riviersonderend

Liefde in die donker eeue (I) – ‘n Meisie, maar nie van Avignon

with 5 comments

“O Abelard, jy maak my wild,” het sy saggies gekreun. Hy het nie opgekyk nie. Sy het nie omgegee nie. Sy het graag sy naam geroep in hul gesteelde momente, as hulle Seneca verruil het vir Ovidius se Ars Amatoria . Heimlik was sy trots daarop dat haar geliefde ‘n lekkersê naam vir hulle ekstatiese oomblikke gehad het. Nie alle vroue is so gelukkig nie.

Sy was negentien toe sy haar professor in Logika ontmoet het. Hy was sewe-en-dertig en het homself toegewy aan ‘n intellektuele lewe vol idees, hipoteses en teorieë. Hy het gelag vir mense en hulle begeertes vir mekaar. Totdat hy haar ontmoet het.

Sou Heloise ooit kon raai in haar oomblikke van volkome genot en geluk hoe weerloos en uitgelewer haar liefde was? Sou sy ooit kon raai dat sy jare later uit die klooster aan Abelard sou skryf:

Maar ek is nie meer skaam om te erken dat my begeerte vir jou geen perke geken het nie. Ek het so baie gedoen. Ek het myself gehaat, sodat ek jou kon liefhê. Ek het hierheen gekom in lewenslange ballingskap, sodat jy ‘n stil, gemaklike lewe kan hê. Niks anders as deug, deurvleg met ‘n liefde volkome geskei van die sintuie, kon dit tot gevolg gehad het nie. Verdorwenheid kan nooit so iets inspireer nie; dit is te verknog aan die liggaam. Wanneer ons plesier liefhet, het ons die lewendes lief, nie die dooies nie. Ons hou op om te brand van begeerte vir hulle wat nie meer ons begeer nie. Dit was die idee wat my wrede oom gehad het. Hy het my deug gemeet aan my vroulike broosheid en het gedog dit was die man en nie die persoon nie wie ek liefgehad het. Hy het misluk.

Ek het jou nou liewer as ooit. So wreek ek myself. Ek sal jou steeds liefhê met die teerheid van my hele siel tot die dag wat ek sterf. As my aangetrokkenheid tot jou nie altyd heeltemal opreg was nie, as in daardie dae beide my verstand en liggaam jou nie altyd liefgehad het, het ek jou toe al vertel dat ek baie eerder jou hart wou besit as enige ander geluk, dat ek die man in jou die minste geag het.

Hiervan behoort jy heeltemal oortuig te wees deur my totale onwilligheid om met jou te trou, selfs al het ek geweet om met jou te trou deur die wêreld as eerbaar gesien sou word, en heilig in ons geloof. Tog was dit meer bekoorlik om jou minnares te wees, want dit was vryer. Die boeie van die huwelik, hoewel eerbaar, verwag steeds ‘n noodsaaklike verbintenis. Ek het nie kans gesien om ‘n man altyd lief te hê wat my dalk nie altyd sal liefhê nie. Ek het die idee om jou vrou te wees verag, maar was gelukkig om jou minnares te wees…

As daar enigiets is wat geluk genoem kan word op die ondermaanse, dan is ek oortuig dat dit die eenheid van twee persone wat mekaar in volkome vryheid liefhet, is. Hulle word byeen gebring deur ‘n verborge belangstelling en word bevredig in mekaar se waarde. Hulle harte is vol en laat geen ruimte vir enige ander passie nie. Hulle ervaar voortdurend kalmte omdat hulle tevrede is…

Alhoewel onseker, het ek jou steeds lief en tog kan ek vir niks meer hoop nie. Ek het die lewe self verloën, en myself van alles ontneem. Maar my Abelard kan ek nie opgee nie. Nie toe nie. Nie nou nie. Ek het my geliefde verloor, maar nie my liefde nie. O gelofte! O klooster! Ek het nie my menslikheid verloor onder jou meedoënlose dissipline nie! Jy het my nie in marmer verander deur my uiterlike te verander nie; my hart is nie verhard deur my gevangeskap nie; ek is steeds bewus van dit wat my geraak het. Hoewel, helaas! Ek is nie veronderstel om nog so te voel nie… ‘n Hart wat soveel liefgehad het soos myne, kan nie gou afsydig raak nie. Ons skommel lank tussen liefde en haat voor ons rus vind, en vlei onsself altyd met ‘n verlore hoop dat ons nie heeltemal vergeet sal word nie.

Word vervolg.

Advertisements

Written by George Maru

10 Februarie 2008 at 21:54

Posted in sommer net

Tagged with , , ,

5 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. wel, geluk volgens haar definisie is dus ‘n geweldige brose verskynsel.

    idiwidi

    11 Februarie 2008 at 10:45

  2. Mmm, ek sien uit na die volgende hoofstuk

    Het jy ooit die Meisie van Avignon gesien? Op TV, bedoel ek?

    sonkind

    11 Februarie 2008 at 18:47

  3. idiwidi, beaam jy?

    sonkind, ek het, maar was baie klein.

    George Maru

    12 Februarie 2008 at 7:41

  4. “Ek het myself gehaat, sodat ek jou kon liefhê.”

    Ek sukkel na woorde om die betrokke sin te beskryf. Dit se soveel in min.

    Dit is baie mooi gedoen.

    rosalindfranklin

    12 Februarie 2008 at 17:25

  5. ja, ek beaam dat geluk broos is. maar die beeld wat sy vir haar definisie gekies het, is van iets selfs nog meer broos en onwaarskynlik is as geluk.

    idiwidi

    13 Februarie 2008 at 18:33


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: