek nie, uit vrees vir die veroordeling wat wag omdat hulle ontmasker sal word as ontoereikend in hul geloof? Hoekom wil mens na die lewe kyk deur ‘n prisma van negatiwiteit? Ironies word mense so gewoond daaraan, dat hulle dit nie meer opmerk nie.

Ek sit in die kerk en wonder oor die kerk se diversiteit en verdraagsaamheid, terwyl die dominee preek. Die preek gaan oor positiwiteit en ek is nogal verbaas, want ek kan met heelwat identifiseer wat sy sê. Die invloed wat ons gesprekke om die etenstafel op mekaar het en hoe ‘n atmosfeer van negatiwiteit (veral oor SA en die land se situasie) ons en ons kinders beïnvloed en ‘n negatiewe spiraal skep wat almal aftrek. Daarom is dit nodig om soms vir ‘n oomblik stil te staan. Fokus op jou asemhaling om jou te laat dink aan jou gedagtes. “Ek weet u mag nou dink dat dit gevaarlik baie soos meditasie is. Maar nee, dit is nie Oosters nie.” En daar is die waardering vir diversiteit in sy moer. Maar dit is seker ook maar reg so, want Oosterlinge is onder die invloed van die Satan en moet gered word. En so, sonder enige moeite, word die medemens se menslikheid gereduseer en ontken.

Na die preek word daar gedoop. “Glo jy dat jou kind in sonde ontvang en gebore is?” skop die dominee die partytjie af op ‘n positiewe noot. ‘n Nuwe geslag word met skuldgevoelens grootgemaak sodat oplossings vir ‘n probleem wat nie bestaan nie, aangebied kan word. The show must go on!

Die eksklusiewe, verdelende, vreesgedrewe en negatiewe atmosfeer waarin geloof gedy, is meestal nie prominent op vertoon nie, maar is subtiel ingeweef as die goue drade van die geloofskleed. Dit skuil agter die masker van omgee. Omdat ek nie wil hê dat jy moet hel toe gaan nie, hoop ek jy sal soos ek begin dink. Vir jou eie beswil. Maar hoe kan ons ooit na ons volle potensiaal as mense streef in die hoop dat ons die beste waartoe ons in staat is kan realiseer, as ons fondasie op vrees gegrond is? “Ek kies vir u, want ek wil nie hê u moet my straf nie.”

Nee wat, daar moet ‘n beter alternatief wees.

Ek hoor klaar dat mense my beskuldig dat ek onregverdig is en die positiewe impak van geloof ontken. “Maar wat van MES en Hillbrow? Wat van die goeie werk wat hulle daar doen?”

Ja, wat van Hillbrow?

____________________

(1) Vanaf hul webwerf vir diegene wat onbekend is met Metro Evangelisasie Sorg (MES): “MES reik uit na alle mense ongeag ras, kultuur, godsdiens, geslag of seksuele oriëntering. Ironies genoeg is dit juis dié sake wat soveel tyd en energie op sinodes en kerkvergaderings in beslag neem en waaroor dikwels ure lank driftig gestry word. In Hillbrow se donker stegies lyk sulke sake glad nie belangrik nie. Dit is onwerklik om die sin van sulke argumente te verstaan wanneer jy die geweldige nood om jou gadeslaan. Meisies van so jonk as twaalf jaar oud maak ’n lewe uit prostitusie teen so min as R20 per kliënt.”

(2) Ek besef dat hierdie stelling ‘n oorvereenvoudiging is, aangesien ‘n Bybelse siening van God eintlik ‘n illusie is: daar bestaan nie so iets nie, wel ‘n dogmatiese interpretasie van wie God in die Bybel is. Daar is wel ‘n Pauliniese Godsbeskouing, Prediker se Godsbeskouing ens. Hierdie Godsbeskouings verskil egter radikaal van mekaar.

Advertisements

Written by George Maru

1 November 2008 at 8:20

Posted in spiritualiteit

Tagged with

39 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Uitstekende begin! Ek sien reeds uit na Deel 2.

    Net so terloops, ek vermoed jy sal aanstons aangevat word oor jou gebruik van “geloof” vir beide “belief” en “(organised) religion”.

    Theo

    1 November 2008 at 12:51

  2. Goed geskryf, maar ek stem nie saam nie.

    Mens kry agnostici aan die een kant en dan aan die ander kan kry mens al die verskillende gelowe: Ateiste, Christene, Boediste, ens. Iemand wat ‘n agnostikus is het geen probleem met enige iemand se geloof nie, val dit nie aan nie, lewer gewoon geen uitspraak daaroor nie want dit maak nie vir hom saak nie. ‘n Ateis daarinteen staan op presies dieselfde voet as enige ander geloof, is net so ekslusief, gekant teen diversiteit, val ander gelowe aan en versprei haat. Ironies dat hulle ander daarvan beskuldig terwyl hulle dit self doen. Hulle beskuldig ander gelowe van liggelowigheid maar self glo hulle in iets waarvoor daar geen bewys is nie en gaan verder deur te beweer dat dit nie geloof is nie. Ateiste is die grootste huigelaars wat daar is onder alle gelowe.

    Die Bybel leer ons dat ‘n Christen kan weet dat hy/sy gered is. Dus hoef ‘n Christen niks te vrees nie. Verder staan daar ook dat ‘n Christen nie ‘n gees van vreesagtigheid moet he nie. Ek kan egter verstaan as ‘n ateis ander gelowe as vreesgedrewe sien. Vir ‘n ateis is sy grootste vrees dat hy dalk verkeerd mag wees. Daarom hoop hy vir al wat hy werd is dat daar nie werklik ‘n God is nie. Al wat hy dus sien as hy aan ‘n ander geloof dink is die vrees vir die oordeel.

    Ek kon nie jou argument waarby jy die baie sterretjies ingesleep het heeltemal verstaan nie. Wat was jou punt wat jy probeer maak daar?

    flippiefanus

    1 November 2008 at 13:23

  3. Flippiefanus ek dink nie ateisme is soos jy dit beskryf nie. ‘n Klein groepe radikales (soos byvoorbeeld George Claassen en trawante) val binne jou beskrywing, maar ek dink die meeste ateiste sal eerder na die menslike effek van ‘n godsdiens kyk, en dan daarvolgens oordeel. Ons (want ek sluit myself daarby in) ontstel ons net wanneer godsdientiges kwaad doen.

    Daar is ook mense wat godsdiens beskou as ‘n inherente deel van menswees, en wat dit selfs as sodanig bestudeer en positief daaroor staan, sonder om noodwendig self te glo.

    alleman

    1 November 2008 at 13:55

  4. Met respek gesê, FlippieFanus (en met verwysing na ‘n onlangse blogentry van myself):

    GROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROENGROEN!

    (…is al wat ek hoor).

    Johan Swarts

    1 November 2008 at 16:09

  5. Ek dink ek moet vir George en Andrew by mekaar uitbring 😈 😆

    Sonkind

    1 November 2008 at 16:44

  6. George, ek stem nie saam met jou nie, maar dink jou standpunt is baie goed beredeneerd en interessant om te lees. 🙂

    boerinballingskap

    2 November 2008 at 13:00

  7. Flippie, ateisme is nie ‘n geloof nie. Of jy is doelbewis oneerlik of jy verstaan dit werklik nie. Dit frustreer my oneindig.

    Jy beweer dat ateiste se grootste vrees is dat hulle verkeerd is. Waar kom jy daaraan vriend? Klink dit vir jou of ek ‘n vrees het dat ek verkeerd mag wees? Moet ek jou God Kind onder sy ma se rok uitvloek om dit vir jou te bewys? Ek het dit al gedoen op ‘n ander blog en sal vir jou die skakel gee as jy vra.

    Andrew

    2 November 2008 at 14:17

  8. Alleman, as ateiste die “menslike effek” van godsdiens veroordeel, is hulle nie dan juis besig om hulself ook te veroordeel nie? Hoekom sou ateiste dan geen soortgelyk “menslike effek” veroorsaak nie? As ateiste hulself vererg as godsdienstiges kwaad doen, vererg hulle hulle ook as ateiste kwaad doen? Of probeer jy impliseer dat ateiste nooit kwaad doen nie? Dit sou mos op ‘n gehuigel neerkom.

    Johan jy’s oor my kop, ek volg nie wat jy probeer se^ nie.

    Andrew, my vriend, ateisme is ‘n geloof. Dis wat ek vir jou vele maal al probeer verduidelik het. Jammer dat ek jou frustreer. Dis nie my bedoeling nie.

    Die stelling oor vrees was in reaksie op George se stellings oor vrees. Moet jou nie daaroor ontstel nie. 😉

    flippiefanus

    2 November 2008 at 16:43

  9. Theo, dankie. Ek hoop ek word daaroor aangevat. 🙂

    Flippiefanus & Boer, ek verstaan. Ek besef nou dat die vlerk ‘n vergryp teen goeie smaak was. Maar moet dit nie teen my hou nie.

    Flippiefanus, ek sal nie stry dat daar ateïste is wat teen diversiteit gekant is nie. Dit is verkeerd. Punt. Ek gaan weer terugkom na die “vrees dat jy verkeerd mag wees”, so ek gaan nie nou te veel daarop uitbrei nie. Maar goed, as ek mag, sal ek graag ‘n uitdaging aan jou (of enige ander Christen) wil rig. Gee my ‘n rede om te glo.

    Alleman, stem.

    Mnr. Swarts?! Hierdie is nie ‘n rugbyblog nie?!

    Sonkind, praat jy van hierdie Andrew of ‘n ander Andrew? 😆

    Andrew, make love not war 8)

    George Maru

    2 November 2008 at 17:09

  10. Flippie,

    Wat noem ‘n mens die geloof van mense wat nie in Kersvader glo nie?

    Andrew

    2 November 2008 at 17:49

  11. Flippiefanus natuurlik kan ateïste, en denkrigtings wat deur ateïsme beinvloed is ook kwaad doen. Ateïste is ook vatbaar vir goedheidsmites, en ook in staat om met ideologiëe vorendag te kom wat groot lyding veroorsaak.
    Lees gerus hierdie stuk oor die “hartelose tirannie van idees”:
    http://www.businessday.co.za/articles/opinion.aspx?ID=BD4A213571

    alleman

    2 November 2008 at 18:16

  12. George, ek kan vir jou duisende redes gee om in God te glo, maar ek kan nie waarborg dat enigeen jou gaan oortuig nie. As ek rondom my kyk of ek bestudeer dit wat ons deur die wetenskap van die heelal geleer het dan sien ek ‘n onmiskenbare hoe”r Hand. Die dinge is te merkwaardig om toeval te wees. Terwyl ek hierdie skryf is daar die pragtigste sonsondergang (wat ek nou nie kan sien nie) want daar is donderwolke en reen so saam met die sonsondergang. Dis iets pragtigs waarin ek weereens die teenwoordigheid van God sien.

    Die belangrikste rede is seker die verlossing, maar as mens nie die gebrokenheid verstaan en die hunker na ‘n uitkoms uit hierdie gebrokenheid uit nie, sal mens nie die behoefte na ‘n verlossing verstaan nie.

    Nog ‘n rede is die Woord van God. Ek weet baie mense verwerp dit. Maar sien dis juis so ironies. Mense vra vir konkrete bewyse vir die bestaan van God. God het reeds vir die mensdom op ‘n stadium sulke konkrete bewyse gegee en dit is selfs neergeskryf in soveel woorde tot voordeel van die nageslag, maar nogtans trek die mensdom hierdie geskrewe woord in twyfel.

    Andrew: seker maar a-Kersvader-isme. 😉

    flippiefanus

    2 November 2008 at 18:21

  13. Alleman goed dan stem jy saam met my dat die neiging van mense om kwaad te doen is ‘n eienskap van die mens en nie van godsdiens nie.

    flippiefanus

    2 November 2008 at 18:25

  14. Alleman is reg, en Flippie ek het al voorheen vir jou probeer verduidelik dat ‘n mens ateiste in ‘n deursnit van die bevolking kan verwag. All types, good and bad and we are at LEAST as moral as believers. The only thing we have in common is that we do not believe in the existence of gods.

    The beauty we see around us was created by a process. The process that led to the diversity of life on this planet is called evolution. The cosmos is evolving and continues to evolve. There were no sun sets 13 billion years ago.

    Andrew

    2 November 2008 at 18:43

  15. Here is something to chew on before you counter with ‘all morality originates from biblical text.’

    http://www.users.globalnet.co.uk/~slocks/babble.html

    Andrew

    2 November 2008 at 19:07

  16. Flippiefanus, wat is hierdie “verlossing” waarvan jy praat? Hopelik het dit darem niks te doen met mitologiese tuinverhale, fabelagtige verbode vrugte en goddelike selfmoord nie?

    Theo

    2 November 2008 at 22:52

  17. Johan, O ek sien. As die bohaai jou pla druk toe jou ore. 🙂

    Theo, verkleinerende terme dien nie as argument nie. Jy sal moet beter doen as dit.

    As jy regtig belangstel in die verlossing kan jy daarvan in die Nuwe Testament lees.

    Andrew, het jy al gaan stilsit en dink waar presies jou moraliteit vandaan kom? Kan jy dit vir my probeer verduidelik?

    Evolusie en die ontwikkeling van die heelal oor die afgelope 13.6 miljard jaar is inderdaad vir my ook aanduidings van hoe groot God is en hoe wonderlik sy skepping is.

    Om ‘n klomp Bybel versies buite konteks aan te haal is ‘n ou tegniek waarmee mens amper enigiets onder die son kan “regverdig.” Dit beteken op die ou ent niks. Jy moet die Bybel op koherente manier bestudeer.

    flippiefanus

    3 November 2008 at 7:32

  18. […] November 2008 Onlangs het George Maru aan my ‘n baie spesiale uitnodiging  (”uitdaging” :wink:) gerig: Maar goed, as […]

  19. “Andrew, het jy al gaan stilsit en dink waar presies jou moraliteit vandaan kom? Kan jy dit vir my probeer verduidelik?”

    Yes sure, it originates from ribonucleic acids and their associated proteins.

    Andrew

    3 November 2008 at 20:41

  20. Flippiefanus, Andrew se moraliteit kom heel waarskynlik juis van die 13.6 miljard jaar se evolusie. Homo Sapiens is ook nie die enigste spesie wat moraliteit openbaar nie.

    skoembs

    3 November 2008 at 20:59

  21. Andrew, RNA + proteine ?!!! Goed duidelik het jy nog nie mooi daaroor gedink. Miskien moet jy ‘n slag.

    Skoembs: Moraliteit onder diere is maar deel van hulle instink. Dis nie dieselfde as by mense waar dit deel is van hulle kultuur nie. Maw dit kon nie 13.6 miljard jaar al ontwikkel het nie. Terloops die aarde is maar net so 4.6 miljard jaar oud. So evolusie gaan ook nie so ver terug nie.

    flippiefanus

    3 November 2008 at 21:44

  22. Flippie, I am referring to our genes, we have evolved altruistic behavior and have observed it in other (godless) species. Altruism can be/is beneficial to the survival and perpetuation of genes even when it is at the expense of the host organism’ welfare. The same altruism that was present in humans before Jesus and His Daddy appeared on the planet some 2000 years ago is present in us today.

    Andrew

    4 November 2008 at 6:07

  23. Andrew, altruisme ontwikkel as ‘n voordeel vir oorlewing?!!! Yeah right. Klink maar vir my so bietjie “fishy.” Ek weet van sekere voordele daarin om saam met ander organismes te leef in mutualistiese verhoudings, maar dis heeltemal iets anders as altruisme. Verder het nie een van die twee enigiets uit te waai met moraliteit nie. Laasgenoemde is die vermoe om te kan besluit tussen reg en verkeerd wat nie noodwendig enige korrelasie het met persoonlike voordeel al dan nie.

    flippiefanus

    4 November 2008 at 10:13

  24. Johan dit klink eerder vir my na lig wat deur ‘n reëndruppel breek na al die kleure van die reënboog…!

    Of is dit elke varkie in sy eie arkie?

    Klink effe “without form and void” wie weet dat is ons tans in die tyd van die eerste skeppinsdag…?

    WAARSKUWING : deur verder te lees loop die leser die risiko om dalk gered te word, wees dus gewaarsku!!!

    (Gen 1:1) In the beginning God(s) created the heavens and the earth.

    (Gen 1:2) And the earth was without form, and void; and darkness was upon the face of the deep. And the Spirit of God(s) moved upon the face of the waters.

    (Gen 1:3) And God(s) said, Let there be light: and there was light.

    (Gen 1:4) And God(s) saw the light, that it was good: and God(s) divided the light from the darkness.

    (Gen 1:5) And God(s) called the light Day, and the darkness he called Night. And the evening and the morning were the first day.

    johannes coetzee

    4 November 2008 at 11:48

  25. […] tag my om ‘n rede te gee hoekom ek glo. Glo in God, ‘n Opperwese. Eintlik het alles begin deur George wat vir Flippie gesê […]

    Hoekom ek glo

    4 November 2008 at 15:34

  26. Flippie, from a religious point of view doing good deeds has major personal advantages. We get to party with Jesus in paradise. From a non religious point of view being morally good betters our chances of passing on our genes because we receive acceptance and protection from other members of the group we live in.

    Here is an example of altruistic behavior:

    “Instinctive cooperative behavior that is detrimental or without reproductive benefit to the individual but that contributes to the survival of the group to which the individual belongs. The willingness of a subordinate member of a wolf pack to forgo mating and help care for the dominant pair’s pups is an example of altruistic behavior. While the individual may not reproduce, or may reproduce less often, its behavior helps ensure that a close relative does successfully reproduce, thus passing on a large share of the altruistic individual’s genetic material.”

    Being the clever guy that you are you will immediately ask, why then do we still display altruistic behavior when today humans live in large groups, travel far and are unlikely to rub shoulders with people that are closely related? Because we used to live in small groups in our evolutionary past and we are still genetically wired to be altruistic.

    Does morality have its origins in the Bible? I doubt it.

    Andrew

    4 November 2008 at 17:13

  27. Andrew die genetiese voordeel van moraliteit is maar baie beperk. Die dominante “moraliteit” van die natuur is steeds maar die oorlewing van die sterkste. Moraliteite het as deel van kulture ontwikkel. Mens kan soos CS Lewis redeneer dat daar ‘n Universiele Moralitiet is waarheen alle moraliteite streef. So iets moes dan deur die Skepper in die heelal vasgele wees. Dit maak dan sin dat die Universele Moraliteit en dit wat die Bybel ons leer ooreen behoort te kom. As mens kyk na die groot mate waarin moraliteite van verskillende kulture ooreenkom dan is dit nogal redelik om te aanvaar dat daar wel ‘n Universele Moraliteit kan wees.

    flippiefanus

    4 November 2008 at 20:01

  28. What moral compass did cultures use before the Holy Bible?

    Andrew

    4 November 2008 at 20:25

  29. Johannes, dit blyk dat jy ‘n ware Christen is. Wil jy nie vir ons komentaar lewer by George se blogs oor gay regte nie asseblief?

    Andrew

    4 November 2008 at 20:34

  30. Andrew, Mmm ek weet nie regtig nie want ek was nie self daar nie.;-) Maar ek kan vir jou twee hipotesis gee. Eerstens is daar die beskouwing wat kulturele antropoloe waarskynlik het en dit is dat mense nie ‘n morele kompas nodig gehad het om aanvanklike moraliteite te ontwikkel nie. Dit was maar bloot uit wat hulle sien werk of nie werk nie wat die moraliteit ontwikkel het. Die ander hipotese is dat God deur openbarings vir hulle leiding gegee het in die ontwikkeling van hul moraliteit. Miskien is dit ‘n kombinasie van die twee gewees.

    flippiefanus

    5 November 2008 at 5:49

  31. Julle skryf te vinnig vir my! 😆 Ek skryf weer as daar meer tyd is.

    George Maru

    5 November 2008 at 6:53

  32. Andrew wil jy weet wat my siening is, of wat ek dink die Bybel daaroor verklaar….?

    johannes coetzee

    5 November 2008 at 13:20

  33. Dankie Flippie.

    Johannes mag ek vra vir beide? Jou persoonlike siening en ook die Bybel s’n. So ver, volgens die komentaar onder die onderwerp is dit 100% vir gay regte. (2 kommentare + George)

    Andrew

    5 November 2008 at 17:05

  34. Andrew ek kan help. Ek dink Johannes het hom al daaroor uitgelaat op die blog. Min of meer: uit die aard van die saak dink God dat dit ‘n baie slegte idee is. Maar Johannes is die gays darem effe genadig. Hulle gaan nie vir altyd brand nie, maar ge-annihilate word. (Reg Johannes?) So it’s all good. 😆

    Die Bybel aan die anderkant meen dat gays gestenig moet word en dat hulle deur demone besete is en die werk van die Satan op aarde doen. Hulle sal vir ewig band in die hel. Saam met die feministe en die ander 87.9% van die aarde se bevolking.

    George Maru

    5 November 2008 at 18:21

  35. George/Andrew

    George jy is halpad korrek. Ek sal eers poog om dit wat die Bybel verklaar in my eie woorde verwoord.

    Volgens die Bybel is alle alle mense na die sondeval (van Adam en Eva) in die moeilikheid by die God(e) van die Bybel. Die Skrif is duidelik dat die loon van die sonde die dood is. Die dood waarna hier verwys word is wys nie alleen heen na die doodgaan van die fisiese vleeslike mens nie maar wys ook heen na die geestelike doodgaan van die mens. Ek weet vir George is daar nie so iets soos sonde nie, hy noem dit “booshede” as ek uit van sy vorige gesprekke met my korrek onthou.

    Volgens die Bybel was Adam en Eva volmaak na die beeld van God geskape en was hulle volmaak “een” met die God(e) van die Bybel en dus sonder sonde (booshede). Inteendeel hulle kon geensins onderskei tussen “goed en kwaad”….! Nadat Adam en Eva gesondig het deur aan Sy bevel(e)ongehoorsaam, het ou Adam eers op ouderdom 930jaar gesterf. Die vraag is dus wat het nou eintlik met hom (en Eva) gebeur nadat hy gesondig het, want hy het duidelik nie fisies gesterwe nie…?(die ou slang was dus reg… haha) Alhoewel hulle deur die God(e) van die Bybel geskape is om soos God ewig te lewe het hulle nie onmiddelik fisies gesterwe nie, maar het onmiddelik geestelik gesproke doodgegaan omdat hulle die God(e) van die Bybel as bron van krag verloor het. Hulle het geestelik gesproke gesterf, in hulle gees/siel was hulle so dood soos ‘n groot moderne stad wat sonder krag is wanneer die “main switch” afgeskakel word(hierdie stad kan met die mees moderne bio-elekto-meganiese tegnologiese toerusting toegerus wees, maar is useless as dit sonder krag is…) Behalwe as iemand weer daardie “Bron van Krag” terugkry sou adams en die evas (die mens) wat uit Adam en Eva se lendene gebore sou word vir die daaropvolgende ongeveer 13000jaar sonder die God(e) van die Bybel as hulle “bron van krag” moes klaar kom.

    Waarom die God(e) van die Bybel nie maar voorbegin het nie bly vir my steeds ‘n mystery…? As ek as mens enige inspraak in die raadsbesluit van die God(e) van die Bybel kon gehad het sou ek heelwaarskynlik aanbeveel het: “drop hierdie rebelle en begin voor….!” Maar omdat die God(e) van die Bybel van beter geweet en volmaak is het Hy anders besluit. Ek respekteer en aanvaar us Hulle besluit om voor te gaan ooreenkomstig die Eed wat Hulle teenoor Hulself gesweer het….! Maar dis ‘n heel ander onderwerp…!

    Welke sondes die mens (ook gays want hulle is ook mense… al word hulle selfs deur hulself as uitsonderings gesien) dus aan skuldig is (ooreenkomstig die defenisie wat deur die God(e) van die Bybel in Sy Woord, die Bybel uitgespel het) het hy die(ewige) hulle is aan “corruption” onderhewig. Die mens se probleem is dat hy nie saamstem met die gesag van die God(e) van die Bybel nie.

    Die gay issue is niks anders as die egskeiding issue of die hoerery issue of welke ander issues wat deur die Bybel as sonde gesien word nie, en is maar net ‘n gerieflike weerlig afleier om die aandag weg te lei van die real issue naamlik die feit dat die mens aan sonde skuldig is.

    Laat hom wat geen sonde het nie die eerste klip gooi.

    As mens durf ek nie waag om van die spieel af weg te kyk na ander ouens se ewe sondige lewens nie….! Dis die God(e) van die Bybel se besigheid….!

    My persoonlik siening…. ja wel ek stem saam met dit wat die Bybel verklaar…!

    johannes coetzee

    6 November 2008 at 11:23

  36. Sjoe jammer vir al die sinbou en ander taalfoute in my post, ek sien nou eers hoe baie daar is, sal volgende keer poog om beter te doen. Dit gebeur as ‘n mens sommer so uit die heup skiet…!

    johannes coetzee

    6 November 2008 at 14:52

  37. Hallo Johannes,

    Jammer dat ek nou eers jou komentaar lees. Die laaste twee dae het ek so bietjie rond gespring van een blog na die ander en het besluit om jou lang komentaar later te lees.

    Ek is nie gay nie maar my bure is. As jy besluit om hulle te stenig soos die Bybel verklaar moet jy maar jou eie klippe saam bring asseblief. Daar le^ nie baie rond in ons buurt nie.

    Andrew

    8 November 2008 at 9:44

  38. Andrew soos jy hopelik in my post agter kon kom stenig en niemand nie, ek durf nie van die spieel af wegkyk na die lewe van iemand anders nie….!

    Ons lewens is almal ‘n oopboek voor die God(e) van die Bybel… Hy weet alles en Hy weet wat reg en regverdig is. So…. ek laat oordeel en veroordeling van die individu aan Hom oor.

    johannes coetzee

    10 November 2008 at 9:05


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: