riviersonderend

Deon Maas: Laaste woorde

with 12 comments

Wat bly oor om te sê na al die woede, die geweld, die skok, afgryse? Die mens bly maar een van die kwesbaarste wesens wat nog hierdie aarde bewandel het. Hy is in staat tot soveel. Hy ontwikkel geneesmiddels teen epidemies, verken die buitenste ruim, bied rusplek aan die reisiger en skuiling aan die weduwee. Maar ook verkrag en moor hy, buit mense uit vir eie gewin, en kyk TV as mense in hulle duisende in vreemde lande geslag word.

Keer op keer het die geskiedenis bewys hoe maklik dit vir die mens is om te gly van sy edelste drome en wense na sy skadukant. Pol Pot het ongehinderd menigtes van sy eie mense vermoor. Duitsers het toegekyk hoe Jode, Roma en gays na konsentrasiekampe gestuur is.

Ek herinner myself aan ‘n gesprek van Umberto Eco, waarin hy ‘n opmerking gemaak het oor geloof en ons kwesbaarheid. Selfs al glo ‘n mens nie in die Christengod nie, kan ‘n mens nie anders as om die storie van Christus te bewonder nie en die mens se behoefte aan so ‘n storie. Al glo jy nie in die god se bestaan nie, gryp die verhaal mens aan oor die pre-moderne mens se vermoë om ‘n model van universele liefde en onvoorwaardelike vergifnis so roerend gestalte te kan gee. Dit spreek tot die beste waartoe die mens moreel in staat kan wees; die beste waarvoor hy kan hoop om te word.

‘n Hele geloof is gebou rondom die man Jesus, ‘n geloof wat daarop roem om hierdie boodskap van universele liefde en onvoorwaardelike vergifnis te bely, verkondig, en te leef.

Maar soos Eco tereg opmerk, wys die geskiedenis ons dat die mens nooit kon kersvashou by sy edelste drome nie. Die geskiedenis is die een hartseerverhaal na die ander waar hierdie kwesbare wese keer op keer gefaal het om aan sy mooiste verwagtinge hande en voete te gee.

Vandag is nie anders nie.

Vandag se Rapport noem dr. Kobus Gerber, sekretaris van die NG Kerk, dat die besprekingspunt nie meer Maas is nie, maar hoe Christene opgetree het: “Is dit die Christendom van die evangelie? Hoe verstaan ons mense hoe die grondwet werk?”

Die Rapport vertel van dreigemente, selfs teen persoonlike eiendom. Lees die Afrikaanse blogosfeer. Woorde waarmee Deon Maas beskryf word: werfetter, moerse doos, poes. So kan ‘n mens aangaan. O ja, en dan word die Bybel ook nog bygesleep, asook Maas se boyfriend (?!). Jy steier terug soos jy lees hoe mense woedend hulle haat op rekenaarskerms braak.

SMS-boodskappe en eposse het die land deurkruis. Mense skryf boodskappe dat Rapport vandag geboikot moet, omdat Maas ‘n rubiek gáán skryf wat Satanisme ondersteun. Gáán skryf. Hulle weet nie eers waarvan hier gepraat word nie, maar het ‘n klok iewers hoor lui en gaan terstond aan die marsjeer, soldaatjies vir Jesus.

Hennie Stander is in sy noppies en dominees juig saam. Christene staan op! Christene staan saam! Veg vir die saak.

Lees weer hierbo.

Dit is hoe Christene hulself definieer.

Dit is hoe Christene hulself definieer.

Dit is hoe Christene hulself definieer.

In hierdie optrede.

En waaroor gaan die bohaai? Blykbaar wil Deon Maas Satanisme onder kinders propageer, of so iets. Ek weet nie regtig nie. Ek vermoed Rapport het ‘n ander artikel op die web geplaas, want ek lees dit nie raak nie. Niemand vra om beskaafd gesprek te voer, niemand wil uitvind of hulle Deon Maas reg verstaan het nie. Net haat en vrees word gespoeg waar jy kyk.

Dit is wat blinde geloof aan jou doen. Blinde geloof is ‘n glo-soos-‘n-kind-geloof. Blinde geloof is ‘n ek-weet-nie-ek-glo-maar-net-geloof. Blinde geloof word gedryf deur vrees, veral vir die bose. Dit het die afgelope week duidelik geword.

Wat het geword van die boodskap van die transformerende krag van die liefde? Dit is Paulus wat geskryf het: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” ‘n Mens hoef nie saam met Paulus te glo nie, om te weet dat hy hier waar woorde praat oor liefde nie. Geen vrees, geen haat kan in die teenwoordigheid van liefde se transformerende krag staan nie. Liefde trek aan. Dit oorweldig met eenvoud, in stilte, in ‘n kyk.

Dit dryf vrees uit.

‘n Mens kan maar net spekuleer waar die Christendom vandag sou gewees het, as sy meer kon fokus op haar sentrale boodskap.

‘n Mens kan maar net spekuleer. Weer het hierdie sentrale boodskap wat eeue gelede reeds gebore is uit versugtinge na iets groters, iets bewonderenswaardig, iets nastrewenswaardig, verlore gegaan, en bly dit ‘n onbereikbare belofte waarna getas word.

Deon Maas het dalk sy verdiende loon gekry, maar vandag het die Christendom verloor.

My hart huil vir die Christendom.

Advertisements

Written by George Maru

18 November 2007 at 10:20

Posted in afrika, nuus

Tagged with , , ,

12 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Vreemd genoeg het Kobus Gerber se woorde my ‘n bietjie hoop gegee. Mens moet nie onderskat hoeveel moed dit sou geverg het vir hom om daardie uitlating te maak nie, die storm om sy kop sal geweldig wees. Ek bewonder hom vir die feit dat hy voortveg, dat hy nie geloof verloor terwyl die res van ons al lankal opgegee het nie.

    Bertus!

    18 November 2007 at 15:51

  2. Bertus!, ek weet nie mooi wat jy bedoel met “lankal opgegee” nie? As jy meen daar is mense wat opgee op die Christendom oor wat Christene doen, dan wonder ek of dit ‘n goed genoeg rede is (ek loop nou die risiko om myself te weerspreek 🙂 ).

    As jy opgegee het, omdat jy nie meer glo wat Christene glo nie, sien ek dit ook nie as opgee nie. Dit is gewoon net aanbeweeg.

    Maak dit regtig saak waar jy staan? Geloof, ongeloof, nie-geloof? Dit is tog alles kleure van dieselfde reënboog.

    Ek stem ook nie saam met jou idee van voortveg nie, maar dit is dalk ‘n gesprek vir ‘n ander dag.

    George Maru

    18 November 2007 at 18:49

  3. ons trek maar steeds spoegsirkeltjies en dink God het nodig dat ons hom beskerm.

    die logika (?!) van hierdie hele besigheid gaan my verstand te bowe. maar miskien moes ‘n koerant wat vir afrikaner-angst cater, van beter geweet het. ek wonder net hoekom vir maas afdank – is hy die een wat besluit wat in die koerant geplaas word? en is die pers nou die mense wat vryheid van spraak op die altaar van winsbejag gaan offer?

    maeree

    19 November 2007 at 18:22

  4. Ek dink dis onregverdig dat swart mense alle blankes verwyt oor apartheid. Dit was nie ek nie.

    Ek dink dis onregverdig om alle swart mans as gevaarlik te bestempel omdat een jou beroof het. Dis nie almal nie.

    Ek dink dis onregverdig om die hele Christendom aan te spreek oor ‘n uitlating en sms’e en ‘n paar gesiene mense se standpunte. Dit was ook nie ek nie.

    Blameer die mens, nie die geloof nie…..

    Louw de Twak

    19 November 2007 at 20:35

  5. Great pos dié. As mens maar meer sulke soort preke van die preekstoel af kon hoor sou daar dalk vandag minder fundamentalisme in die wêreld geweesv het.

    Jean

    19 November 2007 at 23:15

  6. die sentrale boodskap. ek dink daar is twee soorte christene – die blinde-geloof tipe en die ander klomp wat die sentrale boodskap raaksien en daaraan vasklou. dis moontlik van hulle wat Bertus! praat as hy sê “voortveg”.

    idiwidi

    20 November 2007 at 9:23

  7. Deon Maas is maar net ‘n gerieflike weerligafleier om die aandag van die Satan wat die kerke en kerkstrukture beheer weg te lei.

    Die christene wat vasgevang is onder die gesag van kerke en kerkstrukture besef nie dat hulle Satan (wat hom voordoen as engel van die Lig) aanbid nie.

    (2Thess 2:3) Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf

    (2Thess 2:4) die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

    Namate ons datum van die wegraping van die uitverkorenes van God op 21 Mei 2011 nader sal Satan se werke toenemend openbaar gemaak en ontbloot word. Hierdie ontbloting van die werke van God se vyande sal vir die daaropvolgende 5 maande daarna ‘n hoogtepunt bereik wanneer hierdie heelal op 21 Oktober 2011 deur vuur verteer gaan word.

    (Openb 9:5) En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skerpioen wanneer hy ‘n mens steek.

    johannes coetzee

    22 November 2007 at 8:41

  8. Jammer om van die onderwerp hier af te wyk maar Johannes, waar kom jou akkurate linieëre datums vandaan vir die wegraping en die eindtyd?

    duskant

    22 November 2007 at 15:48

  9. Duskant, lees en luister meer hieroor en besoek gerus ook

    http://www.familyradio.com en
    http://www.timehasanend.org

    En vir diegene wat in Suider Afrika of Afrika woon en nie die voorreg van internet het nie, luister gerus in die aande om 19h30 of 23h30 (SA-tyd) oor die radio na die program OPEN FORUM op Family Radio oor AM 1197khz

    En vir diegene wat nog Short Wave kan opvang SW 3230khz en SW 6020khz (21h00 tot 23h00)

    johannes coetzee

    22 November 2007 at 16:30

  10. Hoor hoor Louw de Twak.

    Anoniem

    22 November 2007 at 19:47

  11. angasi nkosi angasi nkosi

    reminder:

    11 Desember 2007 at 12:09

  12. Geen wegraping. Dis nie bybels nie.

    Gerharh

    7 Julie 2010 at 10:27


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: