riviersonderend

Die dywil is los

with one comment

Die dywil is ‘n besige skepsel. Daarom dat hy moes hulp kry. ‘n Skepsel wat nie almagtig en nie alomteenwoordig is nie, sal nooit al die chaos in die wêreld kan aanrig, sonder miljuisende mini-me’s nie.

Vandag in Preekbrandwag is die duiwel aan die beurt. In die preek, Die duiwel is besig. Bewapen jou! word die volgende beweer:

Die duiwel is ‘n werklikheid. Sy bestaan en sy karakter bring die gelowiges direk in konfrontasie met hom. Hy is wreed soos ‘n leeu, maar ook listig soos ‘n slang. Tog kan ons teen hom staande bly.

Gewigtige sake.

Nadat ek die preekopsomming gelees het, wonder ek dadelik wie hierdie duiwel is. So deur die loop van die eeue het sy posbeskrywing verander. Die Ou Testament sien hom as die aanklaer – hy kla mense aan, maar (baie belangrik) met God se toestemming. In Job is hy selfs deel van die goddelike huishouding – of ten minste was daar diplomatieke bande tussen die twee huise. (Mens wonder nou wanneer hy uit die hemelse woning uitgesmyt is, en hoekom God hom nie al met die slangepisode vir Satan vervies het nie.) In elk geval, Satan in die Ou Testament is ‘n sissie. Dit is in die Nuwe Testament wat dinge begin nasty raak.

In die Nuwe Testament word die Satan prominent met boosheid geassosieer. Sy pos as CEO van die bose magte word beter omskryf. Hy gee vir Jesus ‘n harde tyd en begin saam met sy trawante in mense inwoon. Ek wonder hoekom hy in die Nuwe Testamentiese tydvak so nasty begin raak het? Ek vermoed hy het nie Jesus se onverwagse besoek waardeer nie. (Dit is natuurlik ‘n ander saak of Jesus die hel of die doderyk besoek het.) Maak nie saak nie, diplomatieke betrekkinge word opgeskort in die Nuwe Testament.

Soos die tyd aanstap, raak Satan moeiliker en besiger. Die mense gaan ophol met Satan. Die evangelie van Nikodemus beskryf hoe Satan onsuksesvol weerstand gebied het toe Jesus in Hades arriveer. Hy word vasgebind en mense word bevry. Die evangelie van Bartholomeus vertel hoe Satan gedog het dat Jesus net ‘n profeet was. Imagine, die moerse verrassing wat Satan daar in Hades gekry het. Dit was toe nie Moses nie. Ireneus beskryf hoe Jesus Satan se huis deurmekaar gekrap het. Dit is dus te verstane dat Satan nie gelukkig was nie. In ‘n preek wat aan Epifanius toegedig word, word Jesus se oorwinning heel kleurvol beskryf:

Op hierdie dag het Hy ‘n einde gebring aan rituele vir afgode en danse vir wilde diere;
op hierdie dag het Hy die mag van alle opponente omvergewerp;
op hierdie dag het Hy afgodsfeeste en demoniese feesvieringe stopgesit;
op hierdie dag het Hy die walms van offerbloed en offerandes laat verdamp;
op hierdie dag het Hy die dwaling van goddeloosheid tot ‘n val gebring;
op hierdie dag het Hy die heerskappy van die dwingeland en die venyn van die dood geknak;
op hierdie dag het Hy sowel offerandes as nuwemaansfeeste beëindig;
op hierdie dag het Hy nuwe reëls en wette vir die skepping neergelê;
op hierdie dag het Hy ‘n einde gebring aan die Pasga van die wet en van die Jode;
op hierdie dag het Hy elke model, skaduwee en profesie vervul.

Waarmee hou Satan hom besig in die tyd van die vroeë kerk, noudat hy so aan bande gelê is? Tertullianus beweer Satan is verantwoordelik dat mense afgode maak en ongeduldig raak. Hy sit agter die vervolgings. Hy verblind ongelowiges dat hulle nie die waarheid sien nie. Hy verlei Christenvroue dat hulle aan allerlei slegte heidense rituele deelneem. Hy probeer mense oorreed dat jong maagde nie hulle gesigte moet versluier nie. Cyprianus sien nou raak dat die duiwel al vir 6,000 jaar so aan die gang is. Ek weet net nie of die ou Israeliete dit geweet het nie. Maar hulle was eenvoudig, laat ons nie vergeet nie.

In die middeleeue raak Satan militanter. Hy baljaar nou so erg op die aarde dat vrouens verbrand moet word om die boosheid teen te werk. Hy kry horings en ‘n bok se boude met ‘n vurkstert. Vandag sal ons natuurlik beweer die mense was bygelowig om hom so te sien. Heilige water en kruise help om die duiwel af te weer – nie knoffel nie, dit is vir vampiere. Satan het Evil, Inc. nou goed gevestig met divisies versprei oor al die kontinente, en belange in alle menslike aktiwiteite.

Vandag is hy veral bedrywig. Waarmee is hy besig? Wel, ek laat die preek verduidelik:

Omdat die duiwel met listige aanslae teen die kerk besig is. Listig soos by Eva wat verlei word om van die verbode vrug in die tuin van Eden te eet. Nie trompop met ‘n keuse tussen lewe en dood nie, maar met fyn woordspeling om twyfel te saai. Vandag het ons die aanslae van die bose in leuentaal oor die Bybel, verdraaiing van die waarheid van die Woord, bevraagtekening van die gesag van die Bybel oor etiese sake (huwelik, seksualiteit, doodstraf), maar ook oor wie Jesus werklik was. Die aanslag van die duiwel hou nooit op nie.

Ek vermoed die duiwel is teen die doodstraf, weens aanbouings in die hel. Soos die tyd aanstap, word die mense wat die hemel gaan sien al hoe minder. Selfs Satan behoort verbaas te wees. Die hemel fokus nou op ‘n niche mark: diegene wat wit, konserwatiewe waardes aanhang.

(Sug.) Laat ek liewers hier ophou. Ek raak sommer depressief. Hoe is dit móóntlik dat mense in 2007 nog aan sulke bygelowe kan vasklou? Hoe is dit móóntlik dat iemand nog die volgende van ‘n kansel kan verkondig:

Allerlei truuks van sielkundiges, of raad van motivering sprekers, wat jou bewus wil maak van jou innerlike kragte waarmee jy die wêreld kan oorwin, is soos ‘n kettie teen ‘n vegvliegtuig.

Dit is onverantwoordelik. Dit is gevaarlik. Dryf uit ‘n demoon; bid ‘n persoon reg; dan is die veld weer vrolik. Waar hou die duiwel se invloed op en begin menslike verantwoordelikheid? Is daar ‘n epilepsie-demoon? Dit is darem baie gerieflik om jou foute op ‘n bo-natuurlike krag te blameer en mense met ‘n heilige vrees aan die bewe te kry. Weer sien ek hoe godsdiens op vrees gebou word en daardeur lewend gehou word. ‘n Mens kan net nie altyd sien waarvoor jy moet bang wees nie. Watter ander boosheid is daar in die wêreld, behalwe die boosheid in die mens se hart? Dit is juis wanneer ‘n mens jou eie vermoë tot boosheid konfronteer wat vordering moontlik raak.

Geestelike wapenrusting? Heilige water en kruise? Dywils wat rondvlieg en mense beset? Horings en bokboude? Weerwolwe?

Wat ‘n klomp strooi.

Advertisements

Written by George Maru

25 Februarie 2007 at 18:43

Posted in godsdiens

Tagged with

One Response

Subscribe to comments with RSS.

  1. Die duiwel is maar, my wil (m.a.w. die wil van die mens), wat veroorsaak, dat ek dade van ongeregtigheid doen. Die wil van mens, soek net sy eie belang. Kyk bevoorbeeld na korupsie, wat ‘n mens bevoordeel, tot nadeel van ander.

    Hans Matthysen

    18 Mei 2007 at 21:10


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: