riviersonderend

Ek lê die pen neer

with 21 comments

Ek sou nooit kon raai dat die hele blogbedryf so lekker kon raak nie. Wel, vir my ten minste. Lesers mag anders voel. Ek weet dat ek oor ‘n jaar of twee weer bietjie gaan lees wat ek geskryf het, en vir myself lag, en dink: “Simpel drol.” Dan sal ek my op die skouer klop en myself vertel dat ek nou van beter weet.

Dit is alles goed en wel. Maar ek weet ook dat daar verandering in die lug is. Dit is die Prediker wat geskryf het dat elke ding sy vaste tyd het. Daar is ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om te bou. (Ek flankeer weer so bietjie met die fossiel, omdat die boek ‘n wonderlike manier het om die sinloosheid van hierdie eksperiment te beskryf.)

Toe ek die blog begin het, het ek baie oor godsdiens geskryf. Teen die tyd is dit sekerlik nie ‘n geheim waar ek ten opsigte van godsdiens staan nie. Lesers wat van die begin af hier gelees het, sal seker nog die berugte Los Jesus liewers by die kerk inskrywing onthou. Good grief. Ek onthou nog die emails! Daar was nog. Ek word gereeld aan hulle herinner as ek sien hoe mense op die blog afkom.

Maar die tyd om af te breek is nou verby. Lesers wat primêr hier gelees het vir die godsdienstige inskrywings (m.a.w. niemand nie), mag dalk teleurgesteld wees. Ek lê die pen neer oor geloof, die kerk en godsdiens. My hart is nie daarin nie. Ek het onlangs al die nuus feeds oor hierdie onderwerpe verwyder. Daardie stroom het nou opgedroog.

Miskien is ‘n paar persoonlike opmerkings in orde vir konteks. Die godsdienstige wêreld was van kleins af my natuurlike tuiste. Daarom was die keuse om teologie te gaan swot vir my vanselfsprekend. Hoe langer ek geswot het, hoe meer het die kerk se geestelike geweld teen mense my begin pla. In my vyfde jaar, het ek besluit dat ek nie ‘n dominee wíl word nie.

Ek het nog probeer kerk toe gaan, maar dit het nie te lank gehou nie. Een middag het ek ‘n afspraak by dominee X gemaak om te probeer red wat daar nog te redde was, al was dit reeds te laat. Jy sien in slow motion hoe die glas val. Ek het buite op die kerk se trap gaan sit en ‘n bietjie gegrens vir sentimentele redes, opgestaan, weggeloop, omgedraai en vir liewe Jesus vir oulaas koebaai gewuif. A myth has just been shattered.

So ek dink mens neem maar ‘n tyd om dit wat eens soveel saak gemaak het uit jou gestel te kry. Jy stap die pad wat jy stap. Tog het ek ook besef dat ek halfhartig skryf oor geloofsake, want eintlik wil ek nie meer nie. Ek stel nie meer genoeg belang nie.

Ek sluit dus hiedie gesprek op riviersonderend af met ‘n laaste opmerking. Ek stem saam dat daar twee tipes teologie is: goed en sleg. Goeie teologie neem jou op die weg van groter verdraagsaamheid en omgee vir jou medemens. Slegte teologie maak jou onverdraagsaam en blind vir jou medemens. As jy goeie teologie bedryf: seën vir jou. Gaan in vrede. As jy slegte teologie bedryf: jou moer.

Die tyd om op te bou het nou aangebreek.

Viva!

Advertisements

Written by George Maru

8 Oktober 2007 at 22:13

Posted in sommer net

21 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. hel jy’t my nou lelik laat skrik, ek dog jy hou sommer op blog.

    ek hou van jou slotsin 🙂

    Johan Swarts

    9 Oktober 2007 at 0:26

  2. (haai, hoe’t jy daai domain name gekry?)

    Johan Swarts

    9 Oktober 2007 at 0:31

  3. geez

    kry ek ok amper ‘n hartaanval – dog jy maak die blog toe. Nee man…moenie mens so laat skrik op ;n maandag nie!

    amanda

    9 Oktober 2007 at 5:23

  4. Elke ou dink seker sy eie teologie is goed. Ek sien wel dat dit veel makliker is om populere teologie te bedryf. Then again is niks wonderliker as om te sien hoe iemand tuis voel wat voorheen nie sou nie.

    freddy

    9 Oktober 2007 at 7:27

  5. Ek het al ‘n paar keer besluit om nie meer oor godsdiens te skryf nie. Dit kon die swye nooit regtig volhou nie.

    Bertus!

    9 Oktober 2007 at 11:08

  6. Welcome to the world of “Public Theology”, georgieboy. Jy gaan agterkom hoe jy nou gaan teologiseer oor “die gewone dinge”, sonder dat jy ooit eers die woord godsdiens en teologie of geloof hoef te gebruik. Goeie Publieke Teologie op sy beste!

    RMB

    9 Oktober 2007 at 11:19

  7. George

    Jy reken dis om te begin bou….?

    Wie of wat gaan jou eerste bousteen wees, en wie of wat gaan die fondament wees waarop jy wat gaan bou…?

    johannes coetzee

    9 Oktober 2007 at 12:21

  8. “Georgieboy”?! “Public theology”!

    Mensig, dis cool. Baie welkom, RMB! 🙂

    freddy

    9 Oktober 2007 at 13:31

  9. Kan jy vir ons ‘n idee gee waaroor jy in die toekoms gaan skryf?

    Ek lees tans oor die Jesus Seminaar en geniet dit baie. Dikwels raak ek gatvol vir die godsdienstige klomp, veral as ek lees oor mense soos voorverlede week se Hervormde Kerk Vergadering, maar dan dink ek aan die vreugdes wat ek daaruit put om die Jesus Seminaar te lees, of na Heila PSN te lees, of sulke goed, en dan besluit ek om my nie te laat wegjaag nie. Ek wil nie regtig hê die drolle moet die geestelike gesprek heeltemal kaap nie. Ek wil my nie laat uitdryf deur hulle nie. Dalk is dit ‘n gepoep teen die wind, maar ek wil tog aanhou probeer veg vir die goeie. Dinge kan tog beter wees, hoop ek, en ek wil dit nie net aan die aasdiere oorlaat nie. Ek wil nie hê Jesus en die Soefi-meesters en Marcus Borg en Meister Eckhart en Krishnamurti en al die goeie mense moes so baie opgeoffer het, net om te vind daar is niemand wat die aflosstokkie by hulle wil oorneem nie.
    As mens in die gesprek aanbly, doen jy dit natuurlik ten koste van jouself. Jy moet leef met die woede en irritasies en hartseer en moedeloosheid wat dit by jou oproep, maar daar is tog mooi oomblikke. Ek weet nie of laasgenoemde alles die moeite werd maak nie, though.

    Bertus!

    9 Oktober 2007 at 13:32

  10. “Religion burnout” is die woord. Dit beskryf dit perfek.

    Bertus!

    9 Oktober 2007 at 13:42

  11. Groot geskrik, saam met Johan en amanda! Godsdiens, politiek, seks – that’s what make the world go round! En tog word daar gesê mens moet wegbly van al 3 hierdie onderwerpe af as jy nie jou vriende wil de moer in maak nie. So, hoe nou vorentoe, George?

    sonkind

    9 Oktober 2007 at 13:43

  12. Johan, lees hier. Teen $15 kan jy ook ‘n ego trip hê. Maar ek vermoed dit verwyder jou van die charts, as dit vir jou belangrik is. 😉

    Amanda, ek’s nog hier!

    Freddy, enigiets populêr is makliker, dink ek.

    RMB!!! Ons sal oor koek en tee gesels. 🙂

    Johannes jy sal maar moet aanhou lees.

    Bertus! ek dink RMB is reg, maar hy/sy sal my eers moet verduidelik wat ek gaan doen 🙂 Dalk het ek nie duidelik oorgekom nie. Ek sal nie ophou skryf oor Krishnamurti, die Soefi’s ens. nie. Inteendeel. Die deel waarmee ek klaar is, is posts oor wat die NG Kerk (of enige kerk for that matter) en wat hulle nou weer gesê/gedoen het. Wat dink mense van die kerk? Ens. Who cares! Volgens my is dit godsdiens. Ek sal later ‘n inskrywing maak wat dalk beter sal veduidelik.

    Ek verskil egter met jou oor die “ten koste van jouself.” Indien dit die geval is, is daar geen rede om aan te bly nie. Dit klink nie vir my soos ‘n lewe wat ek wil hê nie.

    Sonkind, waaroor gaan ek blog? Ek moet jou vertel hoekom Tutu cool is. (Net ‘n grappie.) Ek dink daar is meer te sê oor sosiale verantwoodelikheid (moenie julle oë vir my rol nie!). En dalk begin ek ‘n hygnovelle, oor die meisie van die padstal en haar karooboer met die vasvat hande. Dit sal tart, prikkel, maar tog smaakvol wees vir die moderne vrou en die byderwetse man wat ewe tuis voel met ‘n Car magazine en die jongste Elle.

    Of dalk begin ek ‘n seksadvieskolom (net omdat ek kan) en bespreek verskeie fantasieë en vra die vraag waaroor almal deesdae wonder: bestaan aseksualiteit?
    🙂

    George Maru

    9 Oktober 2007 at 19:53

  13. Good Grief, George! ‘n Hygnovelle! Ek kan nie wag nie – 🙂

    Natuurlik bestaan aseksualiteit.

    “Aseksualiteit (zie ook frigide) is een term die gebruikt wordt voor individuen die geen gevoelens hebben op het gebied van seksualiteit.”

    Aseksuele het selfs hul eie website!
    http://www.asexuality.org

    sonkind

    9 Oktober 2007 at 21:25

  14. dis nou iets waaroor rammstein ‘n liedjie sal skryf

    Johan Swarts

    9 Oktober 2007 at 23:38

  15. dit wil lyk asof ons ‘n nuwe deelnemer het in ons midde….ene RMB. MMMM….wys so bietjie meer lyf dat ons jou kan leer ken.

    amanda

    10 Oktober 2007 at 7:58

  16. Eks so bly jy lê net die pen neer… en nie die tuig nie…!

    Ek wil net weet het jy toe by moertoe (die vreemde in) uitgekom…?

    johannes coetzee

    10 Oktober 2007 at 12:03

  17. Dan is ons nou klaar hier met die huigelnovelle en verskuif na hygnovelles.

    freddy

    10 Oktober 2007 at 14:18

  18. O ja: 🙂

    freddy

    10 Oktober 2007 at 14:19

  19. nee, vir wat dan nou ‘n halfbloed novelletjie skryf. pak ‘n roman aan, sê ek! skryf ‘n agaat!

    /me waxes lyrically

    Johan Swarts

    11 Oktober 2007 at 1:02

  20. ek dink ons het dit sien kom, george. ewolusie. ek sien uit na die volgende era.

    idiwidi

    11 Oktober 2007 at 4:29

  21. Hey George,

    Ken ons die boer met die hande? Gaan jy hom mooi skryf vir hierdie padstaltert? Ek kan nie wag nie…

    K ‘-)

    Karin

    15 Oktober 2007 at 0:39


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: