riviersonderend

Die slakspoortjie van ‘n volk?

with 14 comments

Aanvanklik het ek my nie veel gesteur aan die gebeure op Greytown nie. 60,000 (volgens Die Rapport) mans het byeengekom om hul sonde voor die Here te bely en is as die “Mighty Men” gesalf. Dit sal lei tot die begin van die einde van ons probleme in hierdie ongelukkige land.

Eers het ek dit effe amusant gevind. Namate ek met mense gepraat het wat dit positief beleef, voel ek anders. Dit is nie snaaks nie. Ons is besig om die begin van die einde van ‘n volk te aanskou.

Die Afrikaner is sterwend.

Ons is angstig op soek na antwoorde om die onafwendbare te vermy. Die Afrikaner was nog altyd gelowig en het hom tot ‘n hoër hand gewend in tye van droogte, dreigende onheil van volke en rasse wat sy geboortereg van hom wou afneem en aanslagte van die bose. Daarom is dit seker nie vreemd dat dit nou ook so sal wees nie.

Daar is vandag nie ‘n gebrek aan uitdagings en gevare in hierdie land nie: misdaad, ekonomiese onsekerheid oor regstellende aksie en werkloosheid, Afrikaleiers se onvermoë om die kontinent se probleme aan te spreek, morele verval, die wegvlug van openbare ruimtes na die veiligheid agter sekuriteitsmure en die gepaardgaande afgestompheid.

Die antwoorde wat voorgehou word, is eenvoudig: sê vir die Here jy is jammer oor die hoogmoed in jou hart, neem weer jou gesagsposisie in die huis in as man, kry die gays om hulle te bekeer van hul losbandigheid en sit die kerkbanke vol. En bid. Bid dat dinge moet beter raak. Glo net, en dit sal!

Soos ek verstaan, werk die redenasie as volg: God is kwaad oor al hierdie dinge en nou straf hy die Afrikaner. Maak net hierdie dinge reg en Hy sal sy kant bring.

Hierdie antwoorde is geweldig populêr, want dit is bietjie wyn vir die pyn, sonder dat dit die dieperliggende uitdagings oopkrap. Dit herinner aan die bekende, goeie goue era. Al is dit leeg, maak dit nie saak nie. Te midde van soveel onsekerheid, word daar gehunker na die bekende.

Dit maak die Afrikaner steeds besonders naïef en goedgelowig. Gebed het nie gehelp vir 6,000,000 Jode nie. Dit het niks verander aan die lot van 300,000 Darfoeri’s nie. 800,000 Rwandese het ten spyte van hulle gebede gesterf. Die lys is nimmereindigend.

Tog wil die Afrikaner glo dat hy spesiaal is. ‘n Vrome hart kan al die probleme wegneem. Ook daardie kwellende onrustigheid waaroor daar nie veel gepraat word nie, maar wel in die Afrikanergemoed leef.

Gaan daar nog Afrikaners oor 150 jaar wees?

Ironies genoeg hang die Afrikaner se toekoms vandag volkome af van Afrika se lot – dieselfde Afrika waarvan die Afrikaner hom wou losmaak. As Suid-Afrika en Afrika se vooruitsigte verbeter, is daar hoop vir die Afrikaner. Indien nie, sal die volgende geslagte Afrikaners toenemend emigreer. Hulle kinders en die se kinders sal assimileer en Canucks, Aussies en Kiwis word. Minder Afrikaners sal oorbly in Suid-Afrika; hulle ekonomiese invloed sal afneem. Noodwendig sal dit moeiliker en moeiliker word om Afrikaans in skole en universiteite as onderrigtaal te behou. Minder boeke sal verkoop en gelees word. Minder advertensies in Afrikaans. Minder TV-tyd. Minder radio-tyd. Minder Afrikaans. Minder Afrikaners.

Met die nuus van nog ‘n gesin wat emigreer raak die gebed nog dringender. God word ernstiger gesmeek om die Afrikaner die beker van sy naderende dood te spaar en die Afrikaner die ewige lewe te gee, soos Hy belowe het.

Ek vermoed dat daar in die Afrikaner-onderbewuste ‘n besef is van die weerlose posisie waarin die volk hom bevind; die uitdagings wat soos die Himalajas voor hom verrys; en die uiteindelike futiliteit om te hoop op ‘n De la Rey of ‘n hoër hand. Want dit is Afrika wat sy toekoms sal bepaal en Afrika se toekoms lyk nie juis op die oomblik rooskleurig nie.

Deon Opperman het reeds in Donkerland die toekoms gesien. So vervlietend as a slakspoortjie oor die rots van Donkerland, so is die Afrikaner se tyd in Afrika. Dieselfde Afrika wat sy enigste tuiste was.

Ons lééf met daardie besef, ten spyte van ons gebede.

Advertisements

Written by George Maru

28 April 2008 at 10:38

Posted in afrikaans, godsdiens, nuus

Tagged with , ,

14 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Ek verstom my op ‘n gereelde basis aan die arrogansie van die Afrikaanse Afrikaners. In watter geskrifte is ons aangedui as die uitverkore volk? Gaan ons vir die res van ons voortbestaan ‘n bekrompe oordeel vel oor almal wat ánders’is as ons? Hoe arrogant kan ons wees om vir God te wil voorskryf op watter voorwaardes hy ons land weer moet heelmaak? Gays moet regkom, vrouens weer moet gehoorsaam word aan hulle mans en Voila! Quick Fix. Dis om van naar te word.

    Ek is gelowig en ek glo in God, ek is nie skaam om dit te se nie, maar GEEN oordeel kom my toe nie. Ek glo nie ek word gestraf in Suid-Afrika omdat ek nie gays veroordeel nie, of omdat ek nie glo die man is despoties die alleenhoof van die huis nie. Ek twyfel ook soms in my geloof, ek bid gereeld vir my land, maar ek maak nie geloftes met God waarvolgens als sal regkom as ander mense hulle bekeer van hule sondes nie. My eie sonde is genoeg sodat ek maar eerder net daarvoor sal bid en probeer om dit reg te maak.

    Ek weet nie of Afrikaans gaan bly voortbestaan nie, maar ek kan dit bly praat, bly lees en my kinders aanmoedig om dieselfde te doen. En verder leef ek met vertroue. Is dit naief, dan is dit nou maar so. Maar gelukkig leef ek positief en ek dink ek is relatief gelukkig en geseend in hierdie land, wat my geliefde land bly. En ek dink nie God is kwaad vir my nie, of vir die Afrikaner nie.

    sonkind

    28 April 2008 at 11:17

  2. I once had a farm in Africa

    johannes coetzee

    28 April 2008 at 13:13

  3. Sonkind, net eers ‘n opmerking of twee oor Angus Buchan. Ek het die onderhoud wat Rapport met hom gevoer het, gelees. Ek dink die man is opreg. Wat hy glo, glo hy regtig omdat hy in sy hart oortuig is dat dit reg is. En om regverdig teenoor hom te wees, hy het ook rassisme aangeraak en die uitroei daarvan kan wel ‘n verskil maak.

    Ek verskil egter van hom met sy ander standpunte. Ek hoop dat hy ook die stemme hoor wat van hom verskil. Ons gaan nie die land se probleme oplos deur almal te probeer oortuig om dieselfde te glo nie. Ek dink byvoorbeeld om te leef soos jy doen (soos wat dit in jou blog na vore kom), baie meer kan vermag.

    Tog wonder ek of baie van die Afrikanerangs wat tans tasbaar is nie baie te doen het met ‘n vrees of die volk sal voortbestaan nie. En jy weet mens hoe reageer mense op die dood? Op die stadium is ek ietwat pessimisties daaroor, maar is oop vir oortuiging.

    Johannes, skerp but sad. 😦

    George Maru

    28 April 2008 at 17:29

  4. George, jou inskrywings is altyd denkend en interessant en daarom is hierdie een van my gunsteling blogs.
    Ek dink bogenoemde inskrywing raak soveel dinge gelyk aan, dat ekself dit eers bietjie moet ontryg. Ek weet nie of al die kwessies wat jy aanspreek noodwendig in diesekfde mandjie hoort nie.
    Eerstens, die AFRIKANER: Ek dink om te se die Afrikaner is sterwend en dit die “begin van die einde van ‘n volk” te noem, is miskien oordrewe negatief. Dat die Afrikaner soekend is en effens identiteitloos ronddryf, is verseker so. Dat omstandighede verseker nie rooskleurig is nie, is so. Maar dan moet ek ook se, as mens teruggaan in die geskiedenis was die Afrikaner ook totaal platgeslaan na die ABO. Dat die Afrikaner sy lot deel met die van Afrika, is ook so. En dit kan mens baie mismoedig maak. Maar nogtans glo ek die Afrikaner sal bly bestaan – hoe invloedryk die Afrikaner nog gaan wees in die toekoms (indien enigsins)…dis wel debateerbaar. En of meeste Afrikaners oor 150 jaar in die die RSA gaan woon…daaroor kan mens ook net wonder.
    Oor die MIGHTY MEN: Ek weet nie of hierdie byeenkoms en die Afrikaner se lot noodwendig in dieselfde kategorie hoort nie. Die konferensie was vir alle mans, hoewel die meeste mans wel (volgens nuusberigte) Afrikaners was. Volgens wat ek kon aflei het die konferensie oor geestelike herlewing gegaan (spesifiek op mans gerig) en is daar gepraat oor die toekoms van die RSA (LW nie die Afrikaner nie). Sover ek kon vasstel was daar nie nuanses van “volk wat skuld moet belei” nie of dergelike foefies nie. In die charismatiese tradisie sien ek die konferensie as gemik op individuele geestelike vernuwing, met die moontlike positiewe gevolg dat dit ook binne die RSA positief kan meewerk. Dis wel so dat dit voorkom of Afrikanermans veral soekend is, maar ek dink weer eens dit gaan hier oor individuele soeke en is nie gekoppel an die hele “volksgevoel”-sindroom nie.

    Ek stem saam dat mense nie met ‘n tipe “superglue”-teologie moet kom en verkondig dat als vinnig sal herstel as mens net bid nie. Dit is naiief en goedgelowig. Mens behoort immers nie na God te keer om slegs “resultate” te sien in jou lewe of in jou land nie – dit behoort oor God te gaan en nie oor jouself nie. Ek glo nie gebed is ‘n towerstaf nie. Ek kan ook nie al die bose in die wereld verklaar of wegwens nie, maar ek weet wel daar is krag in gebed. Maar dan moet mens self as individu moue oprol en jou deel ook doen. Gebed alleen gaan niks verander nie….maar ek dink ook nie dis wat die konferensie verkondig het nie.
    Ek was nie self by die konferensie nie en weet nie eers of ek dit sou bywoon nie, maar as dit ‘n positiewe invloed het op mense se lewens en verder op die land, dan is dit sekerlik nie ‘n slegte ding nie.
    Laastens, glo ek nie geloof is ‘n volkskonsep nie, maar wel ‘n individuele konsep. Ons kan wel bid vir die RSA, maar ek dink ons los liefs die Afrikaner buite hierdie kwotasie. Ek is ‘n Afrikaner en ‘n Christen, maar hierdie twee konsepte staan los van mekaar en het ook nie mekaar nodig om onafhanklik voort te bestaan nie.

    Dis nou te laat, maar jammer dat my kommentaar so lank is…het ‘n bietjie meegevoer geraak.
    8)

    boerinballingskap

    28 April 2008 at 17:32

  5. Boer, moenie om verskoning vra dat jou kommentaar te lank is nie! Dit is nie. Buitendien is dit lekker om met jou te gesels.

    Miskien moet ek verduidelik hoe ek die konneksies maak. Lees gerus die onderhoud met Buchan in Die Rapport hier. In die onderhoud maak Buchan die volgende stelling: “Herlewing kom deur trane en gebrokenheid. Dit begin in die huis, waar gesinne weer verenig moet word. Dan kring dit uit, op en op, tot in die parlement!” En later sê hy: “Dis wat ek wéét: As ons na God terugdraai, sal Hy ons land genees. Dit het dié naweek begin.”

    Ek dink nie dit is dus moeilik om ‘n verband te trek tussen wat op Greytown gebeur het en oplossings soek vir die land se probleme nie. Buitendien sou dit vreemd wees binne ‘n Christelike konteks om slegs vir persoonlike herlewing en vroomheid te bid. Dit is mos nie die doel van heiligmaking nie. Sekerlik beteken dit vir die Christen om “lig vir die wêreld te wees”?

    Hoe verbind ek dit dan aan die Afrikaner spesifiek? Die oorgrote meerderheid mans was Afrikaners. Sommige berigte beweer 2/3des. Die Rapport-berig noem ‘n syfer van 90%. Ewenwel, daar was baie. Vergelyk ook die Afrikaanse media se dekking van die gebeure teenoor die Engelse media. Ek sou dus wil beweer dat Greytown grotendeels ‘n Afrikaanse verskynsel was, alhoewel Buchan dit waarskynlik glad nie so bedoel het nie. Hoekom? Dit is nie net die Afrikaner wat geraak word deur die probleme in die land nie?

    Ek stem saam dat geloof nie ‘n volkskonsep is nie, maar ek is nie so seker of alle Christene met jou sal saamstem nie – neem Buchan se woorde wat ek hierbo aanhaal. Daar is definitief trekke van die verbondsvolk-konsep; ook in sy uitlatings rondom gebede vir reën. Buchan het waarskynlik nie bedoel dat dit ‘n Afrikaner-gebeurtenis moes wees nie, maar die Afrikaner het dit by uitstek aangegryp. Buchan en die identiteitlose Afrikaner pas mekaar soos ‘n handskoen a.g.v. die Afrikaner se huidige posisie.

    Ek het nie soseer ‘n probleem daarmee nie. As die naweek sal lei tot positiewe veranderinge in daardie mans se lewens, dan is dit goed. Wat my wel onrustig maak is sekere uitlatings wat baie definitiewe presedente in die verlede het. En om daarvoor te agiteer en te vra dat ALMAL daarby inval, maak my onrustig. Wat beteken dit vir die vrou wat aspirasies het om ‘n groot maatskappy se CEO te word? Gaan daar, soos in die verlede, onwelkome kommentaar in haar rigting geslinger word oor haar bevoegdheid om ‘n moeder te wees? Gaan mans aanhou om haar nie as hul gelyke by die werk te sien nie? (En binne ‘n professionele konteks, haar selfs as hulle meerdere te aanvaar.) Dan sien ek nie oplossings vir hierdie land nie, maar meer probleme.

    Ek het dit ook teen eenvoudige oplossings wat aangebied word vir die land se probleme, soos in hierdie stelling: “As ’n man sy verantwoordelikhede abdikeer, word die vrou onseker en die kinders ongedissiplineerd. En dit kring uit na die hele land.” Dit is gewoon nie waar nie. Jy kan nie so stereotipeer nie. Natuurlik is dit wel ‘n BAIE GOEIE ding as pa’s meer betrokke is by hulle kinders. Maar dit geld ma’s ook. En ma’s kan ook dissiplineer. Maar hierdie is ‘n gesprek op sy eie.

    Ek dink steeds die Afrikaner is by uitstek aangetrokke tot hierdie geleenthede, juis vanweë die huidige onsekerheid waarin hy homself bevind, ook omdat daar nog sterk onderstrominge van die verbondsteologie binne sy geloofsbelewenis is. Meer as enige van die ander bevolkingsgroepe in die land – Greytown en Buchan se uitsprake verwys. Verder meen ek dat hy dink hy oplossings vir die land se probleme daar gaan kry. En ek dink dit is gewoon nie waar nie, omdat hierdie land se probleme baie meer kompleks is as wat daar erken word.

    Nou gaan ek ophou, want ek skryf te lank. 🙂

    Ek is wel geïnteresseerd in een van jou opmerkings: jy wonder of meeste Afrikaners oor 150 jaar nog in RSA gaan woon. Is hulle dan nog Afrikaners? Ek kan insien dat die emigrante nog bande met hul land en taal sal hê. Maar daarna, wat gebeur met die volgende geslag?

    George Maru

    28 April 2008 at 19:33

  6. George, ek stem saam met jou ontleding, maar verskil vn jou dat hierdie deel is van die sogenaamde einde van die Afrikaner. Die Afrikaner was as telke male in hierdie en erger posisies. Daar is steeds vandag byna drie maal soveel Afrikaners in SA (as jy net die wit Afrikaans sprekendes tel) as ten tyde van die Boere oorlog. Hierdie is maar net ‘n nuwe hoofstuk in ‘n op and af geskiedenis.

  7. het jy geweet dat enige sisteem ‘n oplewing beleef net voordat dit uitsterf? sien bv boeke of die poskantoor.

    maeree

    29 April 2008 at 12:51

  8. George

    Sorry ek moes eintlik genoem het dat die aanhaling uit die fliek “Out of Africa” kom…? En ek is ook nie seker of dit die presiese woorde was nie…! Dit was maar die eerste gedagte wat by my opgekom het nadat ek jou artikel gelees het.

    johannes coetzee

    29 April 2008 at 15:03

  9. Wessel, ek dink dit kan ‘n interessante gesprek wees: die toekoms van die Afrikaner. Sal bietjie een of ander tyd verder hierop ingaan.

    Maeree, nee.

    Ek weet Johannes, maar die fliek was ook effe sad.

    George Maru

    2 Mei 2008 at 14:24

  10. Nog ‘n gesonde Afrikaanse debat! Ek self vind idiee van Afrikaners as die uitverkorene volk belaglik. En ek moet sê dat as iemand vir my sê hy salf my in as ‘n Mighty Man dan sal ek rêrig my lag moet inhou!

    Die Afrikaner se obsessie met godsdiens is vir my baie teleurstellend. Ek stem saam dat godsdiens, soos Afrikaanse musiek, nou ietwat van ‘n herlewing beleef. Maar ek voel dit het meer te doen met ‘n soeke na identiteit (wat nie noodwendig ‘n slegte ding is nie) as met godsdiens of musiek per sé. Die probleem is dat ons ons identiteit in godsdiens gaan soek terwyl daar soveel ander meer positiewe goed is. Besigheid, sport, musiek, avontuur en kultuur is maar net ‘n paar voorbeelde.

    Maar daar is hoop. Ek dink al hoe meer Afrikaners bevraagteken die leuens en isolasie van godsdiens. Dis al wat nodig is; vra vrae.

    Terloops wêreldwyd neem godsdiens (soos sigarette rook) net toe in die laer-sosio ekonomiese dele van die samelewing.

    Attie

    14 Mei 2008 at 11:13

  11. Inderdaad Attie.

    George Maru

    15 Mei 2008 at 21:59

  12. In retrospek dink ek jy was verkeerd 😉

    Johan Swarts

    4 Maart 2009 at 12:46

  13. Is dit al wat jy my gee?

    George Maru

    19 Maart 2009 at 6:52

  14. In retrospek dink ek Johan is verkeerd.

    Afrikaner is nie gelyksoortig aan Afrikaans nie.

    Emil

    22 Maart 2009 at 19:33


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: