riviersonderend

Violeta Parra era chilena

with 3 comments

violetaparra.jpgEk het in CD Wherehouse ingestap, vasbeslote om ‘n CD van ‘n Argentynse kunstenaar in die hande te kry. Ek het geweet ek soek na ‘n vrou se musiek. Maar ek het nie geweet wat haar naam was nie. Dit het nie saak gemaak nie, sy het vir my gewag in die shop. Toe my oog die Best Of-CD vang, het ek nie gehuiwer nie. Ja, moet sy wees.

Mercedes Sosa het my volkome oorrompel. Toe ek begin luister, was ek verlore. Toe ek Gracias a la vida hoor was ek éérs verlore. Weke lank het ek obsessief na haar musiek geluister. Ek sou ‘n uitstekende gevallestudie vir enige sielkundige wat sy sout werd is, kon wees. My arme vriende, asook diverse lewensvorme, moes dit ontgeld. Háár hoor, mý oor haar hoor. Hoor en luister.

Haar stem vibreer met integriteit, medelye, dankbaarheid en lewe. Jy kan nie na La Negra luister en nie voel nie.In die begin was die woord en die woord het vlerke gekry, toe sy begin sing het. En die woord het gevlieg, hoog bokant die wêreld van Algeria se woude en gestremde kontinente.

Nou nog kry ek bevliegings. Dan wil ek net Mercedes luister. Maar eintlik wil ek nie oor haar skryf nie. Gracias a la vida is geskryf deur Violeta Parra, ‘n Chileense kunstenaar, gebore 1917 in San Carlos. Dit is sy op die foto.

As een van 9 kinders was haar kleintyd soms maar kak. In 1927 verloor haar pa sy werk as onderwyser. Die diktatorskap du jour het geen teenstand of andersdenkende stemme geduld nie. Haar pa gee homself oor aan songs, die kitaar en drank. Hy sterf.

Toe sy 7 was, begin sy kitaar speel en sing. Violeta, haar broers en susters sluit by die sirkus aan. Hulle sing en dans. 1934 gaan sy na Santiago waar haar broer is – die een wat later die mooi woorde oor haar sou skryf.

Sy trou 1938 met ‘n spoorwegwerker. Die huwelik hou 10 jaar. Sy het 2 kinders by hom: Isabel en Angel. Die jaar na haar egskeiding, trou sy met ‘n operasanger en kry ‘n dogter, Cármen Luisa.

In die vroeë 1950s begin sy deur Chile toer en folk songs versamel. Sy commit haarself heeltemal hieraan en glo dat kuns ván die mense, vír die mense moet wees. Sy protesteer teen die omstandighede waarin haar landgenote moet leef.

1954 toer sy oorsee. In Chile sterf haar jongste dogter, Rosita Clara, nog nie ‘n jaar oud nie. Sy blameer haar man, maar vind later uit dat haar dogter aan pneumonia oorlede is.

In die vroeë 1960s raak sy verlief op ‘n Switserse antropoloog met wie sy ‘n onstuimige verhouding aanknoop: hartseer, gelukkig, sad, bly. Hy los haar alleen. In 1966 oorval die depressie haar. Violeta se vriende en familie oorreed haar om op ‘n nasionale toer te gaan om haar op te kikker.

Sy gaan op ‘n toer, genaamd “Chile sing en lag”, tot in die verre, koue suide, Puntas Arenas. Hier oorweldig sy almal met haar stem. Toe sy terugkeer kon haar geliefdes haar omtrent nie herken nie. Sy het gestraal met energie. Sy was weer plooiloos, volgens ooggetuies.

5 Februarie 1967 hou Violeta Parra op om te sing. Vir altyd. Seg haar dogter, Cármen Luisa, later: “Ek was besig om die tent skoon te maak. Dit was rondom sesuur die aand. Toe hoor ek skielik ‘n skoot… Ek het na my ma se slaapkamer gehardloop. Daar het ek haar gekry, gebuk oor haar kitaar, met die pistool nog in haar hand. Ek het met haar gepraat, aan haar geraak, maar sy het nie geantwoord nie. Eers tóé, het ek die bloed uit haar mond sien drup. Ek was geskok en lam. Ek weet nie hoekom nie, maar my eerste reaksie was om die pistool uit haar hand te neem. Toe het ek uitgegaan en hulp gesoek. Binne enkele oomblikke was die tent vol mense, die polisie… ‘n ambulans het haar weggeneem.”

Gracias a la vida
Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my twee sterre vir oë gegee, as ek hulle oopmaak,
kan ek duidelik onderskei swart van wit,
en in die oneindige uitspansel sy sterreryk,
en in die skares die man wat ek liefhet.

Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my klanke en die alfabet gegee,
en daarmee saam woorde wat ek dink en sê,
moeder, vriend, broer, en skynende lig
oor die pad van my geliefde se siel.

Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my krag vir my moeë voete gegee
waarmee ek stap deur stede en modderpoele,
strande en woestyne, berge en valleie,
en na my geliefde se huis, straat en stoep.

Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my ‘n hart gegee wat bewe in sy fondamente,
as ek die vrug van die menslike brein aanskou,
as ek sien hoe ver goed van kwaad is,
as ek in die dieptes van my liefde se helder oë staar.

Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my skaterlag en trane gegee,
waardeur ek vreugde en pyn leer ken het,
die twee elemente van my lied,
dit is my lied, en ook julle almal se lied.

¡Dankie Lewe!

Mercedes se weergawe:

Advertisements

Written by George Maru

16 Januarie 2007 at 9:58

Posted in musiek

Tagged with

3 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Prachtig!!!!

    Annie

    9 Augustus 2007 at 12:25

  2. Annie, dankie!

    George Maru

    10 Augustus 2007 at 9:05

  3. Ja, en nou is die voice of the voiceless stil. Vaya con Dios la Negra. Sal vanaand ‘n kers vir haar lewe brand.

    Nicky

    4 Oktober 2009 at 22:27


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: