riviersonderend

Die donker kontinent: hoekom moet ek bly?

with 14 comments

Met onafhanklikwording in 1957 was Ghana se BNP per capita gelyk aan die van Suid-Korea. In 2007 was Ghana se BNP per capita $ 1,400 en Suid-Korea s’n $ 24,600. Soos Ghana, het Suid-Korea ook ‘n koloniale verlede – in 1910 het Japan dit geannekseer. Afrika is nie uniek omdat dit deur koloniale magte uitgebuit is nie. Afrika is wel uniek in die opsig dat dit nog steeds die ou koloniale magte blameer vir die kontinent se probleme saam met globalisering, internasionale maatskappye ens.

Die probleme in Afrika lê altyd op ‘n ander plek. Dit is een van my grootste probleme met die kontinent – daar word nie verantwoordelikheid geneem nie; daar is nie sprake van toerekensvatbaarheid nie; korrupsie word verdra en selfs aangemoedig; despote word ondersteun, terwyl ontwikkelde lande gedemoniseer word. Altyd, altyd lê die probleem elders.

As jy beweer Afrika se probleme word veroorsaak deur ‘n gebrek aan goeie leierskap, word jy as ‘n rassis uitgekryt (of net enigsins ‘n ander opinie het). Laat dit dan so wees. Dit verander nie die feit dat Afrika ‘n geweldige gebrek aan goeie leiers het nie (hierby sluit ek natuurlik die ou NP-leiers in – hulle was ook niks anders as tipiese Afrika despote nie).

Die afgelope paar jaar is verskeie lande en leiers as modelle van goeie regering voorgehou. Museveni van Uganda, Zenawi van Ethiopië, Afworki van Eritrea is ‘n paar voorbeelde. Intussen het Museveni in ‘n despoot ontaard, Zenawi en Afworki het mekaar getakel in ‘n oorlog oor ‘n stuk woestyn.

Van Afrika se stabiele “suksesverhale” soos Côte d’Ivoire en Kenia is daar nie veel oor nie. Die lande staar vandag oor die afgrond van etniese vyandigheid en onstabiliteit. Darfoer se konflik spoel oor na Tjaad. Die Sentraal Afrikaanse Republiek het misluk. So ook Somalië. Die Demokratiese Republiek van die Kongo is ‘n gemors. Wes-Afrika probeer die spook van Charles Taylor ontsnap.

Suid-Afrika word dikwels as Afrika se hoop voorgehou. Onder die ANC regering het Suid-Afrika ongekende ekonomiese groei beleef. Niemand sal hierdie prestasie van die Mandela/Mbeki regerings kan wegneem nie.

Tog staan Suid-Afrika vandag voor ‘n kruispad en begin dit al hoe meer die kwale van ander Afrikalande openbaar. ‘n Oplossing vir die misdaadprobleem is nie in sig nie. Inteendeel, daar is ‘n absolute onwilligheid om dit aan te spreek. Eerder word misdaadbestrydings-agentskappe soos die Skerpioene ontbind. Daar is geen aanduiding dat korrupsie onder ‘n Zuma-regering aangespreek sal word nie. Inteendeel.

Ek wonder of daar ‘n vooruitstrewende land in die wêreld is waar die regering sou kon erken dat dit verantwoordelik is vir ‘n energiekrisis soos wat ons tans beleef, en nie gedwing sou word om te bedank nie? Hier maak dit nie saak. Verantwoordelikheid is nie belangrik nie, want daar is nie gevolge vir jou dade nie.

Diegene wat meen Afrika staan op die vooraand van ‘n renaissance en dat Suid-Afrika ‘n leidende rol daarin gaan speel, wil dit seker graag glo. Miskien laat dit mense goed voel, soos om allerlei ander dinge te glo. Miskien is dit deel van Afrika se probleem. Daar is ‘n algemene warmbroeiery oor konsepte soos ubuntu en hoe wonderlik Afrika en sy mense is. Tog is dit ‘n kontinent waar nie veel waarde geheg word aan menselewens nie. Daaroor word geswyg. Niemand wil oor die olifant in die kamer praat nie.

Ongelukkig verander die gekloek niks aan die feite nie. Afrika word geteister deur swak regerings. Punt. Beleggers stel nie belang om in lande te belê met swak regerings nie (tensy dit olie, diamante of goud is…)

Daar is ‘n oorvloed lande wat meeding vir beleggings om hulle ekonomieë te laat groei. Beleggers skuld Afrika niks nie. As Afrika nie verantwoordelikheid vir haar eie probleme wil neem nie, moet sy nie verwag dat iemand anders gaan nie. Blameer maar links en regs, soveel as wat jy wil.

Solank Afrika verknog is aan haar slagoffermentaliteit, nie erns maak met misdaad en korrpusie nie, swak regerings duld, kan sy vergeet van vooruitgang.

Op die oomblik sien ek bitter min tekens dat Afrika erns wil maak met bogenoemde, wat my laat wonder: hoekom moet ek bly en saam wegsak in die moeras?

Advertisements

Written by George Maru

3 Februarie 2008 at 19:59

Posted in afrika

Tagged with ,

14 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Ek hoor jou, George, ek hoor jou. maar ek kan nie en wil nie sommer net opgee op my land nie. Iewers moet daar tog ‘n oplossing wees?! Miskien moet die VSA, die Bush-regering, ons binne val en oorneem?
    😉

    sonkind

    3 Februarie 2008 at 20:43

  2. George, sommige van die plekke wat jy noem is baie ver van SA af, en het baie min met SA in gemeen. Net ras en koloniale geskiedenis kan ‘n gemene deler wees. En al trippel jy so versigtig rondom ras, is ek nie oortuig is dis afwesig in wat jy sê nie. So versigtig is jy oor ras dat jy selfs ‘n onregverdige klap na die ou NP leiers swaai om te wys jy is nie ‘n rassis nie. Daar is groot en belangrike verskille tussen die ou NP leiers en Afrika leiers waaroor jy kla, onder meer:

    1. Hulle het nie hulself onwelvoeglik verryk nie, en het nie Switserse bankrekenings gehad nie.
    2. Hulle het eie mense opgehef – uit ‘n put van ‘n armoede en ongeletterdheid.
    3. Hulle het baie tot stand gebring en die ekonomie opgebou.
    4. Daar was nooit ‘n Afrikaner leier wat teen sy mense se wil in bewind gebly het nie.
    5. Daar was ‘n Koue Oorlog aan die gang waarin alle kante gruwels gepleeg het, en die NP regerings het ‘n teenstander gehad wat hulle met geweld wou omverwerp.

    Ek noem nie hierdie dinge om hul wreedhede te regverdig nie, maar omdat ek glo dat hul relatiewe sukses was gewortel in die feit dat hulle aan hul volk moes verantwoording doen.

    Ek aanvaar sommige van die verskonings wat aangevoer word vir Afrika state se mislukking. Veral die probleem van koloniale grense. Min volke in Afrika regeer hulself – die wat wel doen, byvoorbeeld Botswana, is nie so sleg daaraan toe nie.

    alleman

    4 Februarie 2008 at 1:43

  3. Baie goeie en geldige punte Alleman.

    labmuis

    4 Februarie 2008 at 1:51

  4. Goeie inskrywing, George! Soos jy seker al op my blog gelees het, deel ek jou denkrigting oor Afrika. Die vergelyking met Suid-Korea is baie in die kol. Ek kan ook dalk net byvoeg dat Korea eers in 1987 ‘n demokrasie geword en ook ‘n geskiedenis van politieke onderdrukking het. Ek kan net my kop skud in verwondering vir die Koreane oor die wyse waarop hulle die land van niks af opgebou het tot ‘n reus. In Ghana was daar nie eens ‘n oorlog nie – na die Koreaanse burgeroorlog in 1953 was daar letterlik niks van Korea oor nie.

    Die een wesenlike verskil tussen Ghana en Korea is natuurlik dat Korea ‘n (baie) homogene volk is, terwyl Ghana (soos ander Afrika-state) etnies divers is. Etniese homogeniteit is ‘n wesenlike faktor as mens na die sukses van state kyk. Maar terselfdertyd is dit nie ‘n verskoning wat goed genoeg vir Afrika is nie (vgl VSA, Kanada, Belgie, Switserland, Maleisie esm.)

    Ek sou graag meer wou uitbrei oor my waarnemings van – wat ek noem – die “Koreaanse mentaliteit”, maar hierdie kommentaar raak nou te lank.

    Alleman, soos Labmuis tereg opmerk: goeie kommentaar – ek stem saam met jou.

    boerinballingskap

    4 Februarie 2008 at 6:07

  5. Sonkind, Afrika móét begin verantwoordelikheid neem.

    Alleman, as jy skryf wat ek geskryf het vandag in Suid-Afrika, dan word jy ‘n rassis genoem. Soos ek sê, laat dit dan so wees. Ek verskil nie dat die ou NP-leiers nie sleg regeer het vir die blankes nie. Hulle het egter ‘n land regeer waar hulle niks omgegee het vir 80% van die bevolking nie. Dit maak hulle nie juis goeie regeerders in my boek nie. Onthou ook dat SA onder die NP ook maar ‘n eenpartystaat was. Daarboor blameer ek die kiesers. Dit verstaan ek nie van Afrika nie. Waar daar demokrasie is, is dit steeds een party wat al die mag het. En as hulle die dag verloor of bedreig word, is daar chaos.

    Ek is nie presies seker wat jy bedoel dat ek rondom ras trippel nie. Maar as jy meen dat Afrika se probleme te wyte is aan koloniale grense en dat die kontinent sukkel met etniese integrasie (wat die ooglopend doen in my boek), dan het die tyd aangebreek om ernstig te besin oor die balkanisering van Afrika. Maar dit sal seker nooit bespreek word nie, want dit is heeltemal te on-PC. Liewers dan maar nog ‘n Rwanda, nog ‘n Darfoer, nog ‘n Biafra.

    Ek is jammer, maar ek stel nie meer in verskonings belang as oplossings nie eers onder bespreking is nie.

    Labmuis, hallo.

    Boer, doen ‘n pos oor die “Koreaanse mentaliteit”. Ek stem saam dat etniese diversiteit nie langer ‘n verskoning is nie. Get over it, of trek die grense van Afrikastate oor.

    George Maru

    4 Februarie 2008 at 6:34

  6. Ongelukkig sien ek nie veel hoop vir ons hier in sonnige SA nie. Ek het op Carte Blance gisteraand ‘n traan gestort vir ons kinders. Hulle moet nou berading kry vir die geweld in ons land. Die moorde hou net nie op nie! Eskom kan nie genoeg krag voorsien nie en voer krag na die buurlande uit vir goedkoper as SA. Die myne verloor miljoene elke dag. Die volgende krisis is die water wat besoedel word. Ons het nie eens meer skoon water nie. En hulle sing, bring my masjiengeweer in die parlement!

    Geen rede om te bly nie. Ek wil net hier verdwyn. Of die VSA moet hul gat in rat kry en baie vinnig Afrika kom oorneem.

    Boegie

    4 Februarie 2008 at 11:29

  7. Boer, doen asb. ‘n blog oor die “Koreaanse mentaliteit”. Dit sal baie interessant wees.

    Ek stem saam grootliks saam met wat julle sê. Ek kan ook verstaan dat mense in Suid-Afrika nou moedeloos voel as gevolg van Eskom se probleme, die regering se onwilligheid om iets aan misdaad te doen en algemene onkompetentheid.

    Ek voel net dat mens nie so maklik die skuldmantel net om Afrika se skouers kan hang nie. George, jy noem byvoorbeeld die geweld en burgeroorloë. Een van kolonialisme se ergste wandade was om state op te deel soos dit hulle pas en dus verskillende etniese groepe in een land te forseer. Dit is ‘n groot oorsaak van baie van die geweld in Afrika wat state lamlê. Dat geweld spruit uit so ‘n geforseerde saamvoeging is glad nie uniek aan Afrika nie. Vat maar net Noord-Ierland waar mense van dieselfde ras en leefwyse mekaar wil vermoor op grond van sogenaamde geloofsverskille – al het meeste van hulle nog nooit ‘n voet in die kerk gesit nie. Dit het meer te doen met wrokke wat langs geslagte afgedra word. Ek weet julle het nou al hierdie punt aangeraak, maar mens kan dit eenvoudig nie buite rekening laat nie. Ek dink baie van die vredesmakers in Noord-Ierland het ook gevoel om soos jy te sê: “Get over it,” maar dit is eenvoudig nie so maklik nie.

    Nog ‘n faktor wat teen Afrika tel (maar wat darem niks met kolonialisme te doen het nie), en wat nie in ander lande soos Korea wat jy as voorbeel noem so ‘n groot rol speel nie, is siektes. Malari, TB, VIGS en ‘n lang lys tropiese siektes is epidemies aan groot dele van Afrika. Dit vreet aan die sosiale struktuur van gemeenskappe omdat die ouers en broodwinners te siek of nie beskikbaar is om vir hulle gesinne te sorg nie. Mens kan wel redeneer dat baie van hierdie siektes in die Weste uitgeroei is, maar in Afrika is dit nie so maklik om sulke siektes die hok te slaan nie. Dit is ‘n heeltemal ander logistiek en geografie.

    Dan is daar ook die onregverdige handelsreels. In ruil vir hulp het baie arm lande, onder groot druk, handelsooreenkomste onderteken wat hulle dwing om hulle grense oop te stel vir goedkoop produkte van meer ontwikkelde lande. Die gevolge hiervan is katastrofies vir hulle ekonomieë. Die sogenaamde ‘oplossing’ is meer hulp en so verval hierdie lande in ‘n onomkeerbare afwaartse spiraal van bakhand staan en ‘n onvermoë om selfversorgend te wees.

    En laastens kan ons nie die post-koloniale korupte invloed van die Weste vergeet nie. Verkose leiers word geëlimineer en diktators ondersteun omdat hulle beleidsrigtings die Weste bevoordeel. Hiermee sal ek vir eers volstaan, al kan mens ‘n hele blog en debat voer net oor hierdie laaste punt.

    labmuis

    5 Februarie 2008 at 1:35

  8. volgens jeffrey sachs is een van die groot probleme van afrika, behalwe vir korrupsie, geografie.

    maeree

    5 Februarie 2008 at 14:34

  9. Lyk my ‘n politieke meme het ons oorval. Ek geniet elke oomblik daarvan (en ek praat nie hier van geniet soos ‘n mens ‘n roomys geniet nie. Ek drink letterlik julle opinies oor sake waarvan ek nie altyd baie weet nie).

    George, soos gewoonlik skryf jy prikkelend en bondig. Nice.

    Johan Swarts

    5 Februarie 2008 at 17:28

  10. George, ons ‘tag’ ALWEER. Gaan lees hier

    http://sonkind.wordpress.com/2008/02/05/top-10-moermeter-aanjaers/

    waaroor dit hierdie keer gaan!

    sonkind

    5 Februarie 2008 at 22:16

  11. Waarom word jij geen goeie leier nie?

    Slim

    7 Februarie 2008 at 10:20

  12. Wat hou jou trug…?

    johannes coetzee

    8 Februarie 2008 at 16:25

  13. Dankie vir almal se kommentaar. Ek skat hierdie jaar is die jaar om dinge te oordink en besluite te neem. Ek gee myself ‘n jaar om die kat uit die boom te kyk en te besluit “ja” of “nee”. Indien wel, watter land? Australië, Nieu-Seeland, of Kanada?

    Labmuis, ek hoor jou oor handelsreëls. Maar. Hoe vry is suid-suid handel? Wat is die stand van suid-suid handelsooreenkomste? Mercosur, Ecowas ens. is ‘n grap.

    Johannes, ek is lief vir die Kaap.

    George Maru

    10 Februarie 2008 at 19:31

  14. […] 26, 2008 at 12:46 am (Korea) Maande terug het George terloops gevra of ek nie ‘n inskrywing wil doen oor die “Koreaanse mentaliteit” […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: