riviersonderend

Liewe Pa, liewe Ma

with 9 comments

Ek skryf maar ‘n brief om te sê dit wat seker nooit gesê sal word nie; dit wat ek graag wil sê. Eintlik skryf ek om te sê dat julle nie so moet worry nie. Miskien wil ek verduidelik hoekom julle my so min sien.

Ek weet julle was so trots toe julle seun vir julle vertel het hy gaan ‘n dominee word; dat hy ‘n roeping gekry het. Ek kon die trots in Pa se oë onthou. Ek weet Ma het dadelik gaan bid om dankie te sê dat die Samuelkind waarvoor julle so lank gewag het, God se stem gehoor het. Julle was goeie ouers vir die kind wat aan julle geleen is.

Julle onthou seker nog die dag in sy finalejaar toe hy vir julle kom vertel het dat hy nie meer ‘n dominee gaan word nie; maar julle het ook nie al die redes gehoor nie. Maar darem sou hy nog by die kerk betrokke wees. Vir ‘n paar maande ten minste. Saam het julle gehuil en, ‘n bietjie later, saam gelag. Julle het gesê dat dit reg is en dat julle net die beste vir julle seun wou hê; dat julle sy oordeel vertrou.

Ek weet julle worry vandag. ‘n Mens se ouers is mos nie dom nie. Dit is nou reeds meer as 10 jaar dat julle seun nie meer saam met julle kerk toe gaan nie. In die verlede sou julle sommer so oor die telefoon geloofsake bespreek. Vandag verander hy die onderwerp na die weer of tant Mien se artritis.

Hoe gaan dit met tant Mien se artritis? Dit is nou al baie jare wat sy daarmee sukkel. Ek kan onthou dat sy in dieselfde tyd begin sukkel het met die artritis as toe Ma vir my vertel het dat dit beter vir ouers is om te hoor hulle kind is dood, as om te hoor dat hy gay is.

In elk geval, Pa. Ma. Ek skryf om julle te vertel dat julle nie so moet worry nie. Julle seun is gelukkig. Julle hoef nie so bang te wees dat hy sal hel toe gaan nie. Pa. Ma. Daar is baie dinge wat die dominee en die kerk julle nie vertel nie. Ek wil julle nie skok nie, maar daar is nie ‘n hel nie. Daar is nie ‘n duiwel nie. Daar is so baie wat julle vertel word wat onwaar is. Maar ek weet dit gaan julle vreeslik ontstel.

Ag, ek sal een van die dae weer kom kuier. Ek weet julle raak ook nie jonger nie en dat ons tyd saam minder raak. Maar ek is so gatvol vir die praatjies oor die weer en tant Mien se artritis. Ek wil julle so graag voorstel aan julle seun, maar dit sal julle bitter seermaak. En dit verdien julle nie.

Maar ek sal kom kuier. Dalk kan ons dan bietjie musiek luister. ‘n Roger Whittaker-plaat. Die een waar hy sing: “No, you won’t believe in If anymore, If is for children…

Pa. Ma.

Advertisements

Written by George Maru

10 Junie 2007 at 23:46

Posted in sommer net

9 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Sjoe, George. Roerend.

    Ek het ‘n paar jaar gelede besluit om my ouers met die geen-simpatie taktiek te benader. Dit sluit in dat ek nie meer moeite doen om die waardes, keuses en voorkeure wat met hulle s’n bots, te verdoesel nie. Ek is steeds oordeelkundig, maar wanneer dit daarop neerkom, geld die reël dat die waarheid seermaak, en dis maar hoe die lewe is. Ek voel eintlik sleg dat ek hulle telkens onderskat het, want hulle handle goed. Liefde is gewoonlik soveel sterker as enige oortuigings. Ek dink die grootste guns wat volwasse kinders vir hulle ouers kan doen, is om hulle geduldig saam te nooi die berg op. Al is die berg ook hoe styl.

    idiwidi

    11 Junie 2007 at 7:07

  2. George

    As jou pa en ma nog in die kerk is dink ek dit gaan moeilik wees om hulle daar uit te kry.

    Dit was vir my ‘n baie moeilike besluit om my seuns mee te deel dat ek hulle nooit….. ooit weer sal “nag” om kerk toe te gaan nie… want dit tyd het aangebreek dat die “duiwel” tans in die “tempel” (kerke en kerkstrukture) sit en voorgee dat hy God is..

    (2Th 2:3en 4) Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

    My seuns het dit makliker aanvaar as ek….

    My “deal” met hulle was dat as ek 5minute van hulle tyd vrae om met hulle die Woord van God die Bybel te deel, hulle nie moet murmureer nie. Die stryd wat ek tans voer is om met hulle die Woord te deel sonder dat dit soos “kerk” voel…

    Ek besef eers vandag (na 3 en ‘n halwe jaar buite hierdie vervalle strukture) welde impak die “kerke en kerkstrukture” en hulle valse leringe op my(en hulle) lewens gehad het.

    Selfs voor 21Mei 1988 toe die kerk-era ten einde geloop het en die Here nog deur middel van hierdie “vrou” (wat nou hoer is) mense in Sy koninkryk ingelei het, het die “seun van die verderf” sy gesante in hierdie strukture bemagtig… sonder dat die herders en opsieners (ministers of righteousness) dit agtergekom het. Omdat hy Jesus na-aap kom niemand dit agter nie… veral “christene” wat Woord “arm” ek “kerkryk” is.

    johannes_11

    11 Junie 2007 at 9:07

  3. George
    Uit eie ervaring, het ek geleer om eerder seker te maak, dat die tyd saam met jou ouers sinvol is, as hulle nie meer daar is nie, (en die tyd gaan kom) – gaan jy jouself so verwyt vir die tyd wat jy gemors het. Gun hulle die voorreg om te sien wie hul seun is.

    Alethea

    11 Junie 2007 at 13:39

  4. George, ouers is baie meer elasties as wat jy dink. Ek weet waarvan ek praat, want ek is een.

    Drie jaar en ses maande gelede moes ek dit “face” dat my seun aan dwelms verslaaf is, nadat hy homself probeer hang het. Toe kom die lang pad na herstel en die diagnose dat hy ‘n depressie lyer is.

    Vandag is hy al 3 jaar en 6 maande “skoon” en glo my, jou kind is beter lewendig as dood. ‘n Ouer wat die naam ouer werd is, gooi nooit sy kind weg nie, al is hy gay, ongelowig, of wat ook al.

    Jy hoef nie met hom saam te stem of te glo wat hy glo nie, maar jy bly ALTYD lief vir hom. Moenie jou ouers se verdraagsaamheid onderskat nie.

    sonkind

    11 Junie 2007 at 15:30

  5. Sjoe George, dis sulke mooi woorde! Ek het self nie so ‘n goeie verhouding met my pa nie – en soms wonder ek of ek regtig spyt gaan wees daaroor as hy nie meer daar is nie! Ek weet nie, tyd sal seker leer … maar een ding wat ek wel in my vriende wie reeds hul ouers verloor het se lewe gesien het – is dat hul elke dag spyt is dat hulle nooit dinge met hul ouers reggemaak het en/of genoeg kwaliteit-tyd saam met hulle spandeer het nie! Dis natuurlik baie maklik om te sê – maar ek en jy weet die praktyk daar agter, is nooit maklik nie! Elkeen se omstandighede verskil, maar as jy sterk genoeg is om die eerste tree te gee, moenie huiwer nie! Ek dink hulle sal graag die regte George wil leer ken!! Mens moenie die liefde van ‘n ouer onderskat nie!

    René Boshoff

    11 Junie 2007 at 15:38

  6. (1Sa 3:10) Toe het die HERE gekom en gaan staan en geroep soos die vorige kere: Samuel, Samuel! En Samuel het geantwoord: Spreek, want u kneg hoor.

    (1Sa 3:11) Toe het die HERE aan Samuel gesê: Kyk, Ek gaan ‘n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit.

    Was jy bang jou ore gaan tuit oor die dinge wat God met die Israel( die kerke en kerkstrukture gaan doen)….?

    johannes_11

    14 Junie 2007 at 12:04

  7. Dit is ‘n absoluut aangrypende brief George.
    Aan die een kant stem ek saam met Sonkind. Laat jou ouers toe om hulle seun regtig te leer ken, want ouerliefde oorwin alles.
    Aan die ander kant, is dit maklik vir ons om te praat oor iets wat vir ons heeltemal aanvaarbaar is. Hoe sou ons reageer as dit iets was wat ons glad nie kan hanteer nie? Vir my is dit bv. diere- en kindermishandeling. Hoe sou ek daarmee saamleef as my kind hom eendag daaraan skuldig maak? Miskien is jy dus reg om jou ouers die pyn te probeer spaar. Baie sterkte.

    labmuis

    9 Februarie 2008 at 0:50

  8. […] Liewe pa liewe ma van George […]

  9. […] Liewe pa liewe ma van George […]

    My vyf? Nee, JULLE vyf!

    9 Augustus 2008 at 23:49


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: