riviersonderend

Versindaba

with 10 comments

Dit is een van die dae weer tyd vir die Versindaba (6-8 September, Stellenbosch). Ter viering daarvan, en ook omdat ek so lanklaas ‘n gedig geplaas het, verklaar ek die week as ‘n week van poësie.

Ek dink dit is heel gepas om by een van my gunstelingdigters te begin. Natuurlik praat ek van Breyten Breytenbach!

***

ek sal sterf en na my vader gaan
Wellington toe met lang bene
blink in die lig
waar die kamers swaar en donker is
waar sterre soos seemeeue sit op die nok
en engele vir wurms spit in die tuin,
ek sal sterf en met min bagasie
in die pad val
die Wellingtonse berge oor
tussen die bome en die skemer deur
en na my vader gaan;

die son sal in die aarde klop
die wind se branders laat die voeë kraak
ons hoor die huurders
skuurloop bo ons kop,
ons sal dambord speel op die agterstoep
– ouvader kul –
en oor die radio
luister na die nag se nuus

vriende, medesterwendes,
moenie huiwer nie; nou hang die lewe
nog soos vlees om ons lywe
maar die dood beskaam nie;
ons kom en ons gaan
is soos die water uit die kraan so
soos klanke uit die mond
soos ons kom en ons gaan:
ons béne sal die vryheid kén –
kom saam
in my sterf in in my na my vader gaan
Wellington toe waar die engele
met wurms vet sterre uit die hemel hengel;
laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:
mý vader het ‘n groot bôrdienghuis

Advertisements

Written by George Maru

2 September 2007 at 7:55

Posted in afrikaans, kuns, poësie

10 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. dis pragtig. jy al battery 9 se verwerking daarvan gehoor op mondmusiek?

    Johan Swarts

    2 September 2007 at 13:30

  2. 😀
    bak idee – sien uit na die ander gedigte!

    idiwidi

    2 September 2007 at 14:10

  3. Dis nou nie mens uitgedinkte gedig nie… Vir diegene wat geen erg aan die Bybel het nie, vergewe tog maar asb, maar Breyten (se gedig) se laaste woorde het my aan hierdie “gedig” van Jesus in die Bybel laat dink.

    (Joh 14:1) Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.

    (Joh 14:2) In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.

    (Joh 14:3) En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

    (Joh 14:4) En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.

    johannes

    2 September 2007 at 18:46

  4. johannes – die mooiste gedig vir my, in die Bybel, is Psalm 27 (ja, nie 23 nie)

    George – hierdie een bly my by:

    Die Kranksinnige

    In hierdie sel
    agter die grense
    van die vel
    en die hoë
    vensters van die oë
    is twee mense:
    die een is gek,
    die ander, ek.

    Dis hy wat kerm en gil
    maar ek is bang en stil.

    In elke klein uur van die nag
    veg ek teen hom met minder krag
    en as hy wen dan skree hy uit

    sy wrok teen God en wêreld uit.
    In hierdie klein vertrek
    van vlees en been,
    is twee. Die een
    is gek,
    die ander, Ek

    sonkind

    2 September 2007 at 19:52

  5. En hier is my gunsteling Breyten gedig!

    Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
    want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
    Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
    weet al die jagters sal dink dis die son.
    Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
    en waar hy vlieg daar skitter oseane
    en bome word groen
    en hy kleur my boodskap so bruin oor jou vel

    Want my liefde reis met jou mee
    my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
    soos vlerke, wit soos ‘n engel.
    Jy moet van my liefde weet
    soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie.

    amanda

    2 September 2007 at 21:55

  6. Sonkind, daai is een van my beste beste gedigte!!
    George, “die son sal in die aarde klop”…WOW!!!! beautiful!!
    Ek gaan die 6de versindaba kyk, kan nie wag nie!! my eerste keer!!

    Melanie du Toit

    2 September 2007 at 23:44

  7. Sonkind

    Amper sê ek Amen.

    Maar ter wille van hulle wat nie daarvan hou sal ek liewer in stilte wag…!

    (Lam 3:26) It is good that a man should both hope and quietly wait for the salvation of the LORD.

    Breyten bly bo… (die een wat kan dig natuurlik, maar die een wat kan backsamies maak is ook nie te bad veral as hy die scoreboard se lig laat dig…!)

    johannes

    3 September 2007 at 9:39

  8. Woordkunstenaars gryp my altyd aan. Dalk omdat ek wens ek het die talent/gawe/vermoë gehad. Breyten se gelyke is min. Dankie dat ek my sommer weer kon verlustig in hierdie besondere gedigte.

    attie

    3 September 2007 at 9:42

  9. Try dan Van Wyk Louw, Opperman of Eybers 😉

    Melanie – het jy al kaartjies gekoop?!?

    Johan Swarts

    3 September 2007 at 9:57

  10. Johan, ja, ek het mondmusiek. Jy moet bietjie geduldig wees! Ek kan nie almal op een slag plaas nie.

    Sonkind, dit is beautiful.

    Amanda, ek koester vandag nog “Allerliefste”. Dit het op universiteit in my hart ingekruip. As ek dit vandag hoor, dink ek weer aan daardie dae. My Kop Op ‘n Blok het hier oor die gedig geskryf. Gaan lees gerus.

    Melanie, die Versindaba is cool.

    Johannes, jy is snaaks.

    Attie, ‘n plesier.

    idiwidi, hallo.

    George Maru

    3 September 2007 at 20:51


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: