riviersonderend

Die weg en die waarheid

with one comment

‘n Ruk gelede het ek kommentaar gelewer op ‘n preek van Ds. Elza Meyer. Ek het nog een of twee preke gelees en was verstom oor wat verkondig word. Daarom het ek besluit om so af en toe kommentaar te lewer op preke. Die aanbreek van die inligtingsera het die tydperk van die monoloog afgesluit. Miskien kan dit help om dialoog te stimuleer.

Die wêreld is aan die verander. In die verlede het mense nooit die kans gekry om predikers se woorde te bevraagteken nie. Die aard van ‘n preek was eenrigtingkommunikasie. Danksy die internet hoef dit nie meer die geval te wees nie.

So, in die eerste offisiële aflewering van Preekbrandwag, het ek besluit om na Ds. Hendrik Saayman se preek “Ek is die weg” te kyk.

Waaroor gaan die preek? Jesus is die enigste weg na God. Glo dit nie, en dit is tickets vir jou. Daarom is sendingwerk belangrik. Sendelinge moet weet dat God mense maak om hom te soek, al ontken mense dit. Neem nou maar die Grieke en Inkas as voorbeeld. Hulle het Jesus aanbid, al het hulle dit nie geweet nie. Gelowiges word dus geroep om ‘n “toergids” te wees wat heidene op die pad na saligheid begelei.

Ek het die volgende probleme met Saayman se preek. Hy beweer:

Maar, daar is net een manier om daar te kom. Alhoewel dit vir almal is, is daar net een manier hoedat jy daar kan kom. En dit is deur Jesus Christus.

Volgens die kerk se belydenisskrifte is dit nie vir almal nie. Die kerk se uitverkiesingsleer is tog duidelik. Ek haal aan uit die Dortse Leerreëls:

10. Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as ‘n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere bepaalde mense uit die hele menigte van sondaars as sy eiendom aangeneem het.

Dit is nie vir almal nie, nie volgens Saayman se kerk se leerstellings nie. Net sommige mense gaan dit maak. Dit lyk my die kerk maak nie meer erns met sy eie belydenisskrifte nie. Tog, wanneer daar ‘n oproep is dat Belhar bygevoeg word as belydenisskrif, skree mense blou moord. As dit gerieflik is, dan is die belydenisskrifte belangrik.

Dit bring my by die volgende punt: jy kry nie net vir Jesus nie, maar ‘n hele sosio-politieke lewensbeskouing as deel van die verlossingspakket.

Saayman vra dat gelowiges in die wêreld moet ingaan en mense van Jesus en God vertel. Maar daarmee saam kom ‘n hele pakket wat ‘n sekere werklikheidsbeskouing insluit. Hierdie beeld van die werklikheid kleur gelowiges se skrifverstaan. Dan glo hulle dat die skrif hulle werklikheid kleur. Dit is andersom. Die kerk se agenda word Jesus se agenda gemaak. Dit is gerieflik om woorde aan ‘n godheid toe te dig, want gode praat nie terug in die openbaar vir almal om te hoor nie.

Mense sien dit raak en is skepties. Saayman weet dit ook as hy opmerk:

Vandag word ons as Christene kwalik geneem as ons sê dat daar is net een weg. As ons sê wat hier in Joh 14 staan, dat ons glo dit is waar, dat Jesus alleen is die weg, die waarheid en die lewe. Ons word eng genoem, ons word genoem ons is eksklusief, ons is onverdraagsaam, ons is arrogant, hoe kan ons sê dat ons alleen reg is, wat van al die ander godsdienste van die wêreld.

Natuurlik is die Christendom eksklusief. Lees weer die Dortse Leerreëls! Natuurlik is die kerk onverdraagsaam. Kyk na die geskiedenis. As God jóú gaan straf, omdat die wêreld nie volgens sy wil leef nie, behoort jy nie dan onverdraagsaam te wees nie? Arrogant? Is dit nie arrogant om te vra dat iemand goedgelowig jóú moet vertrou, sonder bewyse, net omdat jý glo jy is reg nie? Om te beweer dat jý weet wat in iemand anders se hart aangaan? Om ‘n ander persoon te reduseer tot ‘n soeker na jóú god?

Het Jesus (en Boeddha ens.) ons kom leer om hulle te volg, of om ons te leer dat ons onsself kán volg?

Advertisements

Written by George Maru

11 Februarie 2007 at 17:48

Posted in godsdiens

Tagged with

One Response

Subscribe to comments with RSS.

  1. One should remember to interpret these sermons within their context. People will always judge others’ work (which is always the easiest!). I pity some people’s blindness.

    eyes-only

    26 Julie 2007 at 20:30


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: