riviersonderend

Los Jesus liewers by die kerk

with 8 comments

Ek wonder altyd oor Christene is behoefte om hul geloof met ander te deel. Die maklike antwoord sal sekerlik wees om te beweer dat dit uit ‘n besorgdheid gedoen word vir siele wat verlore gaan. ‘n Verregaande gedagte.

Vandag in Preekbrandwag, skryf ek oor ‘n preek van ds. Dirkie van der Spuy, gelewer 28 Januarie 2007, met die titel “Los jy Jesus by die kerk?” Die preek vra gelowiges om uit te reik na ander en ‘n invloed op hulle lewens te hê. Moenie skaam wees nie, al dink die wêreld wat. Moenie jou lig onder die emmer wegsteek nie. Moenie jou Christelikheid oorboord gooi as jy in die wêreld kom nie. Moenie bang wees jy gee aanstoot nie of dat jy teenkanting sal kry nie.

Ek wil pleit dat Christene liefs tog vir Jesus by die kerk sal los, of dan ten minste in soverre dit die wêreld aangaan. Vat hom gerus saam huis toe, of op vakansie as jy wil, maar los die sendingwerk by die kerk.

Dit is egter nie wat ds. van der Spuy in gedagte het nie:

Jy hoef nie voor al die mense te gaan staan en preek nie, maar daar sit ‘n ou by jou in die huis en iemand in die kantoor, met wie jy kan praat. En jy kan, julle het al gepraat, oor allerhande ander goed. Hoekom nie oor die belangrikste nie, die evangelie nie?

Ek is van mening dat die wêreld in 2007 nie belangstel nie. Ontwikkelinge op wetenskaplike en sosio-ekonomiese gebied, asook menslike bewussyn, maak die kerk se evangelie-boodskap irrelevant. In baie opsigte is dit juis die kerk met sy boodskap wat sukkel om aan te pas in die 21ste eeu. Om mense 400 jaar die geskiedenis in te wil neem, is eenvoudig nie vandag ‘n opsie nie. Hou ook in gedagte dat meeste mense wat aan die ontvangkant van die evangelie staan, dikwels uit daardie agtergrond kom. Hulle is bekend met die boodskap.

Wat presies is die boodskap? Neem Jesus as jou verlosser en saligmaker aan en jy gaan nie hel toe nie. ‘n Baie effektiewe boodskap, sou die hel bestaan het. Maar dit is nie al nie. Jy kry nie net vir Jesus nie. Saam met die evangelie kom ‘n hele pakket sosiaal-konserwatiewe waardes en ‘n baie definitiewe politieke agenda. Die stapelvoedsel van fundamentalistiese moraliteit maak almal hulle verskyning: optredes in liefdesverhoudings buite die huwelik (m.a.w. geen seks), optrede by partytjies (m.a.w. geen alkohol of min), moenie vloek nie, en moenie vuil grappe vertel nie. So kan ‘n mens jou eie toevoegings tot die lysie maak. Die aanvaarding van die evangelie beteken ook dat jy jouself vir ‘n sekere politieke agenda beywer, bv. die ontneming van gay mense se gelyke regte.

Dit word moeiliker in 2007 om hierdie pakket te verkoop. Toenemend raak mense antagonisties teenoor hierdie boodskap. Ds. van der Spuy maak melding van teenkanting en bespotting wat Christene kan verwag. Hier word die arme wêreld met ‘n dilemma gekonfronteer. Daar is geen manier om op ‘n rasionele vlak deur te dring tot die ywerige bekeringsbende nie. Enige vorm van spot en teenkanting is vir die Christen ‘n teken van die opregtheid en waarheid van sy/haar geloof. Daar staan tog in die Bybel dat jy vir Christus sal ly. Bonuspunte vir die hemel. Enige iets wat die ongelowige mag sê, word as bevestiging beskou vir die Christen se geloof.

In die proses luister die boksembende glád nie. Daar is ‘n Sielkunde 101 verklaring vir elke situasie:
1. Jy is soekend na God, jy weet dit nog net nie.
2. Jy het seergekry, en daarom luister jy nie.
3. Jy wil nie breek met jou sonde nie.
4. Jy het jou hart verhard vir die evangelie.
5. Die ernstige gevalle is sommer 1,2,3 en 4.

Daar is nog ‘n paar voorbeelde. Om in so ‘n gesprek betrokke te raak met ‘n Christen, is sieldodend frustrerend. Sê “nee” vir die gesprek, en hulle ly vir hulle geloof en het iets om te rapporteer by die volgende omgeegroep byeenkoms. Sê “ja” en maak jouself gereed vir ‘n monoloog met analise op analise oor jou “toestand”.

Christene is bederf. Baie bederf. Hulle leef in ‘n wêreld waar hulle net aanneem hulle kan hulle idees in enige een se keel afdruk. Dikwels is die uitruil van idees eensydig. Ds. van der Spuy vertel goedkeurend van ‘n insident in ‘n Pick ‘n Pay:

En op ‘n stadium staan daar ‘n klomp mense, ek weet nou nie of dit by die till was nie, maar daar staan klomp mense rondom hulle, sy sê daardie outjie begin skree, sy sê nie praat saggies nie, hy skree soos ‘n ou wat preek. “My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen”! En almal staan doodstil en wonder watter oom het dit gesê. Ek kan die koerantopskrifte lees, Pick & Pay-trollie word preekstoel vir tweejarige! Is dit nie ‘n wonderlike getuienis nie?

Ek wonder hoe sal Christene reageer as ‘n tweejarige in die Pick ‘n Pay begin skree dat God nie bestaan nie, of dat Allah groot is, of dat Jesus net ‘n mens was en nie uit die dood opgestaan het nie. Behalwe dat die ouers waarskynlik by kinderwelsyn aangegee sal word, kan ek die geskok-verontwaardigde gesiggies sien en die mondhoeke wat so begin trek van afkeur.

Jammer. Die verlossingspakket is nie aantreklik nie. Godsdiens is by uitstek daarop gerig om op mense se vrese te speel. Daarom is dit so suksesvol. Dit bied ‘n oplossing om mense se vrese te besweer, vrese wat godsdiens in die eerste plek geskep het. Stories oor waarheen jy gaan as jy dood is, bevestig dit maar net weer.

Mense wat nie meer belangstel om hul vrese te voed nie, luister nie so graag nie. As hulle nou net daarvoor gerespekteer kan word.

Advertisements

Written by George Maru

18 Februarie 2007 at 11:41

Posted in godsdiens

Tagged with

8 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Hi George , flippen nice pos hier , ek is mal daaroor om jou blogstukke te lees. Natuurlik stem ek nie saam met alles wat jy se nie , maar dit is die great ding daarvan. Ek wat myself ‘n christen noem deur my wedergeboorte neem jou punte tot hart. As gevolg van jou kan ek myself en ander christene help om die pakket aan te pas. Hoop nie jy gee om nie , maar ek print jou stuk om met so paar mense in die kerk te deel. Groete Coenraad

    Coenraad Steenkamp

    18 Februarie 2007 at 16:03

  2. Persoonlik hou ek nogal daarvan om met mense oor goeters te gesels wat ek dink, insluitende geestelike stuff. Ook omdat ek regtig belangstel om te hoor hoe ander mense sin maak uit die werklikheid, selfs wanneer hul idees vir my weird klink. So ek gesels graag met mense oor sulke goed, maar ek stop sodra dit lyk of dit ongemaklik kan wees.
    Wat ek nie van hou nie is as mense begin prekerig raak – soos wanneer hulle slegs ‘n gesprek aanknoop om jou te bekeer, pleks daarvan dat hulle regtig in jou mening belangstel. Mense moet gesels solank hulle bereid is om by mekaar te leer, andersins stem ek saam dat hulle eerder moet stilbly.

    Johannes

    18 Februarie 2007 at 17:43

  3. Coenraad, jy is welkom. Vir my gaan dit oor dialoog. Ek weet net nie so mooi oor die pakket nie. Hoekom sal mens nou van pakket wil verander as jy iets het wat vir jou werk?

    Johannes, ek stem min of meer heeltemal met jou saam.

    George Maru

    19 Februarie 2007 at 7:42

  4. Hi George. Nogals ‘n lekker maandag. Beter as al die sover in die jaar , miskien is dit omdat ek donderdag op vakansie gaan 🙂 Hehe Elkgeval , wel ek dink 95% van wat die kerk se benadering is tot verlore siele werk nie. Hulle dink dit werk. Maar dit werk slegs vir so maand of 2 tot die mense weer terug val tot die ou gewoontes. Hoop jy het ‘n great dag. Groete
    Coenraad

    Coenraad Steenkamp

    19 Februarie 2007 at 11:16

  5. […] Godsdiens, Preekbrandwag. trackback Na aanleiding van kommentaar wat ek via epos ontvang het oor Los Jesus liewers by die kerk, dink ek daar is ‘n paar misverstande wat ek graag […]

  6. Ek het ook al onder sulke bekeeraars deurgeloop – nogal toe ek nog self geglo het. Die ou het nie eers voor die tyd navraag gedoen oor of ek glo of nie.

    Nietemin, ek het ‘n paar opmerkings:

    1. ‘optredes in liefdesverhoudings buite die huwelik’: ek dink nie die kerk was net dom hier nie. Ek dink dit het eers met die koms van oordentlike voorbehoeding, en groter algemene welvaart in die Weste, moontlik geword om seks te hê buite die huwelik sonder dat daar ‘n onreg teen die meisie plaasvind. Dit is nie so lank gelede wat hierdie verandering gekom het nie, en ek reken die kerk pas wel op sy stadige manier daarby aan.

    2. Wat is die teenoorgestelde van geloof?

    Miskien kan jy iets skryf oor wat ‘Mhambi’ daar sê.

    alleman

    20 Februarie 2007 at 15:05

  7. Alleman, interessante vraag. Ek sal later reageer daarop, met ‘n nuwe inskrywing.

    George Maru

    20 Februarie 2007 at 17:51

  8. […] 22 February 2007 Posted by George Maru in Spiritualiteit. trackback Alleman stel die vraag hier en verwys spesifiek na Mhambi se blog wat wonder of die teenoorgestelde van geloof nie dalk sinisme […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: