riviersonderend

Die onverklaarbare God

with 12 comments

Hoekom laat God toe dat kinders op die wreedste maniere vermoor word? Hoekom sterf kinders aan bloedkanker? In die verlede is hierdie tipe vrae met vroom gedagtes verklaar, soos dat God ‘n blommetjie in sy tuin nodig gehad het. Deesdae hoor mense God anders. God is onverklaarbaar.

“Wie is die mens om sulke vrae aan God te vra? Die mens moet berus dat God God is en onverklaarbaar is. Dit is alles deel van die misterie van God,” hoor ‘n mens.

Die misterie en onverklaarbaarheid van God is natuurlik ‘n interessante verskynsel. Mense gebruik dit graag wanneer daar nie antwoorde is nie. Tog is God nie altyd onverklaarbaar en misterieus nie. Hoe meer die mens belang het by die uitkoms van ‘n besluit of ‘n saak, hoe duideliker spreek God.

Skielik spreek God baie duidelik in sy woord oor die aangeleentheid. Die geskiedenis lê besaai met voorbeelde waar God nie so onverklaarbaar was nie. ‘n Paar honderd jaar gelede het God duidelik gepraat oor die bestaan van hekse – verbrand hulle. God was redelik stil oor slawerny – lyk nie of selfs Jesus dit eksplisiet veroordeel het nie. God het gedink dat apartheid ‘n grand idee was. Vir God is homoseksualiteit afskuwelik. Daar was niks onverklaarbaars en misterieus aan God toe die uitsprake gemaak is nie.

Daar is ander sosio-politieke kwessies waar God nog altyd duidelik gespreek het. Hy verander wel van tyd tot tyd van opinie, maar hy is altyd duidelik.

Hoe is dit dat God so geïnteresseerd is in die mens se sosio-politieke aangeleenthede dat hy duidelik en helder spreek, maar as dit gaan oor die dood van ‘n kind, dan is hy onverklaarbaar stil?

Advertisements

Written by George Maru

19 Maart 2007 at 9:25

Posted in godsdiens

Tagged with

12 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Beste George Maru,

    Ek is soos jy ook maar seker net ‘n soeker na die waarheid. Dus hou ek wat jy skryf met belangstelling dop, aangesien dit my ook maar stof tot nadenke gee.Die dat jou blog ook nou in my Favourites is.

    Ek hoop nie jy gee om as ek so nu en dan kommentaar lewer nie – dis immers waarvoor ons blogs het. Ja, God is onverklaarbaar. Hy is ook, dink ek, soms MOEDSWILLIG onverklaarbaar. Maar ek dink ook die mens het intrinsiek die vermoe om te luister, verloor.

    Ek dink soms dat God increasingly besig is om werkloos te raak – alles wat die mens nooit kon verklaar nie, is aan God toegereken. Nou dat die mens, veral oor die afgelope 450 jaar sover gevorder het (deels omdat die wat die diktakts van God sou toepas as leuenaars ontbloot is) en omdat die Wetenskap soveel dinge kan verklaar, raak God se werk al minder.

    As gevolg van verskeie onderbrekings die afgelope uur het ek effens tred verloor met wat ek wou se, dus skryf ek op ‘n later stadium weer.

    Groete,

    Nico

    Nico

    19 Maart 2007 at 10:20

  2. Dit slaan my soms dronk dat charismatiese kerke alles kan vereenvoudig tot misology en “God is liefde, juig ons harte”. (Geen intertekstuele verwysing na daai vorige post van jou nie.)

    Johan Swarts

    19 Maart 2007 at 16:55

  3. Dit slaan my soms dronk dat elke kerk (en geloof) sy eie flavour van God het – God is nou al soveel keer in soveel flavours herverpak dat ek dink God, as Hy inderdaad Liefde is, soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smarties-boks voel om by almal se prentjie van Hom te probeer aanpas van moment tot moment.

    God is te veel keer herverpak. Die mens het fundamenteel sy kennis van God verloor. Die Bybel is te veel kere herskryf deur groepe wat daarin geskryf het wat hulle wou, omdat hulle aan niemand hier onder verantwoording hoef te gedoen het nie. En as God inderdaad omgee, as Hy inderdaad Liefde is, dan dink ek dit is tyd dat Hy Homself dalk maar van scratch af aan die mens bekendstel.

    Nico

    20 Maart 2007 at 7:42

  4. Nico, hulle praat mos van “the god of the gaps” – ja, God se rol word kleiner. Ek moet dalk iets opklaar: as ek van God skryf wat onverklaarbaar is, dan gaan dit vir my oor die teenstrydighede in die tipe argument. Ekself het nie ‘n godsbeeld nie. Ek weet ook nie van ‘n godsbeeld wat nie problematies is nie.

    Johan, vereenvoudiging maak alles makliker. Dit is nie noodwendig waar nie, maar makliker.

    George Maru

    20 Maart 2007 at 9:27

  5. En makliker is soms fine (vir die massas in elk geval). Meeste bevraagtekenaars (is dit ‘n woord?) wens soms dat hulle ook so geredelik net kon glo en vertrou. En die feit dat hulle iets nie met hulle kop kan kleinkry nie, is soms ‘n geweldige bron van droefheid.

    As ‘n mens ongelukkig eers deur die sleutelgat van twyfel geloer het, is daar vir ewig ‘n vraagteken teen jou oog gebrandmerk.

    Dis in baie gevalle ‘n keuse om die sleutelgat te vermy en toe oE te spring, ter wille van geloof. Hoewel dit nie noodwendig vir my is nie, is dit wel ‘n dapper sprong. Een wat ek nie ligtelik veroordeel nie.

    God se onverklaarbaarheid het na my mening weinig te doen met die werklike aard van God – dis eerder die aard van die mens, en haar spesifieke behoeftes wat die graad van Sy misterie bepaal.

    idiwidi

    20 Maart 2007 at 11:59

  6. Maklik maak is inderdaad die geval. Wat my dronkslaan is hoe ‘n mens bewus kan wees van ‘n eksistensiële “moeilikheid”, dit “maklik” kan maak en so maak asof dit nooit “moeilik” was om mee te begin nie.

    Johan Swarts

    20 Maart 2007 at 13:13

  7. idiwidi, ek wonder of dit ‘n keuse is. op die oomblik wonder ek baie oor vrye wil – ek dink nie dit bestaan rerig nie. Wat bedoel jy met die werklike aard van God? As jy praat van die aard van die mens wat die graad van misterie bepaal, maak dit nie maar die hele besigheid ‘n menslike konstruk nie?

    Johan, ek wonder of daar wel ‘n bewustheid van ‘n eksistensiële “moeilikheid” is?

    George Maru

    21 Maart 2007 at 9:07

  8. Goeie vraag. Ek dink daar is; maar as daar ‘n bewustheid is, wonder ek of hulle dit as sulks verstaan en dit nie bloot afmaak as ‘n sogenaamde versoeking van Satan of ‘n toets van God nie.

    Johan Swarts

    21 Maart 2007 at 13:19

  9. Natuurlik is alles deel van ‘n menslike konstruk, sover dit vir die mens moontlik is om te rasionaliseer (óf om doelbewus sy rug op die rasionele te draai). In daardie opsig is God een honderd persent nylon mensgemaak. Vir die behoud van godsdiens is dit noodsaaklik vir God om ‘onverklaarbaar’ te wees, selfs al is dit moeilik of ongerieflik om dit soms te verdedig.

    Ek dink die tameletjie van God is nie sy nylon-aard nie (dis eintlik voor die hand liggend hoe die idee van God ge/misbruik word deur die mens), maar die moontlikheid dat daar iewers tussen die weefsel wel ʼn draadjie katoen deurgevleg is.

    idiwidi

    21 Maart 2007 at 14:25

  10. Johan, inderdaad. Om dit egter as ‘n versoeking te sien, is myns insiens ‘n copout, want jy bevraagteken nie jou wêreldbeeld nie – jy probeer dit maar net versterk en bevestig.

    idiwidi, katoen is my seker my gunstelingmateriaal, maar ek dra dit nie graag nie. Dit kreukel so maklik. Simpel katoen. Die probleem is seker maar dat die vrae bly – “the mysteries remain”. Somehow wonder ek of ons sou kon cope met ‘n vaste wete. Dalk is dit júís menslik om die katoen te soek? Wie sal weet. Ek weet egter nie of dit hoegenaamd kenbaar is nie.

    George Maru

    21 Maart 2007 at 20:19

  11. As ek weer my 5c se waarde kan bysit op die kwessie van “vrye keuse” – ek het gisteraand lank ‘n pillow-talk my my Lewensmaat daaroor gehad.

    Mens kry Vrye Keuse, en jy kry Destiny. Destiny is die absoluut en jy kan keuses maak tot jy kots, ‘n wrede, hoër hand sal altyd jou Destiny beskik, het dit klaar beskik, voordat die hoër hand die whim gekry het om jou te skep. Daarom is jy, as gevolg van Destiny die vis aan die hoek wat pynlik ingekatrol word.

    Vrye Keuse gaan oor die pad wat jy stap tot by jou destiny. Dit gaan daaroor oor hoeveel jy baklei teen die hoek in jou bek.

    Nico

    22 Maart 2007 at 8:07

  12. Nico, ek weet nie van die hoër hand nie, maar ek hou van die beeld van ‘n vis aan ‘n hoek wat ingekatrol word.

    George Maru

    22 Maart 2007 at 13:03


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: