riviersonderend

Wat is die teenoorgestelde van geloof?

with 9 comments

Alleman stel die vraag hier en verwys spesifiek na Mhambi se blog wat wonder of die teenoorgestelde van geloof nie dalk sinisme is nie.

Ek wonder gewoonlik eers wat iemand met geloof bedoel, omdat mens dikwels uiteenlopende antwoorde op die vraag kry. Ek sou dit eenvoudig sien as die erkenning dat lewe inherent ‘n doel het, soos bepaal deur ‘n transendente krag wat sommige mense God noem. In geloof is dit moontlik om in die een of ander vorm van ‘n verhouding met God te tree.

Ek dink dat die idee dat ongelowiges sinies is, redelik algemeen voorkom. Dit is seker deels toe te skryf aan ongelowiges se skeptiese aard. Mens kry ‘n negatiewe skeptisisme en ‘n positiewe skeptisisme. Dit is veral die negatiewe skeptisisme wat maklik met sinisme verwar word. Tog vind jy sinisme nie net by ongelowiges nie. Inteendeel.

Ironies genoeg, sien ek ‘n mate van sinisme in geloof. Dikwels word mens gekonfronteer met gelowiges wat hierdie wêreld as boos, sleg en verlore ervaar. Hulle sien eerder met groot verwagting uit na ‘n eendag, wanneer hulle vry van hulle aardse lot sal wees. Die idee dat hierdie lewe bloot ‘n kleedrepetisie is vir die hoofvertoning relativeer die skoonheid en betekenis van hierdie lewe – ‘n baie siniese uitkyk op die lewe. Maar dit daar gelaat.

Ek weet nie of daar net een antwoord op die vraag is nie. Sou my definisie van geloof korrek wees, hang die vraag in wese saam met waarin sien jy die sin en betekenis van die lewe. Kan jy dit buite geloof vind? My antwoord is ‘n eenvoudige “ja”. Maar dit beteken ook dat die antwoord subjektief is.

Persoonlik vind ek dat spiritualiteit baie ryk en singewend kan wees. Maar dan ‘n spiritualiteit gegrond in die aardse, losgemaak van enige godsdiens. Ek sou spiritualiteit dan sien as ‘n reis op soek na waarheid en kennis, sonder die luuksheid van netjies verpakte antwoorde. Of dalk nie. John Horgan, ‘n wetenskapsjoernalis, skryf in sy boek Rational Mysticism:

Gradually, I came to the conclusion that science can take us only so far in our quest for understanding. Science will not reveal “the mind of God,” as the British physicist (and atheist) Stephen Hawking once promised. Science will never give us The Answer, a theory powerful enough to dispel all mystery from the universe forever.

Dalk is hierdie spiritualiteit waarvan ek praat, se doel om jouself uiteindelik te versoen met die wete dat jy onkundig gaan sterf. Hoe dit ookal sy, geloof is onnodige bagasie vir die reis.

Advertisements

Written by George Maru

22 Februarie 2007 at 8:02

Posted in spiritualiteit

9 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. “die idee dat ongelowiges sinies is” – ek dink nie dis noodwendig so vir die individu nie, en jou antwoord is baie gerig op daardie persoonlike vlak.
    Dit is ook nie ‘n teoretiese idee nie, maar iets wat onmoontlik is om mis te kyk as jy gelowiges (Afrikane, Perse, Arabiere, Amerikaners ens) met ongelowiges (Europeers) vergelyk.
    So my vraag is eintlik oor hoe ‘n samelewing verander – miskien kan jy iets sê oor daardie aspek.

    alleman

    22 Februarie 2007 at 10:20

  2. Ek bietjie ontevrede met my vorige kommentaar. Jou antwoord is baie interessant, veral die idee dat gelowiges soms voel dat hulle net met ‘n kleedrepetisie besig is. En my kommentaar lyk nou vir my half onvriendelik – eintlik was dit in haas geskryf.
    Alain de Botton beskryf in sy boek ‘Status Anxiety’ hoe diegene in die onderste helfte van die samelewing ook geestelik ly vandag. (In teenstelling met die tyd toe armes geloof en Jesus se woorde gehad het).
    Ekself is seker maar te binêr – het direk van tradisionele Christen na ateïs oorgeslaan, en is nie in staat om iets tussenin te sien nie.
    Vir my lyk dinge soos liberale teologie (as ek reg verstaan wat dit is, want ek stel nie noodwendig belang nie) na niks meer as die kerk se doodsnikke of die teoloog se poging om sy pos te behou nie. En woorde soos spiritualiteit – daar is vir my geen pad om te volg om dit te bereik nie.

    Maar om terug te keer na die samelewing – diegene in Britanje wat nie ‘n vervullende werk het, of mooi, jonk of interessant is nie, het werklik absoluut niks – nie eers waardigheid of ‘n gemeenskap wat enigsins in hul belang stel nie. In teenstelling met bv gelowige Afrikane wat hul (groter) armoede met soveel waardigheid en blymoed aanvaar.

    Ek het nou al meermale gelees van ‘n oumens wat sterf en wie se lyk eers na weke of maande in die woonstel ontdek word.

    Ek het nou die dag ‘n Engelse predikant hoor sê dat Britanje is besig om eeue se sosiale kapitaal wat deur die Christelike kerk opgebou is, stadig maar seker op te gebruik. Daar is niks wat daardie kaptaal nou aanvul nie.

    alleman

    23 Februarie 2007 at 1:48

  3. Ek wil eers meer dink oor wat jy geskryf het – sal later na jou terugkom.

    George Maru

    23 Februarie 2007 at 11:18

  4. Ek is nie altyd seker oor wat ‘n ateïs is nie. Dit word dikwels gebruik ten opsigte van ‘n teïstiese God. Sommige gelowe, soos Boeddhisme, word deur party mense as ateïsties gesien. Dikwels word verstaan dat ateïstme ‘n reduksionistiese, meganistiese werklikheidsbeskouing insluit. Dit bepaal seker die mate waarin ‘n mens bereid is om te soek en waar ‘n mens sal soek na insig oor sin/betekenis ens.

    Daarom wil ek nie spiritualiteit en godsdiens koppel nie. Ek dink ook nie God hoef te feature in spiritualiteit in. Maar nou ja, dit hang seker dan van definisies af – ek is ook gemaklik om dit iets anders te noem.

    Ek weet nie of ek die liberale teologie so lekker verstaan nie. Ek sal ook nie so haastig wees om dit af te maak as die doodsnikke van die kerk nie. Of dalk ja, die kerk – ek sien nie ‘n rooskleurige toekoms vir die kerk nie. Maar ek twyfel of mense se spirituele behoeftes (om te wil verstaan en betekenis te vind) sal weggaan. Dalk sal dit net meer gesofistikeerd raak.

    Ek dink ook die liberale teologie het ‘n paar vrae wat hulle vir hulself moet uitklaar. Dit is Tillich wat praat van “the ground of being”, “God beyond God”, en stellings maak soos “God does not exist. He is being itself beyond essence and existence. Therefore to argue that God exists is to deny him.” Ek dink David Hume se vraag vir mistici (en ek wil byvoeg moderne teoloë soos Tillich, bly relevant: “… how do you Mystics, who maintain the absolute incomprehensibility of the Deity, differ from sceptics or atheists who assert that the first cause of All is unknown and unintelligible?” Bly ‘n goeie vraag.

    Daarom dink ek daar is meer gemeenskaplike gronde tussen ateïste en moderne teoloë as wat baie dalk wil toegee. Ek dink ook nie dit is noodwendig sleg nie. Die groter verskil lê dalk in die betekenis van die lewe. Is dit blote toeval, en ‘n mens moet sin vind in die lewe soos jy goeddink, omdat die heelal in wese geen sin het nie? Of is daar die een of ander doel waarheen die heelal op pad is (ek dink nie jy hoef in ‘n teïstiese God te glo vir laasgenoemde standpunt nie). Ek weet nie, alhoewel ek simpatiek staan teenoor lg.

    Ek verstaan wat jy skryf oor die Britte en ander Europeërs, maar ek wonder net of daar nie baie meer komplekse faktore ‘n rol speel nie. Ek sou byvoorbeeld wonder oor die invloed van die verbruikerskultuur, asook die letsels wat die Tweede Wêreldoorlog gelaat het. Vir ‘n begin. As ons van geloof in God afhanklik is om goed te doen en die lewe se volheid te ervaar, dink ek ons het ‘n probleem.

    George Maru

    26 Februarie 2007 at 8:15

  5. Ek dink nog steeds oor jou antwoord, en ek is bly jy het Hume se vraag genoem, want ek het dit nog nie tevore gehoor nie. (En Tillich ook).

    Ek sukkel maar met die idee van spiritualiteit sonder godsdiens – miskien as ek ‘n voorbeeld daarvan kan sien sal ek my kan indink dat daar regtig so iets is en wat dit behels.

    Ek moet my stelling oor doodsnikke kwalifiseer. Dit lyk vir my daar is 2 rigtings waarin die Kerk gaan. Die een (kleiner) groep is rasioneel en liberaal. Hulle bestemming is om net rasioneel en liberaal te wees (sonder godsdiens of kerk). Hulle is tans besig met ‘n voortsetting van ‘n gewoonte, en ‘n gemeenskap, maar hulle dae is getel.
    Die ander groep glo werklik, en is charismaties – trouens, hulle is baie dinamies en lewenskragtig, veral onder arm mense en in die ontwikkelende lande.

    Oor die Britte en ander Europeërs – ek glo jy is reg dat die Wêreldoorloë en verbruikerskultuur ‘n rol speel. Daardie dinge, en die stadige dood van die Kerk in Europa werk alles in op mekaar.

    Ek vind gelowiges (van enige geloof) interessanter en aangenamer as nie-gelowiges.

    alleman

    3 Maart 2007 at 1:42

  6. Ek sal later bietjie skryf oor Pava se idee van spiritualiteit. Dit is basies maar ‘n humanistiese spiritualiteit.

    Jy het seker nog nie met baie fundamentalistiese gelowiges te doen gekry nie 🙂

    George Maru

    4 Maart 2007 at 19:39

  7. Miskien wel. Tel mense wat kwel oor of Liewe Heksie sonde is? Ek dink hulle kwalifiseer, en ek verkies hulle bo jou tipiese Britse verbruiker. Ek ken ook heelwat Moslems.
    Maar jy is reg – anders as jy (neem ek aan) het ek nog nie met die skerp kant van fundamentaliste te doen gekry nie.

    alleman

    5 Maart 2007 at 0:31

  8. […] Ek is gister hierdie vraag gevra, na aanleiding van sekere inskrywings. Alleman het ook al te kenne gegee dat hy maar skepties is oor ‘n spiritualiteit wat lostaan van enige geloof. Is daar plek vir […]

  9. Sinisme, in Bybel se term, blyk een te wees, met ‘n hart van klip en ‘n gelowige, blyk een te wees, met ‘n hart van vlees. Ek dink tog, almal glo in ‘n Krag verhewe bo die mens, wat alle organisme lewe gee. Ek noem die Krag, God en ‘n ander ou noem die Krag, Alha ens. en daar is hulle, wat ‘n naam vermy en tog het hulle ‘n geloof. Hulle wil of kan dit nie besef nie, omdat hulle dit nie kan verklaar nie.
    “n Moslem noem ander gelowe, of nie gelowe vir arguments halwe, infidils (non believers), dus is almal gelowiges, alhoewel nie in dieselfde “naam” wat elke groep gegee het of nie gegee het nie.
    Is daar dus ‘n teenoorgestelde van geloof?

    Hans Matthysen

    23 Mei 2007 at 21:39


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: