riviersonderend

Die gevare van spiritualiteit?

with 17 comments

Die afgelope naweek het ek ‘n marathon DVD-sessie aangepak om die Comrades te vier. Dit is hoe ek my solidariteit wys met mense wat lank en aanhoudend dieselfde ding doen. (Ek weet, ek weet. Die Comrades was die vorige naweek, maar ‘n vriend uit Australië het toe by my gekuier en ek was daardie Sondag vir die eerste keer in 10+ jaar kerk toe.)

Noudat TV-reekse op DVD uitgereik word, het dit blykbaar ‘n tendens geword dat mense oor ‘n naweek ‘n hele seisoen se programme gulsig opkyk. Ek hou nogals van die tendens.

So sit ek die naweek deur 750 minute se drama. Dit is lekker, want jy hoef nie ‘n week te wag om uit te vind wat gaan gebeur nie en daar is geen advertensies nie. Maar dit genees jou ook van TV-kyk vir ‘n paar weke.

Die reeks is ook nie juis besonders diep nie. Dit is waarskynlik meer in die lyn van Maeree se geliefde hygromans; behalwe dat jy nie hoef te lees nie.

In elk geval, iewers tussen die 300ste en 500ste minuut, kondig die een karakter aan dat hy Tibet toe wil gaan om vir 6 maande saam met die monnike in kloosters te mediteer. Hy het stuff, sien. Sy lover was aanvanklik nie dramaties beïndruk met die hele gedagte nie.

Dit het my laat dink aan die gevare van spiritualiteit en geloof. Dit klink vreeslik edel om sekere opofferings te maak vir dit waarin jy glo. Ek meen Siddarta was ‘n prins wat aardse rykdomme agtergelaat het om nirvana te gaan soek. In die proses moes hy heelwat ontbeer. Baie edel. Maar in sy soeke na nirvana, het hy ‘n familie agtergelaat.

Jesus was ‘n groot leermeester wat talle mense se lewens ingrypend aangeraak het. Maar Jesus was nooit getroud nie. Hy kon makliker sy hele lewe wy aan sy spirituele reis. Maar kan jy dan werklik uitsprake maak oor sake soos egskeiding?

Is dit werklik moontlik om altyd in hierdie spirituele leiers se voetspore te stap? Is dit raadsaam? Wanneer neem jou spirituele- en geloofsontberings jou verder van jou doelwit as nader daaraan?

‘n Mens kan heelwat put uit die boodskap van die Christus en die Boeddha. Daar is baie waaroor ‘n mens kan mediteer en wat jy kan toepas in jou eie lewe. Ek dink ook as jy spirituele praktyke (hetsy Boeddhisties, Christelik of watookal) gevind het wat jou liefde vir jou naaste en jouself laat groei, dan is dit goed. Maar gebeur dit nie dalk te dikwels dat ‘n mens se spiritualiteit en geloof júís die bron van ‘n mens se verwydering van self en medemens word nie? Dat dit juis die ding word waarvan jy gered moet word, en nie die voertuig is van jou redding nie?

En gewoonlik is die laaste persoon om dit uit te vind, jy.

Advertisements

Written by George Maru

27 Junie 2007 at 7:20

Posted in spiritualiteit

17 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Wat het jy na 11jaar in die kerk gevind…?

    (Mat 24:15 en 16) Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet— dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;

    Selfs die “normale wereldling” wat niks met die kerke te doen het nie, lag al in die mou, vir die “vrou” wat ‘n “hoer” geword het…!

    Ek is diep telleurgesteld daarin dat jy jou voete weer in een van daai “high places” gaan sit het… Ek hoop nie jy maak dit ‘n gewoonte nie?

    (Mat 24:17 en 18) wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie.

    As jy dit dalk weer in jou kop kry om te gaan preek… doen dit dan buite hierdie plekke van afgodery. Ek pleit by jou… (baie erenstig) kom uit haar uit..

    (Openb 18:4) En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.

    Sy is die “mystery Babilon die moeder van die hoere” waarvan die Bybel praat, en die ergste van als is dat niemand wil dit glo nie, behalwe as God ingryp…!

    johannes_11

    27 Junie 2007 at 8:57

  2. O ja.. ek wou nog iets noem oor Jesus wat volgens jou nie getroud was nie.

    Hy was “getroud” met twee “hoere” eerstens die Ou Testamentiese kerk (verteenwoordig deur die volk Israel) en toe met die Nuwe Testamentiese kerk.

    Volgens die wet van Moses kon Hy van Sy eerste vrou skei omdat Hy iets skandeliks aan haar ontdek het.

    (Deu 24:1) As ‘n man ‘n vrou neem en met haar trou, en as sy dan geen guns in sy oë vind nie, omdat hy iets skandeliks aan haar ontdek het, en hy haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur,

    Maar dieselfde wet bepaal dat hierdie vrou gestenig moes word…

    (Deu 22:22) As ‘n man betrap word terwyl hy met ‘n getroude vrou gemeenskap het, moet hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die vrou. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.

    Jesus was nie in owerspel betrap nie, maar “sterf” asof Hy het. Hy sterf en gaan deur hel terwille van Sy ware bruid. Daarmee gee Hy uitvoering aan ‘n ewige verbond (soos aangeteken in die Bybel) wat Hy teenoor Homself gesweer het.

    Wat van Hom so ‘n groot leermeester gemaak het was nie bloot die feit dat Hy mense se lewens ingrypend aangeraak het nie… maar die feit dat Hy getrou gebly het aan die Woord wat deur Hom ingegee en geskrywe is, al het dit Sy dood gekos.

    Hy was dalk nie fisies getroud nie maar moes die gevolge dra van ‘n ontroue “lewensmaat”.

    Dit is juis hierdie “voertuig” waarvan Hy ons kom red het, wat Sy lewe gekos(alles volgens ‘n fyn uitgewerkte verlossingsplan) sodat wanneer die “tyd” sou aanbreek wanneer daardie “voertuig” weer god raak, diegene wat uiteindelik Sy bruid word sou word, betyds daaruit kan vlug…. berge (die Rots) toe.

    Gewoonlik is die laaste persoon om dit uit te vind, jy. Hieroor kan ek nie meer met jou saam stem nie.

    johannes_11

    27 Junie 2007 at 10:19

  3. Liewe aarde Johannes. Vat jy nou die wind uit my seile. Ek dink ek moet begin blog oor my kouse en wat ek beplan om vir aandete te eet.

    Ek het heel goeie redes gehad hoekom ek kerk toe is. Ek dink daar kom ‘n tyd in ‘n mens se lewe dat jy maar verby jou stuff moet beweeg. <em>Move on</em>, jy weet. Dit beteken nie dat ek nou gaan teruggaan of enige so iets nie. Inteendeel.

    Maar ek dink jy moet ook maar bietjie introspeksie doen oor jou hewige reaksies teen die kerk. Dalk sit daar meer daaragter as net ‘n paar teksverse. Daar is actually heel nice mense in die kerk ook. Ek kan jou verseker hulle aanbid nie die hoer van Babilon nie.

    George Maru

    27 Junie 2007 at 12:35

  4. George

    Jammer as ek biekie persoonlik “oorgekom” het… maar dis hoe sterk ek daarvan oortuig is. Kerke is tans die gevaarlikste plek op die aarde om deel van te wees…!

    Dis juis die punt, ek het dit geensins teen die mense wat in hierdie vangstrik van kerke vasgevang is nie. Ek dink jy sien dit wat die Bybel verklaar van wat ons in die laaste dae te wagte kan wees, as ‘n “reaksie” van my (as persoon) teenoor die mense in “kerke en kerkstrukture” …? Jy is verkeerd. Maar ek sal weer gaan introspeksie doen soos deur jou voorgestel.

    Dis juis al hierdie “nice mense” vir wie ek lief is( my afrikanervolksgenote waarvan sommige van hulle my eie bloedfamilie is) wie ek probeer waarsku. So min as wat die klomp Jode in die dae van Jesus besef het dat hulle nie meer die God van die Bybel aanbid het nie (maar die vader van die leuen), netso min kan die gewone kerkganger dit vandag besef. (veral nie as hulle nie hulle Bybels lees nie…. soos wat ons almal weet die geval is…!)

    Geestelike blindheid was in die dae van Jesus aan die orde van die dag en is vandag weer aan die orde van die dag, nie omdat ek so “voel” nie maar omdat die Woord van God(die Bybel) dit self verklaar. Hoeveel duideliker kan dit gestel word as juis dit wat as volg verklaar word:

    (2Th 2:3-4) Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

    Die teenstander van God wat in die tempel van God sit en voorgee dat hy God is, het juis die voorwerp van aanbidding geword… en al daardie arme mense wat hulself onder die gesag van hierdie “hoer” bevind aanbid iemand wat hulle dink God die Skepper van die heelal is.

    Skrikwekkend (selah)… asem, diep asem…. maar waar.

    johannes_11

    27 Junie 2007 at 14:42

  5. Die tendens waarna jy verwys is ook een van my gunstelinge. Ek het Prison Break se eerste seisoen se verorber, en die tweede een amper ook – moet nog net die laaste 2 episodes kyk.
    🙂

    Dizzy Dee

    27 Junie 2007 at 15:24

  6. Dizzy Dee, dit is lekker, ja. En wat baie cool is, is dat die videowinkel (DVD-winkel?) waar ek dit uitneem, jou toelaat om dit van die Vrydag tot die Dinsdag te hou.

    Johannes, ons moet voorwaar in die eindtye leef, want ek gaan nou opkom vir die kerk…

    Jy beweer dat die kerk op die oomblik die gevaarlikste plek is. Jy oordryf, Darfoer en dele van Colombië is baie gevaarliker. Hoekom sê jy so? Jy beweer dat die kerk die hoer van Babilon is en watookal. Dan haal jy teksverse aan m dit te “bewys”. Ek wil regtig weet op grond waarvan sê jy so? Wat is dit wat die kerk doen (of nie doen nie) wat dit so gevaarlik maak? Die Bybelverse waarna jy verwys, sê nie dat die kerk die hoer is nie. Dit is hoe jy dit interpreteer. Op grond waarvan maak jy die konneksie?

    Jy praat ook dat daar nice mense in die kerk is. Ek stem saam daar is nice mense in die kerk, maar daar is ook heelwat drolle. Wat is die kerk anders as al hierdie mense saam? As jy die kerk bykom, kom jy per definisie hierdie mense by, want hulle ís die kerk!

    George Maru

    28 Junie 2007 at 8:11

  7. George, ek dink jy sal ‘n uitstekende Charlie Brown-tipe strokieskarakter uitmaak. (Dis ‘n kompliment, as jy wonder.)

    Johannes, waar is die kerk waarvoor ek moet koes? Is dit gekoppel aan ‘n adres?

    freddy

    28 Junie 2007 at 8:23

  8. George

    Jy het baie vrae gevra oor die kerk, ek sal poog om so kort en bondig moontlik te wees. Wat en wie is die kerk. Ou en Nuwe Testamenties was die “kerk” die instelling wat (in terme van die kriteria wat in die Bybel aangeteken staan) God se Koningkryk op aarde moes verteenwoordig. Hulle moes toesien dat die mandaat wat hulle van God ontvang het uitgevoer word. Daarvoor het God die ampte van opsieners ingestel. In die geval van Israel (ou testamentiese kerk) in die OT was dit die priesterdom wat die mandaat gehad het om toesig moes hou oor sekere seremonies, ens. Gedurende die NT was hierdie funksie van toesighouding opgedra aan die “ouderlinge en diakens” . Maw hulle moes sekere seremonies waarneem volgens die mandaat wat God hulle gegee het (soos aangeteken in die Bybel).

    Nou het ons die verskynsel oor die afgelope amper 3500 jaar gekry dat hierdie strukture deur die mens hanteer was. En blyk dit uit die Bybel dat hierdie strukture opgemaak was uit ware gelowiges en ongelowiges (drolle soos jy dit noem..) en soos in die geval van Kajafas en Kie (ou testamentiese ampsdraers) vind ons vandag dat hierdie ampstraers ( of opsieners) deur “drolle” hanteer was. Die ware “kerk” ( wat alleen aan God bekend is), was gewoonlik die ware gelowiges wat deel uit gemaak het van die “assembly” of “congregations” van gelowiges. Duidelik het die “instelling” bestaan uit diegene wat ware gelowiges was en diegene wat nie ware gelowiges was nie (“drolle” soos jy hulle noem… die Bybel praat van koring en onkruid wat saam gegroei het).

    Dit is duidelik dat die era van die OT kerke ten einde geloop het toe die voorhangsel van bo na onder oopgeskeur het, en die dit die Nuwe Testamentiese era ingelui het. Nie lank na die uitstorting van die Heilige Gees het God weer terwille van goeie orde riglyne daargestel waarvolgens opsieners (ouderlinge en diakens) aangestel moes word om die ampte wat deur God ingestel was waar te neem.

    Toe die OT kerk-era ten einde geloop het, wou die “ampsdraers” van die OT die nie aanvaar nie en het maar voort gegaan om volgens hulle eie “do-it-yourself” gospel die NT kerke te vervolg…

    Maar die NT kerk-era sou ook ten einde kom…. vanwee hulle “hoerery” (soos wat die geval was met die OT “kerkstrukture” ).

    Soos wat die ampsdraers (soos Kajafas en Kie) van die OT kerkstrukture hardnekkig vasgeklou het aan hulle “ampte” en “strukture” (gesag wat God aan hulle gegee is) so sou die NT kerke en kerkstrukture vir eeue oor die mandaat beskik om God se koningkryk op aarde te verteenwoordig. Maar sooswat die OT kerk-era ten einde geloop het sou die NT kerk-era ook ten einde loop… much to the surprise, en teen alle verwagtinge van enige kerkleier in….!

    God het die instellinge van kerke “uitgespuug” soos Hy hulle aan die einde van die eerste eeu (in die Boek Openbaring) gewaarsku het. Hy het hulle gewaarsku dat Hy die kandelaar van Sy plek gaan verwyder .. Hierdie waarskuwings aan die NT kerke is aangeteken in Openb 2 en 3…

    Vandag sit ons duidelik met kerke en kerkstrukture (christen kerkstrukture) wat onder God se oordeel gekom het… en wel ooreenkomstig dit wat in die volgende Skrifgedeelte staan…

    (1Pe 4:17) Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

    Die afvalligheid van “kerke en kerkstrukture” is tog duidelik sigbaar… selfs wereldlinge vanuit ander gelowe lag in die mou.

    Soos die OT kerke dit nie wou aanvaar toe Jesus in hulle midde nie meer was nie… netso min aanvaar die kerke van vandag dit. Dieselfde “geestelike blindheid” wat in die dae van Jesus gegeld het, is vandag in hierdie “strukture” aan die orde van die dag.

    Dit in kort. Hierdie boodskap word vandag onder die neuse van ‘kerke en kerkstrukture” wereldwyd via radio verondig… en word alle derde wereld lande met hierdie een ware evangelie (die Bybel ) bereik….. En die ergste van alle is dat die kerke en kerkstrukture daar niks aan kan doen nie… al staan wie ookal op vir die kerk.

    Wanneer God dus nie meer in hulle midde is om te red nie maar daar is as Regter( om te oordeel) is redding dus nie meer moontlik nie en dus die gevaarlikste plek op aarde. Dit is tog algemeen bekend dat die kerke en kerkstrukture ‘n evangelie verkondig van lewe na die dood (die ewige lewe)…. (solank jy net hulle “do-it-youself” gospelprogram volg). As God dan nie meerr in hulle midde is om te red nie… staar diegene wat hulle nog onder die gesag van ‘n kerk of kerkstruktuur bevind ‘n ewige dood in die gesig.

    Dit is dus ‘n veel erger dood as fisiese dood waar bomme ontplof…. soos in Dafoer.

    (Mat 10:28) En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.

    Family Radio het ‘n boek gepubliseer wat gratis bestel kan word wat handel oor die “Einde van die Kerk-era en Daarna” genaamd “The End of the Church Age and After” en kan ook online gelees word bly die volgende link .. http://worldwide.familyradio.org/zusa/graphical/literature/frame/

    Ek sal met graagte verder met jou gesels oor hierdie “tyd van groot verdrukking”…!

    johannes_11

    28 Junie 2007 at 11:38

  9. lol. ek’t al vergeet van die hygromans.
    ek en die hoof van die huis het self al ‘n paar reekse so deurgewerk.

    ek stem saam dat geestelike geweld van die ergste is wat mens kry. mense doen afskuwelike goed aan hul families onder die verskoning van “ek beskou alles as waardeloos, want om christus jesus, my here, te dien, oortref alles in waarde.”

    ek wonder dikwels oor mense soos ghandi en beyers naudé, wie se gesinne ontsettend swaar gekry het onder hul roepings.

    maeree

    28 Junie 2007 at 13:05

  10. Freddy, Charlie Brown is my gunsteling strokiesprent-karakter. Dankie vir die kompliment.
    Maeree, baie goeie punt. Ek het nie eers gedink aan die families van mense soos Beyers Naudé en Ghandi nie.
    Johannes, jy is baie vaag. “Hoerery”, “afvalligheid”, mandaat om God te verteenwoordig ens. Ek kan vir jou ‘n lys van my issues met die kerk gee, soos dat hulle mense se menswaardigheid aantas ens. Vertel vir my wat die kerk verkeerd doen, maar wees spesifiek, bv. hulle verkondig ‘n valse evangelie want hulle glo in ‘n 3-enige God of watookal. Terme soos hoerery en afvalligheid vertel my nie veel nie.

    George Maru

    29 Junie 2007 at 8:26

  11. George

    Net een vraag ….? Toe die Ou Testamentiese kerk-era ten einde geloop het met die oopskeur van die voorhangsel en die Nuwe Testamentiese kerk-era ingelei is, dink jy God was nog in die midde van die hierdie strukture werksaam om se eiendomsvolk (die ewige Israel) in Sy Koninkryk in te lei…? Het God die tempel in Jerusalem en sy singagoge strukture steeds as instrument gebruik om Sy Evangelie boodskap te verkondig…? Of het Hy toe oorgegaan na die volgende fase of era van Sy verlossingsplan deur middel van die Nuwe Testamentiese kerk-era …?

    Het Kajafas en Kie die volgende dag, die dag nadat die ware Lam geslag was, voorgegaan met hulle seremonies….? Het die OT “kerkstruktuur” steeds die mandaat gehad om as eksterne verteenwoordigers van die Koninkryk van God op te tree…?

    Wat die mens nie besef nie, is dat God se verlosssingsplan nie afhang van wat hulle reg of verkeerd doen nie, maar alles afhang van wat God doen. Toe God met die OT kerk-era klaargemaak het, het Hy met hulle klaar gemaak. So eenvoudig soos dit, en dieselfde geld vir die NT kerk-era.

    God het vanwee OT Israel se geestelike hoerery met die OT kerk-era klaargemaak. En daar is genoegsame Skrif ter ondersteuning daarvan, netsoos daar nou genoegsame inligting in die Bybel is dat God ook met die NT kerk-era sou klaarmaak, ook vanwee geestelike hoerery. Die kerke is salig onbewus daarvan dat God die mandaat wat Hy aan hulle gegee het om as ‘n instelling Sy Koningkryk op aarde te verteenwoordig, be-eindig het.

    Paulus dien as ‘n tipiese voorbeeld van iemand wat met hart en siel gedink het dat Hy God “dien” deur die volgelinge van Jesus te vervolg, net om op ‘n dag agter te kom dat hy in werklikheid vir Jesus vervolg. Hy moes met ‘n “bang” agterkom dat die OT kerk-era ten einde geloop het en dat die NT kerk-era deelgevorm het van God se plan om die volkere van die wereld te bereik. Hy moes ‘n mystery gaan bekend maak… naamlik dat die evangelie boodskap nie net vir die Jode bedoel was nie maar ook vir die volke tale en nasies van die res van die wereld(iets waaraan die jode vandag steeds moeilik sluk… omdat hulle nog die Messias verwag….?)

    Wat die normale kerkganger vandag nie besef nie(behalwe as God hul geestelike oe en ore open) is dat die finale oes, nie deur die bediening van kerke en kerkstrukture plaasvind nie, maar wel deur die monde van die ware gelowiges, wat hulself toenemend van hierdie afvallige kerkstrukture verskoon. Een van die eienskappe van ‘n ware volgeling van Jesus van Nasaret is dat hulle nie kan stilbly nie… al sou dit hul lewens kos. In vandag se moderne era is dit egter nie meer mode om mense fisies dood te maak nie… deur iemand “geestelik dood te maak” of “stil te maak” is darem nie so barbaars nie…!

    johannes_11

    29 Junie 2007 at 10:02

  12. Johannes, jy moet eintlik die gesprek voer met mense binne die kerk. Om vir my die vrae te vra is eintlik sinloos. Ek is net te ver verwyderd van die Christelike geloof (ek kan my nie met enige van die Apostoliese Geloofsbelydenis se artikels vereenselwig nie; nie één nie) om saam te kan gesels. Ek sê bloot dat daar goeie mense in die kerk is. Punt. Net omdat hulle daar sit, maak hulle nie geestelik, fisies of hoe ookal dood nie.

    Alles wat jy skryf is spekulatief, maar dit is tog wat geloof behels: spekulasie. Daarom dat elke Christen sy eie idee het van dinge en almal reg is. Niks kan weelê word nie, niks kan bewys word nie.

    George Maru

    30 Junie 2007 at 16:50

  13. Ek besit ‘n hele paar TV-reekse op DVD, meesal oorsee aangeskaf. Six Feet Under, Sopranos, Spaced, The Office, Black Books, Little Britain, AbFab, Friends, ens… almal uitstekend. Ons deel hulle gewoonlik in 1.5- of 2-uur sessies op, anders raak ‘n mens lighoofdig!

    Ek dink ons kort ‘n goeie Afrikaanse neologisme vir hierdie tipe indulgence… “Epiesode”? “Verkyker”? “TVeel”?

    Theo

    30 Junie 2007 at 22:51

  14. […] “kolskote”? ) lei na George Maru se blog en ‘n inskrywing van hom, “Die Gevare van Spiritualiteit?“.  Hy gee nie ‘n definisie vir spiritualiteit nie, maar laat ‘n mens dink oor […]

  15. Ai tog!

    Anoniem

    23 September 2009 at 22:20

  16. Sjoe ek sien nou eers hoe verdraagsaam jy met my was… dankie.

    Ek moes vanoggend met groot skok en afgryse oor die radio verneem van die selfmoord van ‘n ou studentevriend en mede atletiek kollega (Andries Krogman).

    Die mensdom is aan die einde van sy tou…

    Ai tog!

    johannes coetzee

    24 September 2009 at 8:16

  17. Ek het dit in die nuus gesien Johannes. Ai, dit is so hartseer 😦

    George Maru

    24 September 2009 at 20:32


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: