riviersonderend

‘n Onderbroek dilemma

with 10 comments

Vrydag pak ek my tas, spring in die kar en jaag Suid-Kaap toe – Stilbaai om meer spesifiek te wees. Dit is fase een van ‘n reis wat uiteindelik op Oudtshoorn sal eindig om volstruispolitiek te bedryf.

Toe ek myself langs die Molenaarsrivier bevind, tref dit my: jy het nooit die body scan gedoen nie! Hoe kon jy vergeet om die body scan te doen? Ek dog toe, liewers laat as nooit, so ek doen toe die body scan.

Miskien moet ek eers verduidelik wat die body scan behels. Die body scan is ‘n voorvereiste vir enige persoon wat effe gestremd is betreffende die administratief-tegniese aspekte van die lewe. Jy begin by jou voete, beweeg noukeurig op na jou kop, terwyl jy dink aan alles wat ‘n mens kan, wil en/of moet aantrek. Soos jy aanbeweeg, gooi jy dan die nodige materiale in die tas vir die toepaslike liggaamsparte.

Ek het dit egter nie gedoen nie en kon nie onthou dat ek onderbroeke ingepak het nie. Nou begin ek wroeg oor wat my te doen staan – my amateur-worsteling sou respek van enige dominee afgedwing het. Wat is die opsies?

Die mees ooglopende oplossing was nie ‘n opsie nie: koop Saterdagoggend onderbroeke in ‘n winkel op Stilbaai. My verbeeldingsvlug van dit wat ek in Stilbaai sou aantref, was genoeg om my na grashalms te laat gryp.

Die opsies:

1. Ek het een aan. Ek gaan nie die hele tyd op Stilbaai wees nie. Miskien kan ek uithou tot Mosselbaai? Een onderbroek vir ‘n paar dae. Dit kan sekerlik nie so erg wees nie? Ek is seker dit is al gedoen. Goed, ek erken: dit was my “donker nag van die siel” in hierdie wroegingsuur van my.
2. Die C-woord. Dit is net ‘n paar dae voor ek in Mosselbaai aankom. Kan ek nie maar Commando-gaan vir ‘n paar dae nie? So die nag kan donkerder raak, dink ek. Desperaatheid is nooit mooi om te aanskou nie.
3. Kalmeer gou. Kom ons dink rasioneel hieroor. Klim in die kar Saterdag en ry Mosselbaai toe (Riversdal is helaas ook gediskwalifiseer). Dit is so 80/90 km. So, ek beplan nou om so 200 km agter onderbroeke aan te ry. Nou begin ek glo dat ek vordering maak in my soeke na ‘n redelike oplossing. Wil jy nou meer.

Natuurlik was daar ‘n opsie wat die heeltyd in my agterkop gedraai het, en elke keer met minagting verwerp is: stop gou op Worcester en koop tog net die onderbroeke. Jy gaan deur die dorp ry! Maar nee, ek is nie lus om nou te stop nie. Ek is haastig. Die onmiddellike doelwit is om so gou as moontlik by die eindbestemming aan te kom.

Wat is die punt van die skrywe? Ek verstom myself hoe simpel ‘n mens soms kan raak dat rede nerens te vinde is nie. Amper soos iets anders wat ek ken.

Ek het toe maar op Worcester gestop.

Advertisements

Written by George Maru

3 April 2007 at 10:53

Posted in sommer net

10 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Ek hoop darem jy’t jou tandeborsel onthou;-)

    idiwidi

    3 April 2007 at 17:43

  2. Ek het, ek het! Daar is ‘n ander sisteem wat geld vir goed wat uit die badkamer moet kom.

    George Maru

    4 April 2007 at 10:41

  3. ‘n Hotel in Parys (Frankryk) het eenkeer al my onderbroeke in die laundry verloor! Ek het drie dae lank met een onderbroek rondgeloop, voor ek by ‘n winkel uitgekom het.

    boerinballingskap

    4 April 2007 at 14:39

  4. Dit gebeur gereeld met my en dan koop ek nuwe onderbroeke. Die voordeel is dat ek baie nuwe onderbroeke besit en een van min manspersone in die wêreld is wat nooit met tien jaar oue onderbroeke rondloop nie.

    Salige Rus

    4 April 2007 at 15:55

  5. BiB: So dit ís moontlik om vir 3 dae met ‘n onderbroek te loop?

    SR: Wat? Dat jy jou onderbroeke vergeet of dat hotelle in Parys dit gereeld in die laundry verloor? Ek weet ook nie of daar werklik so baie mans is wat met tien jaar oue onderbroeke rondloop nie. Ek dink darem hulle ken die verskil tussen ‘n onderbroek en brandewyn. Of ek hoop jy oordryf net. Die idee is grusaam.

    George Maru

    4 April 2007 at 16:45

  6. Doen ‘n slag ‘n peiling onder jou mansvriende. Jy sal verbaas wees. Ek het party 30-jarige vriende wat nog onderbroeke dra wat hul MA vir hulle gekoop het.

    Salige Rus

    4 April 2007 at 20:28

  7. Ek wonder oor die ander ding wat veroorsaak dat rede soms nie te vinde is nie.

    Da Mario

    4 April 2007 at 21:26

  8. Da Mario, daar is eintlik baie dinge. Ek dink ten diepste is dit maar omdat ons ook irrasionele wesens is. Ek was moedswillig toe ek geskryf het oor die “ander ding”.

    George Maru

    5 April 2007 at 9:58

  9. Ek verstaan glad nie wat die probleem is met 10jaar-oue onderbroeke nie. Wanneer ek reis tel ek nie eintlik die onderbroeke wat ek inpak nie en so dag of drie voor hulle opraak gaan koop ek lekker interessante nuwes by ‘n winkel (veral oorsee). Dan wil ek natuurlik later hulle nie weggooi nie – want hulle is almal ‘n direkte verbintenis aan ‘n plek. Net wanneer daar gaatjies is wat pienk plekke ontblooi, gooi ek weg – of gebruik dit eers ‘n bietjie vir skoene skoonmaak.

    Anoniem

    6 April 2007 at 13:26

  10. […] 4 July 2007 Posted by George Maru in So gay!, Nuus, Afrika. trackback Ek praat weer oor onderbroeke. Maar hierdie post is actually ernstig. Ek belowe. So ‘n paar dae gelede het Boer in […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: